Lemken het pas ’n nuwe saadplanter, die Azurit 10, bekend gestel. Mnr. Karel Munnik, besturende direkteur vir verkope en administrasie by Lemken SA, sê die maatskappy het reeds die Azurit 9 hier beskikbaar wat vier, ses of agt rye met ’n ryspasiëring van 70-80 cm kan plant.

Die Azurit 10 kan daarbenewens ook ses of twaalf rye met ’n ryspasiëring van 50 cm plant. Die werktuig word op aanvraag vanaf Duitsland ingevoer. Volgens Lemken se hoofkantoor is die nuwe model vanaf September wêreldwyd beskikbaar.

Dit kan sojabone en sonneblomme plant. Van die verbeterings is ’n voortjiemaker aan die kouters en saadbuise met ’n inlaatopening wat vervang kan word wanneer dit verweer.

Die Azurit kan ook mieliepitte individueel plant. ’n Moniteringstelsel waarsku die trekkerbestuurder wanneer een van die kunsmiskouters verstop is.

Nog ’n toevoeging is MicroHub 5, ’n strooier wat mikrokorrelkunsmis wat wateroplosbare voedingstowwe bevat, baie akkuraat digby die sade kan plaas.

Dit stel die saailinge in staat om vinnig te ontwikkel. Volgens mnr. Bernd Valtwies, hoof van Lemken se ontwerp- afdeling vir presisieplanters, is hierdie toepassing beskikbaar vir modelle wat tot agt rye plant. Dit kan 200 liter kunsmis teen 1-40 kg/ha toedien.

PRYS: Op aanvraag.

NAVRAE: Mnr. Karel Munnik, e-pos: k.munnik@lemken.com, 082 412 2577