Bell-toerusting van Richardsbaai versprei die Kobelco SK 135 SR uit Japan. Dié laaigraaf van 13 ton het ook ’n lem voor die kajuit om slote toe te stoot en is toegerus met koppelings vir ’n hamer­werktuig vir die breek van klipperige grond. Op die agtergrond is Bell se veeldoelige viertrek-laaigraaf (TLB) 315 SL wat in Richardsbaai onder lisensie van John Deere vervaardig word. Dit beskik oor ’n enjin van 72 kW. Die bakgrootte voor is 1 m3 en agter 0,21 m3. PRYS: Meer as R1,55 miljoen vir die SK 135 SR en R989 000 vir die 315 SL. NAVRAE: Mnr. Peter Wille, e-pos: peterw@bell.co.za, 051 432 7855.
MultiOne van Boksburg bemark dié geartikuleerde laaigraaf, ’n veeldoelige werkesel van Italië. Dit kan saam met altesaam 170 verskillende koppelstukke gebruik word en word hidrostaties aangedryf. Die grootste model is die 10.9 met ’n Kohler-dieselenjin. Die werktuig se bykomende olievloei van 95 liter/minuut is geskik vir groot toebe­hore, soos ’n stokkiekapper vir ontbossing. Prys: R711 850, ingesluit ’n bak wat 1,5 m breed is of ’n palletvurk met ’n laaivermoë van 1,2 ton. Navrae: Mnr. Lofty van Wyk, 082 888 8899.
Mfangano Solutions van Johannesburg is die verspreider van dié Amerikaanse Boxer, wat deur Morbark vervaardig word. Die Mini Skidsteer 700 HDX is ’n werkesel op boupersele. Dit word deur ’n Kubota-dieselenjin van 52 kW aangedryf. Bykomende hidrouliese koppelpunte is beskikbaar. Prys: Die 700 HDX-basistoestel kos R587 650 en die 90 cm-slootgrawer op die foto R97 015. Navrae: Mnr. James Kamau, e-pos: jamesmfangano.co.za, 082 747 1920.
Hierdie TLB is nie net ’n veeldoelige laaigraaf nie, maar is ook met ’n kragaftakker en hyserarms toegerus sodat dit as ’n klein trekker aangewend kan word, bloot deur die agterste laaigraaf te ontkoppel. Dié taak kan sonder moersleutels uitgevoer word. Prys: R494 500. Navrae: Mnr. Dieter Bergmann, 082 305 0500.
KAT Implemente bou dié wipbakwa in sy fabriek in Bloemfontein. Dit kan 5 ton grond (of gewasse, soos aartappels en neute) vervoer. Die kante is van 2 mm dik staal en die vloer van staal wat 5 mm dik is – die regte dikte om swaar vragte te dra. Prys: R86 250. Navrae: 051 451 9100.
Trogtek vervaardig bakke en ’n plastiek­raamwerk vir die grondlose waterkwekery­stelsel La Pieus Aqua van die ondernemer me. Rikalize Reinecke. Die stelsel bestaan uit ’n visdammetjie van 1 500 liter en 20 visse, drie beddingpanne met ’n lengte van 2 m en 20 saailinge, asook ’n pompie van 80 W met die nodige pype. Die damvolume is groot genoeg om 30 kg vis, of altesaam 90 visse van 300 g elk, aan te hou. Die grondlose beddings, wat met klippe gevul word, het ruimte vir minstens 150 plante en werk op die beginsel van sirkulerende water waarmee die voedingstowwe die groente bereik. Die plastiek is UV-bestand en is 10 jaar lank gewaarborg. Prys: R18 000. Navrae: Me. Rikalize Reinecke, e-pos: rikalize@lapieus.co.za, of mnr. Danie Reinecke, 083 765 8343.
Die Kubota Zero Turn-grassnyer word só genoem omdat dit baie kort kan draai – as ’t ware om sy eie as – om byvoorbeeld gras om ’n boom te sny. Die grassnyer word vir gholfbane en groot grasperke gebruik, en die operateur ry op die werktuig. Prys: R184 000. Navrae: Mnr. Dieter Bergmann, 082 305 0500.
Net die voertuig vir ’n lekker jagtog. Dié Can-Am is deel van FC Brands van Randburg se reeks veeldoelige voertuie wat vir jagtogte ingerig is. Dit het ’n geweerrak en skietstaaf voor en nóg ’n geweerrak en ’n skietkussing agterop waaroor die jagter kan dooierus vat. Die V-Twin-enjin van 800 cm3 is besonder stil, wat ideaal is vir die jagveld. Prys: R219 900. Navrae: Mnr. Craig Lanham-Love, 083 228 0800.
Dié veeldoelige voertuig van Kubota het twee rye sitplekke. Die agterste ry kan platgeslaan word om die laairuimte in ’n ommesientjie te vergroot. Die voertuig het ’n enjin van 1  140 cm3. Die raamwerk is robuus om op ruwe terrein gebruik te kan word. Prys: R327 750. Navrae: Mnr. Dieter Bergmann, 082 305 0500.
Orchard Supplies van Worcester het dié elektriese Infaco-snoeiskêrstelsel vertoon wat stamme en stingels van tot 70 mm gemaklik kan afknip. Benewens die basistoestel bevat die stel ’n bykomende lem, spesiale ghries, ’n batteryharnas, ’n battery en sy laaier, asook ’n vyl. Prys: R27 600. Navrae: Mnr. Rudi Swanepoel, 084 249 4005.
Mnr. Piet Simpson van Dwaalboom het met nóg ’n wenner vorendag gekom. Die Boskewer, waarby hy staan, is deur hom ontwerp om bossies onder vrugtebome af te sny. Die snywerk word deur vier lemme gedoen wat op ’n skyf gemonteer is. Rondom is ’n staalring wat keer dat die lemme die boomstam raaksny. Simpson bestempel dit as ’n nywerheidsbossiekapper en ’n kleinboet van sy Bosvreter, wat indringerbosse afsny. Prys: R9 800. Navrae: 082 574 3792.
Onmoontlik om oor te klim. Remacon (Ready Made Concrete) se blokke waarmee ’n muur gebou word, het ’n ronding aan die een kant wat dit onmoontlik maak om oor te klim. Dit word in verskillende hoogtes by sy fabriek in Kempton Park vervaardig. Yfel-panele is ook verkrygbaar, wat gebruik word om bestanddele van ’n veerantsoen van mekaar te skei as die boer dit in groot maat koop om self te meng, of om wande vir ’n  kuilvoerbunker te bou. Prys: Vanaf R2 197 elk vir eenhede van 1,2 m hoog tot R8 220 vir 7 m hoë blokke. Remacom se betonkluise van 1,5 m by 1,5 m wat 3 ton weeg, kos sowat R20 700. Navrae: Mnr. Silvio Ferraris, 082 851 9512.