Mnr. Greg Cadman, voorsitter van die Suid-Afrikaanse landboumasjinerie-assosiasie (Saama), sê trekkerverkope van 364 eenhede in Mei 2019 is baie minder (27%) as die 501 eenhede wat verlede Mei verkoop is. Verkope vir die eerste vyf maande van die jaar is byna 19% laer as verlede jaar. “Vir die opeenvolgende 12 maande is trekkerverkope nou 8% laer as verlede jaar,” sê hy.  

Stroperverkope van 27 eenhede in Mei is aansienlik meer as die 16 eenhede wat in Mei 2018 verkoop is en vir die jaar tot dusver is die verkope nou 8% laer as verlede jaar.  

Volgens Cadman beskou Saama die huidige sentiment in die mark as redelik verwarrend. “Boere in die oostelike dele oes hul somergewasse en sommige het ’n goeie opbrengs aangemeld. In die westelike dele is die oes vertraag en die boere is op die oomblik onseker oor die oesvooruitsigte.”  

Hy skryf die verwarring in die markneigings toe aan verskeie makro-ekonomiese faktore, soos Statistieke SA wat aangekondig het dat die land se bruto binnelandse produk in die eerste kwartaal met 3,2% ingekrimp het, asook die waarde van die rand wat oor die afgelope weke nadelig beïnvloed is deur verskeie faktore.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.