Die veeldoelige Allan- Live-Bottom-dubbel-aswa, wat spesifiek op aartappelboere gerig is, word deur Bestbier SA van Bloemfontein onder ’n lisensie van Allan in Kanada plaaslik vervaardig. Die wa het ’n hidroulies aangedrewe voerband, wat die aflaai van die produk versag. Die wa het ’n valkant sodat uithalers se aftap-arm tot bykans op die bodem van die wa kan reik en dus valskade aan aartappels uitskakel. Die wa het ’n laaivermoë van 10 ton en kan met bykomende toevoegings ook as ’n kalk- strooier, tapkar of ’n plaasvervanger vir ’n kantelwa ingespan word. Dit vereis ’n trekker van minstens 80 kW. PRYS: R563 500. NAVRAE: Mnr. Gouws Prinsloo, e-pos: sales@ bestbiersa.co.za; sel 072 511 5449.
Agro Tractor House van Benoni, vervaardiger van sleepwaens en verspreider van Poolse werktuie, het ’n enkelry-aartappeluithaler vertoon wat drywing van minstens 35 kW benodig. Benewens aartappels kan patats, beet en knoffel daarmee geoes word. PRYS: R55 200. NAVRAE: Mnr. Villy Iversen, sel 082 625 2124.
Om by die Allan-dubbel- aswa te pas, voer Bestbier SA die betroubare Allan-tweery-aartappeluithaler, wat in Kanada vervaardig word, na Suid-Afrika in. Dié uithaler kan gemiddeld 4 ha/dag uithaal. Die masjien is robuus gebou en Bestbier SA meen die onderhoud van die masjien beloop slegs R250/ha. Die uithaler vereis trekkrag van minstens 75 kW. PRYS: R2 271 250. NAVRAE: Mnr. Gouws Prinsloo, e-pos: sales@bestbiersa.co.za; sel 072 511 5449.
Die elektroniese sorteerder U-Vision van Uniekum benut sagteware van die Nederlandse Ellips-groep om aartappels ten opsigte van eksterne gehalte en volgens gewigklasse te sorteer. Dit het 12 sorteerbane, 6 tot 18 uitgange en 12 vibrasiegeute en ’n produksievermoë van 12 ton per uur. Afstandbeheer via die internet is moontlik. PRYS: R6,9 miljoen. NAVRAE: Mnr. Menke Antonides, e-pos: menke@uniekum.co.za; sel 082 922 7221.
Van Zyl Staalwerke van Reitz het ’n reeks aartappelverpakkingstoerusting bekend gestel. Dié grootmaat-ontvangsbak het ’n vermoë van 9,5 m3, ’n 900 mm-breë vervoerband waarvan die spoed verstelbaar is (een van 1,2 m breed kan ook bestel word) en kan tot 50 ton per uur verwerk. PRYS: R184 000. NAVRAE: Mnr. Charl de Wet, e-pos: charl@vanzylstaal.co.za; sel 066 305 7336.
Dié multikopskaal van Unie- kum van Brackenfell, is aan die kruin van outomatisering. Die masjien, met ’n vermoë van 23 afwegings van 10 kg elk per minuut, is binne 50 g akkuraat van die verlangde gewig. Die masjien kan van 1 kg tot 25 kg afweeg. Dit is toegerus met ’n dubbeluitgang, een aan elke kant, waar twee handvullers aangebring is. ’n Geoutomatiseerde sakkievuller en stikkers kan ook daar aangebring word. PRYS: R1 587 000. NAVRAE: Mnr. Menke Antonides, e-pos: menke@uniekum.co.za; sel 082 922 7221.
Die Spaanse sakkievuller-en-stikker INTec BC05 word deur Uniekum ingevoer. Die BC05 kan 10 tot 12 sakkies (van 5 kg tot 15 kg) per minuut outomaties selekteer, vul, stik en uitplaas. Die masjien is ontwerp met gebruiksgemak as oogmerk deur trappies vir die werker op die regte plekke aan te bring sodat die sakkie maklik afgehaal kan word. Daar is ook ’n raakskerm om programmering met die druk van ’n enkele knoppie moontlik te maak. Dit bied ook internetondersteuning vir vinnige bystand. PRYS: R1,127 miljoen (onderhewig aan wisselkoersskommelings). NAVRAE: Mnr. Menke Antonides, e-pos: menke@uniekum.co.za; sel 082 922 7221.
Van Zyl Staalwerke het ’n oplig-roller-groottesorteerder van 1,2 m breed gebou. Die sorteerder bestaan uit twee stelle rollers, soos by ’n val-rollersorteerder, maar die vaste pype van die sorteerder is in hierdie geval met nylonratte toegerus en roteer dus terwyl dit sorteer. Hierdie rotasie dwing die produk om te draai en verseker dus doeltreffende groottesortering en voorkom dat kleiner aartappels aan die sorteerpype vashaak. Die sorteerder is 5,6 m lank, het ’n vermoë van 20 ton/h en sorteer in vyf groottes. PRYS: R310 500. NAVRAE: Mnr. Charl de Wet, e-pos: charl@vanzylstaal.co.za; sel 066 305 7336.
Van Zyl Staalwerke se Carousel van 5 m is ’n robuuste ontwerp. Die kettingaandrywers aan die koppenent van die werktuig is nader aan mekaar geplaas om te voorkom dat die dryfas van die kettings begin kinkel. Die Carousel se spoed kan verstel word. ’n Outomatiese sakkiestikker is ’n opsionele ekstra. Die masjien is modulêr en kan met 2,5 m-seksies verleng word. PRYS: R73 600. NAVRAE: Mnr. Charl de Wet, e-pos: charl@vanzylstaal.co.za; sel 066 305 7336.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.