Ikapa van Grabouw het die nuwe Weedtechnics- organiese stoomonkruid­doder uit Australië vertoon. Dit maak onkruid sonder chemikalieë dood. Superverhitte stoom van 120 ºC word op die onkruid teen ’n druk van 7 000 kPa geblaas. Die doder sit met ’n dieselaangedrewe stoomketel 10 liter water per minuut in stoom om. Die stoomketel word deur ’n Brix & Strattonmotor van 480 cc aangedryf. Die watertenk kan 2 000 l berg, en daarmee kan sowat 2 ha onkruid in ’n boord behandel word. Dit is versoenbaar met ’n trekker van enige fabrikaat. Dit kan ook gebruik word om slagplase en wynkelders skoon te maak en te ontsmet. Prys: R225 400. Navrae: Mnr. Bertus Muller, sel 079 835 1784.
Die Bogballe M45W-kunsmisstrooier, wat deur Valtrac van Riviersonderend vertoon is, het ’n bakgrootte van 4 500 l. Die presisiestrooier het twee strooiskywe en kan van 12 m tot 42 m wyd strooi. Enige trekker van minstens 160 kW, wat met ’n Isobus-beheerstelsel toegerus is, kan dit sleep. Die reeks strek van 775 l tot 4 500 l. Prys: R517 500. Navrae: Mnr. Theunis Human, sel 071 435 0735.
Die Hardi Navigator-gifspuit vir graangewasse het ’n tenkhouvermoë van 6 000 l. Die DDZ-spuitbalke, wat weerskante oopvou, het ’n spuitbreedte van 36 m en het 72 spuitkoppe. Die spuitbalke is in 9 seksies verdeel, wat na behoefte aan- en afgeskakel kan word. Alles word ultrasonies vanaf die trekker beheer, en die balke is toegerus met sensors wat deurentyd die afstand vanaf die grond monitor. Dit verseker ook dat die voorafbepaalde spuithoogte konstant bly. Dit is beskikbaar in ’n reeks wat strek van 3 000 l tot 6 000 l. Prys: R2,015 miljoen (6 000 l). Navrae: Mnr. Adriaan Köhne, sel 078 627 3459.
Die Bandid Beast 2680- horisontale houtkerwer, wat deur Môreson Grondverskuiwers van Robertson vertoon is, kan tot 900 m3 houtspaanders per dag kerf, wat sowat 300 t/dag beteken. Dit het ’n Volvo Penta-dieselenjin van 354 kW. Dit maak hom waarskynlik die grootste in sy soort. Môreson doen ook met die samewerking van Africo Biomass kontrakwerk daarmee op vrugteplase en vir plantasie-eienaars wat op groot skaal hout wil opkerf. Prys: R10,35 miljoen. Navrae: Mnr. Johan du Preez, sel 082 327 9662.
Die LT15 Start-saagmeul, wat Wood-Mizer van Johanneburg vertoon het, kan maklik 3 m3 tot 5 m3 hout per dag saag. Dit is ideaal vir diegene wat bome uithaal en, pleks van dit op te kerf, eerder in bruikbare planke wil verwerk en byvoorbeeld palette daarvan wil maak. Dit kan hout met ’n deursnee van tot 711 mm verwerk en houtlengtes van 5,4 m daarmee saag – hoewel dit ook verstel kan word om langer lengtes te verwerk. Die model op die foto het ’n 10 kW Kohler-petrolenjin, maar dit is ook met ’n dieselenjin, asook ’n elektriese motor verkrygbaar. Dit word agter ’n bakkie of trekker gesleep. Prys: R126 500. Navrae: Mnr. Etienne Nagel, sel 073 146 7322.
Invironmental Solutions van die Strand het sy Mini Shark 3000- horisontale kerwer vertoon, wat tot 40 m3 hout – soos vrugtebome wat uitgehaal is – per uur kan verwerk. Dit het dubbelasse en kan agter ’n vragmotor of trekker na die terrein vir die kerfwerk gesleep word. Die hele boom, met sytakke aan, word in die masjien gevoer en opgekerf en die afval word met ’n rubberbandvoerder na buite gevoer. Die masjien kan vir verskillende kerfgroottes verstel word. Prys: R3,795 miljoen. Navrae: Mnr. MC Swart, sel 082 650 3503.
Die Bandid 15XP-houtkerwer kan stompe met ’n deursnee van 380 mm verwerk en tot 120 m3 hout per dag kerf – wat 40 t/dag beteken. Twee modelle is beskikbaar: een wat vanaf die trekker se hidroulika werk en ’n selfaangedrewe model. Dit het ’n viersilinder Cummins-enjin en kan agter ’n bakkie op openbare paaie gesleep word. Die werkhoogte is 800 mm. Die 15XP is deel van ’n reeks van sowat 50 modelle. Prys: R609 500, maar word ook verhuur. Navrae: Mnr. Riaan Carstens, sel 079 874 8624.
Tomcat Chippers van Worcester het sy Tomcat SG350-stompkerwer vertoon, wat boomstompe bo die grond verwyder en opkerf. Die masjien kerf die stompe tot 350 mm onder die grond en kan enige dikte stomp kafdraf. Die Yamaha-petrol­enjin van 10 kW draai die tien Tungsten-kerflemme. Die werktuig het twee wiele en kan met ’n lang handvatsel, amper soos dié van ’n grassnyer, maklik tussen stompe verskuif word. Prys: R63 250. Navrae: Mnr. Frans Greyling, sel 072 292 1821.
Die Italiaans vervaardigde Breviglieri Oak 3-bossiekapper, wat deur Hunt Afrika Imports van Heidelberg (Wes-Kaap) vertoon is, is ideaal om indringerplante uit te haal. Hamers slaan die bosreste stukkend, wat as kerfsels agterbly. Dít word deur natuurlike bakterieë tot organiese voedsel vir aanplantings afgebreek. Dit kan verstel word om hout van 4 mm tot 30 mm op te kerf, en het ’n werkbreedte van 2 m. Modelle met werkbreedtes van 1,6 m tot 2,7 m is beskikbaar. ’n Trekker van 54 kW is nodig en dit werk vanaf die aftakkerstelsel. Prys: R318 550. Navrae: Mnr. Lindsay Hunt, sel 082 782 7762.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.

© MessengerPeople