Mnr. Riaan Strydom van die Bokmakierietrust naby Krakeel in die Langkloof sê die trekker werk byna elke dag in die boorde sedert dit in 1968 deur mnre. Seppie en Irving Strydom van die Rugby Brand-plase aangekoop is.

Hy sê die trekker het tot in 2012 die boordspuit gesleep. “Nou trek hy net kratwaens en verrig ligte plaaswerk.” Die trekker werk tans nog ongeveer 300-400 uur per jaar.

Volgens Strydom laat hy die trekker steeds versien by Trekker en Diesel op Oudtshoorn, die John Deere-agentskap waar dit aangekoop is. “Ons is lojale John Deere-ondersteuners. Vanweë ons verhouding met Trekker en Diesel, wat ook ’n familiebesigheid is, sal ons moeilik van fabrikaat verander.”

Volgens Strydom is die John Deere 2020 tussen 1965 en 1971 vervaardig. Hy sê die onderdele is nog maklik verkrygbaar. As hy vandag onderdele bestel, kry hy dit reeds die volgende dag. Die enjin is in 1995 oorgedoen.

Die 40 kW-trekker lewer 36 kW met die aftakker. Sy dieselverbruik met die kratwa is 4 liter per uur, terwyl dit 8 liter per uur was met die boordspuit.

John Deere,
Die John Deere-2020 trekker trek nou kratwaens en verrig ligte plaaswerk. Foto: Riaan Strydom


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.