Mnr. Greg Cadman, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (Salma), sê die verkoopsyfer van 433 trekkereenhede in Maart is bykans byna 28% laer as die 600 eenhede wat in Maart 2019 verkoop is. Dit bring die verkope van trekkers in die eerste kwartaal op 17% minder as vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar te staan.

In teenstelling met die trekkerverkope is 4 stropers meer in Maart verkoop as die 22 eenhede wat in Maart 2019 verkoop is. Die eerste kwartaal se stroperverkope beloop tot dusver byna 20% meer as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Volgens Cadman kan die verkope van landboumasjinerie in 2020 tot 10% laer wees as verlede jaar.

“In dié besondere tydperk word die bedryf oorheers deur onsekerheid wat die meeste Suid-Afrikaners, soos elders ter wêreld, nooit vantevore beleef het nie,” sê hy. “Dit is 'n ongunstige klimaat vir die landboumasjineriebedryf.”

Volgens Cadman moet voedselproduksie egter voortgaan. “Gelukkig staan die somergewasse op die land en solank kommoditeitspryse hou, behoort die meeste boere die storm te oorleef. Met die onlangse swak waarde van die rand sal die prys van werktuie ongetwyfeld styg.”

Volgens Salma se verwagting sal produsente dit oorweeg om bestaande voorraad teen gunstiger pryse te koop. Aangesien sekere verskaffers se fabrieke moes sluit, is daar onsekerheid of vervangingsvoorraad binnekort ingevoer sal word. Dit is dus moontlik dat verkope op kort termyn kan toeneem, sê Cadman.