Baie min mense op aarde ken nié vandag die embleem en fabrikaatnaam van John Deere nie – en dit sluit miljoene stedelinge in. Maar John Deere, die smid wie se naam in dié fabrikaatnaam verewig is, het in sy lewe nooit eens ’n trekker geken nie, dalk nie eens aan so ’n moontlikheid gedink nie.

Hy het wel daaraan gedink om ’n ploegskaar te maak wat destyds se gietysterskare sou verbeter. Die kleierige, maar vrugbare grond van die Amerikaanse en Kanadese prêries het destyds aangepak aan die eenskaarploeë se skare en baie oponthoude veroorsaak.

Sy oplossing was om ’n ploegskaar uit ’n saaglem van gietstaal te maak. Dit was in 1837, die tyd toe die Voortrekkers al besig was om die binneland van Suider-Afrika binne te trek. Deere se konsep was ’n reusesukses en bestellings vir ploeë met dié nuwe soort skaar het ingestroom.

Tien jaar nadat hy sy onderneming gevestig het, het Deere sy werkswinkel van Vermont sowat 120 km verder na Moline verskuif. Daar was ’n beter mark vir sy ploeg, maar ook waterkrag en riviervervoer. In Moline het hy vir hom ’n fabriek met drie verdiepings opgerig waar sy ploeg – saam met waens, rytuie en ander landbougereedskap – vervaardig is.

Die smid was nou ’n volwaardige fabrikant van plaasgereedskap. In 1876 het die John Deere-fabriek 60 000 ploeë vervaardig, maar omdat dit in die stad Moline was, is van die Moline-ploeg gepraat. Voordat Deere se onderneming in ’n maatskappy omvorm is, is vennootskappe met medewerkers gevestig.

Deere het een so ’n vennootskap laat ontbind omdat die vennoot die bou van ’n spoorlyn teengestaan het – en dit terwyl Deere sy produkte so gou en goed as moontlik by klante wou besorg. Ná Deere se dood in 1886 het sy familie die onderneming voortgesit. Teen 1912 was die moderne John Deere en Kie. reeds gevestig met 11 fabrieke in Amerika en een in Kanada.

In 1926 was John Deere die grootste vervaardiger van staalploeë en die naasgrootste vervaardiger van landboumasjinerie ter wêreld.

Dié John Deere 4020 behoort aan mnr. Willie Ludick van Rouxville in die Vrystaat. Meer as 184 000 van hierdie modelle is tussen 1964 en 1972 gemaak. Op sy dag was dit die gewildste trekker ter wêreld.

Bekendste trekker kom op die toneel

Teen 1912 het John Deere se ingenieurs ’n eie trekker begin ontwikkel, maar hulle kon nooit een maak wat regtig aan hul eie standaarde voldoen nie. Een van die eksperimentele trekkers was die voorwielaangedrewe Dain-trekker op drie wiele, waar die enkele agterwiel net “saamgeloop” het.

’n Trekkerfabrikaat wat reeds op die mark was, het egter die direksie se aandag getrek. John Deere het toe die Waterloo Engine Company in 1918 gekoop met die idee om uiteindelik die tweesilinderenjin van die Waterloo Boy, ’n heel aanvaarbare rooi trekker, in hul eie ontwerp te gebruik.

Hierdie stap het ’n onuitwisbare invloed op die trekkergeskiedenis van die wêreld gehad. In Januarie 1920 was die John Deere-Waterloo Boy in groen-en-geel – nou nog die kenmerkende kleurskema – op die mark. Hoewel dit die begin was van die John Deere-trekker, was dit nie die eerste keer dat die naam op ’n trekker gepryk het nie.

Daarvoor het die “eksperimente” gesorg. Nadat hy ’n gewilde trekker by sy groot reeks masjinerie gevoeg het, en boonop ’n werktuig waarin hy vertroue gehad het, kon die onderneming voortgegaan met sy werk om ’n betroubare, ekonomiese trekker te ontwikkel.

Verkope val

Dit was ’n moeilike tyd om die ontwikkeling van die nuwe trekker voort te sit – hoofsaaklik weens ’n prysoorlog tussen McCormick-Deering en die Ford-maatskappy, met sy Fordson. Dit het ook gelei daartoe dat verkope van die Waterloo Boy van meer as 5 000 eenhede in 1920 tot slegs 79 in 1921 gedaal het.

Trekkerkopers het viersilinderenjins verkies, terwyl John Deere ’n trekker met twee horisontaalwerkende silinders ontwikkel het. Terwyl sy skuld opgehoop het, het John Deere se trekkerafdeling in Waterloo egter op sy ingeslane weg voortgegaan. Hy sou voortgaan met sy tweesilinderenjin tót die kopers van besluit verander.

Teen einde 923 was die John Deere D, die trekker wat die maatskappy as ’n trekkerfabrikant op die wêreldverhoog gevestig het, gereed vir die mark. Die eerste tweesilinderenjin het ’n inhoudsmaat van 7,6 liter gehad en op paraffien geloop. In die volgende 30 jaar is meer as 160 000 eenhede vervaardig.

Aanpassings is gaandeweg aangebring. Die opvallendste was rubber- pleks van staalwiele in 1931 en ’n metaalmasjienkap, die sogenoemde gestileerde weergawe, in 1940. Van die tweesilindertrekkers – met verskillende kraglewering en brandstoftipes – is ongeveer 1 250 000 vervaardig. Dit is in 1960 met die volgende reeks vervang, wat ’n onmiddellike sukses was.

Drie jaar later was John Deere die grootste trekkervervaardiger ter wêreld.

Hennie Richter van Yzerfontein is redakteur van die gereelde nuusbrief van SAVTEK, die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraan-trekker-en-enjinklubs.

Volgende week: Wat was die uiteinde van die wêreld se eerste “onbreekbare” trekker?

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.