Die Rovic Evenflow-sitrusnewelblaser is beskikbaar met ’n vermoë van 2 000 liter of 3 000 liter. ’n Waaier van 940 mm en ’n boordtoring sorg dat spuitmiddels eweredig en doeltreffend in boorde versprei word. Die spuit se ontwerp maak dit een van die gemaklikste spuite om te onderhou. Prys: R223 000 (2 000 liter). Navrae: Rovic Leers, 021 907 1700, 011 396 6200, 033 346 2727.
Die Rovic Leers-kousbalkspuit se watertenk kan 2 000 liter hou en is toegerus met ’n 18 m lange kousbalkspuit. Die spuit is ook toegerus met die ARAG-beheerstelsel wat lug vanuit die kousbalk gebruik om ’n warrel-effek te skep en die spuitmiddel selfs onder die blare van die gewas wat bespuit word, aan te bring. Prys: R600 000. Navrae: Rovic Leers, 021 907 1700, 011 396 6200, 033 346 2727.
Hinomoto SA bied ’n kompakte hoëdrukspuit wat saam met sy 180DT-trekker gebruik kan word om bessies, rankgroentesoorte en sitrus te bespuit. Dit is beskikbaar met ’n tenkkapasiteit van 250 l, 500 l en 1 000 l. Die besonderse indringing van die gifstof tussen die plante is te danke aan die blaasvermoë van die spuitkoppe. Dit maak die spuit bekostigbaar aangesien ’n waaier onnodig is en dieselfde effek van die spuitkrag teen ’n laer kilowattbehoefte verkry word. Prys: Vanaf R40 000. Navrae: Mnr. Paul van Staden, e-pos: paul@hinomoto.co.za; 082 379 0290.
John Deere se splinternuwe selfaangedrewe M4040 het ’n turbo-aangejaagde inlyn-dieselenjin van 6,8 liter met kraglewering van 205 kW. Die kajuit bied gemak, veiligheid en die jongste tegnologie uit John Deere se stal. Twee spuitstuk-spasiëringsopsies is beskikbaar: 38 cm-middelpuntig (on centre) en 51 cm-uitmiddelpuntig (off centre). Die spuit het John Deere se bekende en bewese Row Command-stelsel en telemetrie. Navrae: John Deere SA, 011 437 2600.
Die Brasiliaanse Grazmec-werktuig vir onkruidbekamping in grasweidings het ’n trekkragbehoefte van minstens 55 kW. Die gif in die tenk van 200 liter vloei deur die pypies op die hoogte van die onkruid en benat dit sonder om die weiding te benadeel. Prys: R98 900. Navrae: Mnr. Anton Botes, 082 959 0044.
Agritech Equipment van Kaapstad het vanjaar die eerste keer sy verskeidenheid werktuie vir beginners op Nampo uitgestal. Agritech is onder meer die handelaar van die Turkse Agrose-boord- en -balkspuite. Die tenkvermoë van die boordspuite wissel van 600 liter tot 1 000 liter en die waaier se deursnee van 600 mm tot 750 mm. Die balkspuite se tenkvermoë wissel van 400 liter tot 1 000 liter en die balklengte van 6 m tot 12 m. TeeJet-spuitstukke word gebruik. Prys: R107 015 (boordspuit); R23 000 tot R40 250 (driepuntbalkspuite). Navrae: Mnre. Nakkie Weideman, 083 303 1161; Adriaan Köhne, 087 627 3459.
Die Kuhn Lexis 3000 verteenwoordig die nuutste generasie van ’n spuit wat al ’n naamsverandering of twee ondergaan het, maar geensins sy betroubaarheid prysgegee het nie. Die spuit het ’n waterhouvermoë van 3 000 liter en is toegerus met ’n unieke aluminiumbalk. Die ligter balk is sterker en breek nie maklik nie. Die Equilibra- meganiese stelsel kan die balk se hoogte outomaties beheer. Prys: R800 000. Navrae: Rovic Leers, 021 907 1700, 011 396 6200, 033 346 2727.
Die Case IH SPX 3240 Patriot- selfaangedrewe spuit het ’n 3000 liter tenk van vlekvrye staal en het hidrostatiese vierwielaandrywing en wielglipbeheer. Die wielbasisbreedte is ook vanuit die kajuit verstelbaar vanaf 3 meter tot 4 meter. DIe maksimum spoed is 48 km/uur. Die spuit is ook toegerus met Case IH se AimCommand-stelsel wat die operateur toelaat om die druppelgrootte uit die kajuit te beheer. Prys: R3 500 000. Navrae: CASE IH, 011 922 2000.
Die nuwe New Holland SP 310 F- selfaangedrewe spuit is nou toegerus met FPT-enjins, wat deel uitmaak van CNH, die moedermaatskappy wat onder meer New Holland as filiaal het. ’n Nuwe suspensie op die spuit hou die aandrywing egalig en stabiliseer die spuitbalk vir doeltreffende spuitwerk. Die IntelliSpray-stelsel wat op die spuit aangebring is, beteken ook dat die SP 310 F spuitwerk moeiteloos maak en geen oorvleueling toelaat nie. Dit het ’n splinternuwe kajuit. Prys: R3 967 000. Navrae: New Holland SA, 011 922 2300.
Die Challenger RoGator- self- aangedrewe spuit word gebou op ’n unieke enkelstaaf-onder- stel wat toegerus is met hi- drouliese hoogteverstelling wat die bestuurder toelaat om die spuit 45 cm vanaf die standaardwerkhoogte van 75 cm tot 1,2 m te lig. Die onafhanklike veringstelsel op ál vier wiele bied uitstekende stabiliteit en gemak, terwyl ’n hidrostatiese pomp soortgelyke werking bied as ’n wisselspoedratkas om die spuit tot 50 km/h aan te dryf, sonder dat ratte verwissel hoef te word. Prys: By navraag. Navrae: BHBW, 011 898 0000.
Dié selfaangedrewe hoogloopspuit, die Jacto Uniport 4530, het ’n tenk van 4 500 liter en ’n opvoubare spuitbalk van 36 meter. Dit word deur Northmec bemark, wat dit uit Brasilië invoer. Die spuitkoppe kan individueel aan- of afgeskakel word. Die spuit kan met ál vier wiele stuur. Prys: R4,255 miljoen. Navrae: 011 922 2000.
- Charl van Rooyen, Gerrit Bezuidenhout en Johan Norval