“Navorsing deur die Sweedse Universiteit van Landbou het bewys met die opberging van kuilvoer in bunkers, torings en sakke kan die materiaal tot 30% van sy voedingswaarde verloor, veral weens blootstelling aan suurstof,” het mnr. Peder Kvendset, verkoopsdirekteur van Orkel, op die geleentheid gesê. “Die resultaat is dat koeie dan meer voer moet inneem om in hul voedingsbehoeftes te voorsien. Boonop bring suurstofblootstelling mee dat voer kan bederf en tot verliese lei.”

Die reeks kompakteerders kan ’n wye verskeidenheid materiaal, soos mielies, lusern, gras, suikerrietreste, hemp, katoen, mis, houtafval en saagsels kompakteer en baal.

Kvendset het gesê deur materiaal te kompakteer en te baal, word die volume tot 3:1 verminder. Bale word makliker hanteer en neem minder ruimte op as met ander opbergingstelsels. Dit lewer ’n deurlopende materiaaldigtheid met gevolglik beter kuilvoergehalte.

Deur kuilvoer te baal word die gehalte van die voer verbeter, terwyl verliese vanaf 20% tot 30% verminder word tot 1% tot 2%. Die bale kan tot ses bale hoog opmekaar gestapel word en hou voer vir tot 36 maande vars.

Só werk die kompakteerder

Tydens die bekendstelling is die kompakteerder se doeltreffendheid duidelik onderstreep.

’n Vragmotor het gesnyde kuilvoer regstreeks in die voerbak gelaai. (Dit kan ook met ’n laaigraaf of voerband gedoen word.) ’n Voerband bring die materiaal uit die voerbak na die kompakteerruimte. Spesiaal ontwerpte bande in die kompakteerder voorkom vermorsing, terwyl ’n stelsel van rollers in die hoëdruk-ruimte bale van deurlopende digtheid vorm.

Nadat die baal gekompakteer is, word dit in ’n breë laag plastiek of net in die kompakteerder toegedraai om die baal se vorm te behou. Daarna word die baal vanaf die kompakteerder se binneruim na die toedraaitafel gevoer waar dit met ’n aantal lae plastiek toegedraai en die materiaal in ’n kompakte baal verseël word.

’n Infrarooi-sensor (NIR) ontleed die kuilvoer voor dit in die kompakteerder gebaal word. Die ontleding word na ’n elektroniese wolkdatabasis gestuur. Hierdie inligting kan per slimfoon of rekenaar afgelaai word om die presiese gehalte van die baal te sien.

’n RFID-etiket, wat outomaties op die baal aangebring word, laat die boer toe om elke baal met sy slimfoon te skandeer. As die Orkel BaleID-toepassing afgelaai is, kan die bestanddele van elke baal maklik bepaal word.

“Deur die voedingswaarde en spesifikasies van jou kuilvoer te sien, kan ’n voermengsel pasgemaak vir die behoeftes van jou kudde gemaak word,” het Kvendset gesê.

Die Orkel-reeks kompakteerders kan deur ’n 90 kW-trekker of ’n elektriese motor van 55 kW aangedryf word. Die kompakteerder lewer bale met ’n volume van 1,25 m3, ’n omtrek van 115 cm en 120 cm wyd. Na gelang van die materiaal en die kompakteerder kan bale se gewig wissel van 500 kg tot 1 400 kg. Tot 66 bale kan per uur geproduseer word, na gelang van die tipe materiaal wat gebaal word.

Orkel het nog nie ’n verspreider in Suid-Afrika nie, maar minstens een plaaslike landboumasjinerievervaardiger het aan Landbouweekblad gesê dat onderhandelinge om die kompakteerders in te voer, in ’n gevorderde stadium is.

Vir nog inligting oor die Orkel-kompakteerderbalers kan mnr. Peder Kvendset by pederk@orkel.no gekontak word.