Mnr. Greg Cadman, voorsitter van Salma, sê in die jongste Salma-verslag dat trekkerverkope vir April vanjaar marginaal minder is as die aantal trekkers wat in April 2019 verkoop is. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope sowat 14% laer as verkope vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. In April 2020 is 416 trekker-eenhede verkoop teenoor April 2019 se 432 eenhede.
Die stropermark sien gunstiger daarna uit. Drie eenhede minder is in April 2020 verkoop teenoor April 2019 toe 23 stropers nuwe base gekry het. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope sowat 8% meer as verkope in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
In die verslag sê Cadman hoewel daar baie pessimisme is wat aangespoor word deur die reaksie op beperkings wat die regering afdwing om die verspreiding van die koronavirus te beperk, gaan voedselproduksie byna onverpoos voort. Boonop dui die jongste oesskatting van die Nasionale Oesskattingskomitee op ’n uitstekende somergewas-oes, terwyl die swakker wisselkoers kommoditeitspryse ondersteun. Sentiment in die mark is dus oorwegend goed.
Die pryse van ingevoerde landboumasjinerie gaan binnekort aansienlik verhoog word weens die swakker wisselkoers. Cadman meen dat verkope op kort termyn gevolglik waarskynlik goed gaan wees, totdat die voorraad toerusting wat teen laer pryse beskikbaar is, uitgeput is. Huidige ramings binne die bedryf dui daarop dat trekkerverkope vanjaar tot 10% minder gaan wees as verlede jaar.Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier