Cedar Solar in Johannesburg het ’n reeks sonkragpompe vertoon. Op die foto is ’n gelykstroompomp met sonpanele. Dit pomp tot 3 000 liter per uur. Groter pompe is beskikbaar wat tot 70 000 liter water per uur kan lewer. Die pompe het ’n hoë kophoogte vir waterlewering van tot 300 meter. Prys: R16 675, wat twee sonpanele van 244 Watt elk en ’n beheerkas insluit, maar die elektriese kabel en raamwerk uitsluit. NAVRAE: Mnr. John Dangoumou, sel 072 661 5360.
Die grootste tapkar in die Suidelike Halfrond, wat deur BPI Implemente van Bothaville ontwerp en gebou is, het groot belangstelling ontlok. Dit kan 34 ton graan dra en weeg 9,5 ton. Mnr. Gert Visser (foto), wat die werktuig ontwerp het, beoog om ook ’n tapkar van 45 ton te bou omdat daar ’n behoefte vir sulke groot werktuie by groot boerderye is. Hierdie tapkar ontlaai teen 10 ton per minuut en verg ’n trekker van minstens 160 kW. Dit het ’n draaisirkel van slegs 12,5 m. Die flotteerbande verminder bandverwering en grondverdigting. Prys: R851 115. NAVRAE: Mnr. José de Melim, sel 079 888 4225.
Elko Implemente van Hoopstad het verskeie werktuie vertoon. Die tapkar op die voorgrond kan 8 ton vrag dra. Die kunsmistoediener op die agtergrond werk 12,5 meter wyd, maar vou vir vervoer kleiner op. Dit kan kunsmis vir voorplantdoeleindes van 100 mm tot 300 mm diep toedien. Daar is ook ’n 16 ton-ontlaaiwa wat sy vrag teen 4,5 ton per minuut kan uitlaai. PRYS: Onderskeidelik R189 750, R862 500 en R304 750. NAVRAE: Mnr. Ben van der Walt, tel. 053 444 2160.
Ryagri van Middelburg, Mpumalanga, versprei Chinese werktuie wat op die kleinboer gerig is. Dit sluit hamermeulens, dorsmasjiene en waterpompe in. Hierdie tweery-mielie-en-sojaboonplanter (FY-2) beskik oor saad- en kunsmisbakke van vlekvrye staal en benodig trekkrag van minstens 22 kW. ’n Verstelbare ratkas verseker gereguleerde saaduitmeting. Prys: R22 885. NAVRAE: Tel. 013 246 1246.
Die PS-13T-presisiekunsmisstrooier van BPI Implemente van Bothaville kan 13 ton kalk of 11 ton korrelkunsmis hou. Dit strooi die kunsmis of kalk 32 m wyd uit teen 30 kg tot 30 000 kg per ha. Die werktuig beskik oor ‘n GPS-stelsel wat met enige Isobus-rekenaarstelsel (Trimble) versoenbaar is. Prys: R782 000. NAVRAE: Mnr. José de Melim, sel 079 888 4225.
Terratill se CalSap is ’n oplosbare, vloeibare kalsiumbron (dus nie vloeibare kalk nie) waarmee die suurvlak in die wortelsone beheer word. Dit verbeter die doeltreffendheid van bemesting en bevorder worteldigtheid en plantgroei. Die produk kom van Australië en word plaaslik deur Tsama Agricultural Agencies bemark. Die foto toon die produk langs ’n werktuig waarmee grondmonsters geneem word sodat dit vir grondsuurheid ontleed kan word. Prys: Die koste beloop sowat R230 per hektaar teen ’n toediening van 7 liter per hektaar. NAVRAE: Mnr. Phil Raymond, tel. 044 533 1645.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.