Die plukker, wat volgens hoopvolle boere die potensiaal het om die Suid-Afrikaanse katoenbedryf op sy kop te keer, het ses plukkereenhede, toegerus met elektroniese hoogtesensors wat die plukkertafel outomaties volgens die land se kontoere oplig of laat sak.

Die plukkereenhede kan aangepas word vir verskillende rywydtes – van 76 cm tot 1 m. Die katoenplukker se werkspoed is ’n aks meer as 7 km/h. Na gelang van die toestande kan die werktuig sowat 4 ha katoen per uur pluk.

Boonop kan die werktuig die geplukte katoen baal en toedraai, sonder dat stilgehou of die katoen eers in ’n spesiale wa gelaai hoef te word. Die baler lewer bale van naastenby 2,5 ton, waarop ’n RFID-plakker aangebring word.

Die stelsel versamel inligting oor 27 van die belangrikste datapunte om naspeurbaarheid van elke katoenbaal te vergemaklik namate dit deur die pluisingsproses beweeg. Dit laat die pluismeule op sy beurt toe om die bale se ID’s na te gaan en lewering akkuuraat te bepaal.

Suid-Afrikaanse boere sal dalk swaar sluk aan die ou grote se prys (R10,925 miljoen kom uit niemand se gatsak nie), maar omdat 1 000 ha katoen per jaar gepluk moet word om die uitgawe te regverdig, skep dit ’n geleentheid vir boere om saam te span of vir kontrakteurs om ’n splinternuwe besigheid te begin.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.