Die maatskappy het onlangs sy nuwe reeks trekkers en werktuie tydens ’n geleentheid by De Hoek Country Hotel in Magaliesburg bekend gestel.

Mnr. Arvind Matthew, hoof van internasionale bedrywighede by Mahindra Bpk., het gesê Mahindra het reeds ’n gevestigde teenwoordigheid in Suid-Afrika deur sy bakkies en SNV’s, asook kragopwekkers en grondverskuiwingstoerusting. Die maatskappy is nou gereed om ook sy landboutoerusting na Suid-Afrika te bring.

“Ons trekkermodelle het reeds bewys dat hulle in die veeleisende Suid-Afrikaanse toestande hul man kan staan. Suid-Afrikaanse boere ondersteun ons reeds deur ons bakkies te gebruik en dit het ons oortuig om ons produkaanbod aan die landbougemeenskap te vergroot,” het hy gesê.

Kleiner trekkers

Die aanvanklike trekkeraanbod bestaan uit die 7500-reeks met twee trekkermodelle, asook die 6000-reeks wat uit drie trekkermodelle bestaan. Die Mahindra 6060 is die kleinste trekker in die reeks met ’n kraglewering van 40 kW, met die Mahindra 7590 wat ’n kraglewering van 70 kW het.

“As ek na die totale trekkermark in Suid-Afrika kyk, word sowat 6 000 eenhede per jaar verkoop, waarvan twee derdes se kraglewering minder as 70 kW is. Met ons kleiner trekkers is ons dus geposioneer om van ons meer gevestigde mededingers uit te daag met ’n reeks bekostigbare, betroubare trekkers,” het Matthew gesê.

Benewens dié reeks trekkers bring Mahindra ook sy Hisarlar-werktuie, wat grondbewerkingswerktuie, kunsmisstrooiers, planters en hooimaaktoerusting insluit, asook die Finse Sampo Rosenlew-stropers na Suid-Afrika.

Mnr. Rajesh Gupta, hoofbestuurder van Mahindra Suid-Afrika, het gesê die ooglopende versadiging in die kleiner trekkermark moet nie as afskrikmiddel gesien word nie.

“Toe Mahindra Suid-Afrika toe gekom het, is die bakkiemark gesien as versadig, maar ons het groot sukses hier behaal. Baie vervaardigers het na maniere gesoek het om uit die land te beweeg, maar ons het bly belê. Dit is vir ons dus nie nuut om om markaandeel mee te ding nie. Mahindra is hier op lang termyn, aangesien ons Suid-Afrika baie hoog ag as mark en ons aan ons kliënte ’n volhoubare diens gaan bied,” het hy gesê.

Mnr. Pavan Nair, bedryfshoof vir nuwe besigheidsontwikkeling by Mahindra Suid-Afrika, sê die reeks trekkers en werktuie is geskik vir die meeste boerderye.

“Graanboere, asook groenteboere en melkerye, sal almal baat vind by die uitgebreide reeks trekkers en werktuie wat ons aanbied.” Nair het gesê dat die maatskappy trekkers en werktuie as ’n pakket sal aanbied om selfs meer waarde tot die aanbod toe te voeg.

Die verspreiding, verkope en diensondersteuning van Mahindra se reeks trekkers sal deur MB Plant Suid-Afrika (MBSA) behartig word, het Matthew gesê.

MBSA is ’n afdeling van die internasionale MB AfroAsia Groep wat in meer as 20 lande teenwoordig is. Mnr. Glenn Franklin de Silva, groephoof van MB AfroAsia, sê die maatskappy het reeds ’n teenwoordigheid in vier Suid-Afrikaanse provinsies en sal verder uitbrei om teen Maart 2020 landswyd teenwoordig te wees.

Matthew sê dit is Mahindra se doelwit om te verseker dat sy kliënte die beste moontlike ervaring het in hul Mahindra-aankope.

“Dit is een ding om ’n trekker aan ’n boer te verkoop, maar jy wil seker maak dat jou kliënte-ondersteuning uit die boonste rakke is. Ons doelwit is dus nie net om ’n trekker of werktuig te verkoop nie, maar om boonop ’n oplossing te bied wat finansieel sin maak. Uiteindelik is dit waarna ons streef.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.