1

Die John Deere CP690 is vanjaar die groot gesprekspunt op die Nampo-oesdag. Dit is ’n bielie van ’n katoenplukker, wat die jongste tegnologie in katoenstroop verteenwoordig. Die CP690 kombineer ’n plukker met ’n toedraai-baler wat bale van 2,3 ton tot 2,5 ton lewer. Boonop kan die katoenplukker individuele bale met ’n RFID-plakker toerus wat dit moontlik maak om elke baal se presiese ligging in ’n land te bepaal en verwerkers verder in die waardeketting in staat stel om ’n individuele katoenlewering na sy plaas van oorsprong terug te speur.
2

Stroop slim. Die nuwe New Holland CR7.90 Intellisense Revelation-stroper is toegerus met die maatskappy se Intellisense-stelsel wat die stroper so te sê heeltemal outomaties maak. Die operateur kies eenvoudig uit drie verskillende parameters, wat die stroper se grondspoed, graangehalte en masjienspoed insluit, en die stroper doen die res. Terwyl die stroopproses voortgaan, kies die stelsel elke 20 sekondes die beste verstellings uit ’n moontlike 280 miljoen opsies om te verseker dat slegs die beste gehalte graan gelewer word. Boonop dra die verstellings by tot ’n verbetering van 10% tot 15% in produktiwiteit, wat boere tyd en geld spaar.
3

Twee van Case IH se trekkermodelle het vanjaar die Amerikaanse vlag as baadjie aangetrek. Die indrukwekkende Case IH Steiger 500 Quadtrac staan veral uit met sy helder kleure en belangstellendes kon nader staan vir ’n kykie na hierdie 410 kW-bul se nuwe vere.
4

Kragkat. Fendt-trekkers is van die eerste waar alle kragkomponente ontwerp is volgens die konsep van lae spoed en hoë wringkrag. Die Fendt Vario-reeks is ook die eerste waarin die voorste en agterste asse onafhanklik van mekaar aangedryf word met wisselbare wringkragverspreiding. ’n Aanboordbanddrukbeheerstelsel sorg ook dat die regte banddruk deurentyd gehandhaaf en wielglip beperk word. Die Fendt 1950 Vario is die kragtigste in die Vario-reeks Fendt-trekkers met kraglewering van 380 kW.
5

Kyk so ’n vuil uil! As deel van sy reklameveldtog om die stropertegnologie in die John Deere S-reeks aan boere reg oor die land bekend te stel, het die maatskappy besluit om die stroper in verskillende dele van die land graan te laat stroop. Ná Nampo draai die S780 sy neus eers suidwaarts voordat hy later vanjaar sal terugkeer vir ’n laat stroopsessie in die Oos-Vrystaat.
6

Padkaart. Die roete wat die John Deere S780 reeds gevolg het om sy stroopvermoë in verskillende dele van die land en in wisselende toestande ten toon te stel.
7

’n Nuwe voorkoms. Die Landini Solis-trekkerreeks het ’n splinternuwe voorkoms. Al die modelle het ’n moderner voorkoms wat onder meer LED-ligte en ’n opgeknapte paneelbord insluit.
Verskeie interessante en gevorderde trekker- en stropermodelle word vanjaar op die Nampo-oesdag ten toon gestel. Van ouer modelle met ’n nuwe voorkoms tot ’n splinternuwe katoenstroper het besoekers aan Nampo se monde behoorlik laat oophang.
Foto's: Gerrit Bezuidenhout
Ons wil graag hê jy moet langer kuier.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier