Barloworld van Isando versprei die Indiese CAT 426F2-kombinasie van ’n laaigraaf en graafmasjien. Die masjien het viertrekaandrywing, met ’n werkverrigting van 69,5 kW. Prys: R966 000 (onderhewig aan wisselkoersveranderings) Navrae: Tel. 011 929 0000.
Mnr. Nic Staal van Mr Bullbar in Bloemfontein is trots op die vakmanskap van sy produkte die afgelope 19 jaar, waarvan hy vir 15 jaar by Nampo betrokke is. Hy vervaardig hoofsaaklik bakkie- en jagrame, soos dié van ’n Hilux-dubbelkajuit waarop hy sit. Prys: Die pryse van die doelgeboude rame wissel van R15 000 tot R35 000. Navrae: Sel 082 967 9188.
Bestbier se nuwe padskraper word deur ’n trekker getrek en het ’n skraperlem van 3,6 m. Die werktuig is geartikuleer sodat dit langs die trekker skraap. Dit is veral nuttig om kontoerwalle op skuins landerye te maak. Prys: R165 600. Navrae: Mnr. Gouws Prinsloo, sel 072 511 5449.
Africa Implements van Bothaville spits hom toe op werktuie vir die opkomende mark. Sy voermenger van 300 liter werk met enkelfasekrag en gebruik ’n spaanmenger. Prys: R24 500. Navrae: Mnr. Piet Roets, sel 082 375 9229.
Die Suid-Afrikaans-ontwerpte Fams-dieselbestuurstelsel stel die boer in staat om betroubare aantekeninge oor die tap van diesel uit ’n tenk te hou, asook in watter voertuig dit ingetap is. Dit hou die inligting by sodat dit ook vir belastingdoeleindes benut kan word. Dit kos R41 400. Prys: Die nuwe Kingspan-dieseltenk (links) van 2 500 liter wat van poli-uretaan gemaak is, kos R124 200. Navrae: Mnr. Bryan Steinberg, sel 071 131 3384.
Die Duitse landbou-ingenieursmaatskappy Krone se Bale-Collect-toevoeging tot die BigPack-baler word nou deur Rovic Leers na Suid-Afrika gebring. Die Bale-Collect haak aan die agterkant van die baler en versamel drie groot bale op ’n slag en sit hulle op een slag langs mekaar neer, wat hantering en koste verminder. Die Bale Collect vou op vir maklike padvervoer. Prys: Prys op aanvraag. Navrae: E-pos: info@rovicleers.co.za; tel. 011 396 6200.
Mfangano Solutions van Wynberg in Sandton voer die Atlas JSV (werks- terreinvoertuig) van die Amerikaanse vervaardiger Gravely vir die plaaslike mark in. Met ’n stewige sleepvermoë, wipbak en swaardiensonderstel is dié veeldoelige voertuig in staat om ’n vrag van tot 1 ton te karwei en af te laai. Dit kan ook van 3 tot 6 passasiers vervoer. Prys: Die model met die Polaris- petrolenjin (570 cc) kos R242 000. Dieselmodelle sal later weer beskikbaar wees. Navrae: Me. Precious Mashinini, sel 072 244 9551.
MaizeMaster van Kroonstad verskaf die MM3500-houermeule, ’n kompakte eenheid in skeepshouers met ’n werkvermoë van 3,5 ton per uur. Die grootste voordeel van die eenheid is dat dit op enige plek opgerig kan word sonder dat spesiale geboue daarvoor opgerig word. Dit kan ook betreklik maklik verskuif word. Prys: R4,025 miljoen (afleweringskoste uitgesluit) Navrae: Mnr. Johann Kruger: e-pos: johann@maizemaster.co.za; sel 083 629 4697.
Wood-Mizer SA van Roodepoort versprei ’n reeks Poolse saagmeultoebehore. Die LT40 (op die foto) kan stompe met ’n deursnee van tot 90 cm en met ’n lengte van 5 m tot 8,6 m verwerk. Prys: Die hidrouliese model kos R450 800 en dié daarsonder R299 000. Navrae: Mnre. Ettienne Nagel, sel 073 146 7322; Arthur Tyson, sel 063 407 4029.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.