Die Berthoud WinAir 1 500 liter-wingerdspuit se AP396-diafragmapomp kan 96 liter per minuut spuit, maar die spuittempo kan aangepas word by verskillende toestande. Dit is ’n sleepmodel wat vanaf die trekker se driepuntstelsel werk, en is toegerus met AD Most-spuitarms. ’n Voordeel is dat elke spuitkop individueel aan- en afgeskakel kan word. As die laaste ry in ’n wingerd bespuit word, spuit dit byvoorbeeld net na die kant waar die wingerd is, wat spuitmiddel bespaar. Prys: R667 000. Navrae: Mnr. Dawie du Toit, Kaap Agri, Caledon, sel 084 582 1851.
Die Swartland RS 3000-915-sitrusspuit het ’n gifmengseltenk van 3 000 liter en ’n Solteka-waaier van 915 mm. Die 4 m-hoë toring van vlekvrye staal bo die waaier is om spuitstof hoër te kan toedien vir goeie verspreiding. Indien nodig kan die toring binne 30 minute verwyder word. Die spuit kan 12 000 liter/ha spuit. Die 25 spuitkoppe aan elke kant spuit oorkruis om te verseker geen dele van bome word gemis nie. Die spuitkoppe kan tot 50 aan elke kant vermeerder word indien nodig. Prys: R441 600. Navrae: Mnr. Sarel Swart, Swartland Spuitpompe, Franschhoek, sel 082 554 2121.
Die Infaco F3015- elektriese snoeistel, wat uit Frankryk ingevoer word, bestaan uit ’n snoeiskêr wat 900 g weeg,’n battery van 850 g en ’n veiligheidshandskoen. Verskillende groottes snoeibekke kan daaraan gekoppel word. Dit het ook ’n verlengstuk waarmee tot 3,5 m hoog gesnoei kan word. Die battery het ’n werkslewe van nege uur per lading, en kan binne 90 minute volledig herlaai word. Prys: R25 300 (verpak in ’n sterk houer). Navrae: Mnr. Bertus Scheepers, Orchard Agrimek, Worcester, sel 079 508 8540.
Die Rovic Evenflow-boordspuit het ’n tenkhouvermoë van 1 500 liter. ’n Model met ’n 2 000 liter-tenk is ook beskikbaar. Die Comet 145-pompstelsel vooraan kan maklik uitgeskuif word vir instandhouding. Die spuit het ’n 940 mm-waaier. Dit is toegerus met ’n spoelstelsel, en aan die onderkant is ’n sterk beskermende plaat om skade te voorkom. Die spuitstof in die tenk word deur ’n spesiale roeraksie deurentyd gemeng. Prys: R241 270. Navrae: Mnr. Kosie Human, Rovic Leers, Kaapstad, sel 083 978 5539.
Die moderne, 21ste eeuse weergawe van die ou staatmaker-kloktent — die bekende Britse koloniale tent — is nou beskikbaar vir kampeerders wat nader aan die natuur wil bly. Die ronde Bell-tent het ’n deursnee van 5 m, en tot ses mense kan daarin slaap. Dit het ’n waarborg van een jaar en is ideaal vir glamping, oftewel luukse kampering. Die vertoner, Wolfkop van Citrusdal, het ’n wye reeks tente beskikbaar, ook die deesdae gewilde Bedoeienstyl-tente wat van rekbare materiaal gemaak word en veral gewild is vir onthale. Prys: Die ronde tent kos R13 800. Navrae: Mnr. Werner Rontgen, sel 083 775 0144.
Die Henred Fruehauf-aluminiumbrandstoftenkwa van 50 000 liter is verdeel in verskillende kompartemente (tot sewe). Dit maak dit moontlik om verskillende soorte brandstof gelyktydig te vervoer. Met ’n unieke elektroniese beheerpaneel kan die op- en aftapproses volledig gemonitor word, terwyl die meterlewering deur ’n elektroniese stelsel beheer word. Dit het ’n drukker wat ’n uitdruk gee van alle aktiwiteite. Alle elektroniese inligting kan deur die internet aan rekenaars beskikbaar gestel word. Die wa pas aan enige kop. Dit het drie asse met lugvering, asook ’n vyfde wiel vir aan- en afhaak. Prys: R1,667 miljoen. Navrae: Mnr. Eduan Naudé, Henred Fruehauf, Johannesburg, sel 079 870 0470.
LMI Skale van Pretoria het sy enkelas-voertuigskaal waarop enige voertuig geweeg kan word, vertoon. Dit weeg dinamies, wat beteken die voertuig ry stadig daaroor om per as geweeg te word. Dit werk vanaf 220 volt of 12 volt (’n bakkiebattery). Inligting — selfs die registrasienommer — kan gebêre en na ’n rekenaar gestuur word. Prys: R57 500 (sluit sagteware in). Navrae: Mnr. Pieter Mostert, sel 079 497 5509.
Die Degelman 5900-skraperlem vir ’n wye verskeidenheid grondverskuiwingswerk, wat deur SSK en Degelman van Swellendam vertoon is, pas aan enige trekker van 100 kW tot 240 kW. Dit is beskikbaar in wydtes van 3 m tot 4,2 m, en weeg vanaf 1,6 ton. Een mens kan dit binne drie minute koppel of ontkoppel. Die staalsnylem kan ook vervang word met ’n lem wat rubber aan die onderkant het, sodat in skure en pakhuise gewerk kan word. Prys: Vanaf R414 000. Navrae: Mnr. Christo Visser, sel 082 388 4884.
Die Jolt- elektriese plaasmotorfiets het aandag getrek, want dit is waarskynlik die eerste in sy soort in die land. Dit het ’n elektriese HUB-motor van 3 kW wat in die agterwiel gemonteer is, en ’n litiumbattery waarmee die motor aan die gang gesit word. Die motorfiets kan tot 90 km/h ry. Die reikafstand tussen herlaaiings is sowat 80 km. Prys: R51 750 (begin 2019 beskikbaar). Navrae: Mnr. Willa Nolte, Kanna In- dustries, Wor- cester, sel 072 333 1051.



© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.