Hou die volgende paar uitgawes van Landbouweekblad dop vir nog trekkers, werktuie en toerusting op Nampo.

Die nuwe Deutz-Fahr 9340 TTV-trekker van Duitsland is deel van ’n nuwe reeks wat plaaslik gebou word, maar slegs dié model word in Suid-Afrika verkoop. Sy SDF-sessilinderenjin van 7,7 liter wek 247 kW op. Die agterste hyser kan 12 ton oplig en die voorste hyser 5 ton. Prys: R4,14 miljoen. Navrae: Mnr. Cilliers van Zyl, sel 082 926 7054.
Claas se nuwe Axion-trekkerreeks bestaan uit drie modelle: Die Axion 800 (150 kW teen R2,645 miljoen), Axion 840 (183 kW teen R2,875 miljoen) en Axion 870 (206 kW teen R3,45 miljoen). Hierdie Duitse trekkers word in ’n Claas-trekkerfabriek in Frankryk vervaardig. Al drie trekkers spog met ’n konstante, wisselende CMATIC-ratkas. Voor op die foto is die 870-model. Navrae: Mnr. Michael Howell, sel 083 701 8779.
New Holland se 66010S gaan ’n gedaantewisseling ondergaan met die New Holland S8000-enjin wat die bestaande NEF- enjin gaan vervang. Die S8000-enjin bied die 6610S en sy groter boetie, die splinternuwe 7610, meer kraglewering (73 kW vir die 6610S en 83 kW vir die 7610) en groter wringkrag. Prys: R575 000 (6610S); R638 250 (7610). Navrae: Mnr. Ockert Scheepers, sel 082 380 2405.
Die bekende wingerd-en-boord-trekkerreeks van New Holland, die TDF, het ’n nuwe baadjie aangetrek. Nie net is die voorkoms van die TD65F verander om New Holland se groter trekkers te verteenwoordig nie, maar dit is beskikbaar in tweewiel- en vierwielaandrywing. Die reeks bestaan uit vier modelle wat toegerus is met die New Holland S8000-driesilinderenjin. As jy meer krag soek, het die TD90F ’n 3,9 liter-FTP-S8000-enjin. Die TD90F is ook beskikbaar met ’n nat of droë koppelaar. Prys: Vanaf R336 000 tot R450 000. Navrae: Mnr. Ockert Scheepers, sel 082 380 2405.
Die bekende Case IH Magnum-reeks spog nou met die Case IH Magnum 250 met ’n voorhaak wat hooi- en snywerk vergemaklik. Alle Magnum-modelle, van die 310 tot die 380, word uitgereik met ’n 3 jaar- gratis RTX-sein. Prys: Vanaf R2 990 000 (Case IH Magnum 250). Navrae: Case IH, tel. 011 922 2000.
Die TS6.140-hooglooptrekker van New Holland is die trekker met die grootste kilowatt kraglewering in sy marksegment. Hy lewer 88 kW en het ’n grondvryhoogte van 700 mm. Dit is geskik vir ’n boer wat nie ’n selfaangedrewe spuit wil aankoop nie, maar ’n sleep­spuit wil aanwend. Vir beter operateursgemak het die trekker ook ’n nat koppelaar en ’n hidrouliese deurvloei van 83 liter per minuut. Prys: R908 500. Navrae: Mnr. Ockert Scheepers, sel 082 380 2405.
Die Case IH Puma 225 CVT vier 175 jaar van Case IH se betrokkenheid in die landbou. Dié spesifieke model is ’n beperkte uitgawe wat met die kleur viper red geverf is en wat die trekker ’n dieprooi metaalkleur gee. Slegs 30 eenhede is vir die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar gestel. Prys: R2 183 270. Navrae: Case IH, tel. 011 922 2000.
New Holland se T4-trekkerreeks bestaan uit 13 modelle wat elk aangepas is vir ver­skillende gebruike in boorde en/of wingerde. Die trekkers se F-, V- of N-agtervoegsel dui hul gebruik in boorde of wingerde aan met nouer en wyer rydwydtes. Die T4.85F is by uitstek ’n sitrusboordtrekker, toegerus met New Holland se Blue Cab-tegnologie om die trekkerbestuurder se blootstelling aan plaagdoders tot die minimum te beperk. Die trekker is ook toegerus met New Holland se Super Steer-vooras wat aan hom ’n besonder klein draaisirkel verleen. Die T4 Low Profile het wyer asse en ’n lae swaartepunt wat hom uiters geskik maak vir werk in boorde met steil hellings. Die trekker het ’n verskuifbare rywydte van 2,4 m, ’n swaarder agteras wat sleepwerk vergemaklik en ’n driepunthyser wat tot 3 ton kan oplig. Pryse: R386 400 (T4.65F met nat koppelaar en tweewielaandrywing); R638 250 (T4.85F); R588 800 (T4 Low Profile). Navrae: Mnr. Ockert Scheepers, sel 082 380 2405.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.