Verskeie faktore kan aan die styging in trekkerverkope in Maart vanjaar gekoppel word. Een daarvan is die goeie reënval, wat van Februarie af oor groot dele van die somerreënstreek voorgekom het. “Daar bestaan beslis ’n verband tussen klimaatstoestande en die verkope van masjinerie,” sê mnr. Lucas Groenewald, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (Saama).

Luidens die organisasie se nuutste verslag oor trekker- en stroperverkope is 726 trekkereenhede in Maart vanjaar verkoop, teenoor die 515 eenhede in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Stroperverkope het met 8,7% gestyg, met 25 eenhede wat verlede maand verkoop is. Altesame 23 stropereenhede is in Maart verlede jaar verkoop.

Struikelblokke nog duidelik sigbaar

Trekkerverkope het tot dusver vanjaar ook gestyg, met 12% meer eenhede wat in die eerste kwartaal van die jaar verkoop is, vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Vergeleke met die eerste drie maande verlede jaar het stroperverkope gedurende die ooreenstemmende tydperk vanjaar egter met 5% gedaal.

Groenewald sê die struikelblokke in die bedryf bly duidelik sigbaar ondanks die goeie reën. “Daar is verseker nog probleme ná die droogte in 2016, die rekord mielie-oes verlede jaar wat pryse afgedwing het en die druk wat talle boere steeds weens die klimaat en die mielieprys ervaar.”

Volgens Groenewald bly die meeste fundamentele aspekte op die mark, soos oesvooruitsigte, kommoditeitspryse, asook die betreklik sterk rand grootliks onveranderd. “Die meeste kommersiële trekkerkopers hoef nie onmiddellik besluite te neem nie en kan die besluite vir ’n maand of twee – tot daar duideliker oesvooruitsigte is – uitstel.”

Regeringstenders het ook verkope gedurende Maart laat verstewig.

Die assosiasie sê die bedryf verwag dat verkope vir die 2018-kalenderjaar op dieselfde vlakke as dié van verlede jaar behoort te wees.