Die nuwe reeks T5 Electro Command-trekkers, wat toegerus is met die FPT Industrial S8000-enjin, bied kraglewering van onderskeidelik 65 kW, 72 kW en 81 kW. Die Electro Command-stelsel is ’n semi-outomatiese ratkas met 16 ratte vorentoe en 16 truratte. Die trekkers se 145 liter-brandstoftenks maak dit ook moontlik om met minder tussenposes te werk.

Splinternuwe trekkers vir spesifieke toepassings

Die TD3.50F-trekker is New Holland se jongste wingerd- en boordtrekker. Die trekkers is in vierwiel- of tweewielaandrywing beskikbaar en toegerus met ’n nuwe, opgekikkede voorkoms en verbeterde rygemak. Die trekkers se langer wielbasis binne ’n verminderde totale lengte verbeter ook die trekker se stabiliteit en sy werking met ’n laaigraaf of ’n swaarder werktuig.

Die TS6.120 High Clearance-trekker bied ’n grondvryhoogte van 645 mm en kraglewering van 88 kW, wat die trekker ’n kragbuks maak wat met groter werktuie kan werk. Dit is by uitstek ’n trekker wat spuitwerk met gemak kan verrig.

’n Balkspuit met verskil

Die selfaangedrewe SP310F-balkspuit met ’n voorgemonteerde balk wyk af van die huidige neiging waar spuite se balke agter aangeheg word. Die voormontering van die spuitbalk bied die beste uitsig op die spuitstukke en die land wat bespuit word. Die as het ’n grondvryhoogte van 1,8 m. Die SP310F kan toegerus word met tenks van 3 800 liter of 4 500 liter, met vyf spuitbalkgroottes wat wissel van 27 m tot 41 m.

Die intelligente stroper

Die CR7.90-stroper het ’n kragtige FPT Industrial Cursor 13-enjin wat 425 kW lewer, tesame met New Holland se Twin Rotor-tegnologie wat bekend is om sagte graanhantering. Die stroper is toegerus met ’n hele rits tegnologiese innovasies, insluitende New Holland se outomatiese IntelliSteer-beheerstelsel wat deurgaans verstellings aan die stroper se werking tydens die stroopproses maak om die beste moontlik graangehalte te lewer.

oznor
Stroop slim. Die nuwe New Holland CR7.90 Intellisense Revelation-stroper is toegerus met die maatskappy se Intellisense-stelsel wat die stroper so te sê heeltemal outomaties maak. Die operateur kies eenvoudig uit drie verskillende parameters, wat die stroper se grondspoed, graangehalte en masjienspoed insluit, en die stroper doen die res. Terwyl die stroopproses voortgaan, kies die stelsel elke 20 sekondes die beste verstellings uit ’n moontlike 280 miljoen opsies om te verseker dat slegs die beste gehalte graan gelewer word. Boonop dra die verstellings by tot ’n verbetering van 10% tot 15% in produktiwiteit, wat boere tyd en geld spaar. Foto: Gerrit Bezuidenhout

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.