Die mentorskapprogram van die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraantrekker-en- enjinklubs (Savtek) om die liefde vir die restourasie van landbouveterane onder ’n jonger geslag enjinbouers te laat herleef, is besig om vrugte af te werp.

Mnr. Christo Pieterse, voorsitter van Savtek, sê die derde nasionale Engen-restoureerkompetisie was só suksesvol dat voormalige deelnemers vanjaar selfs as mentors opgetree het om die aflosstokkie aan nuwelinge oor te gee.

In die eerste kompetisie in 2016 was daar agt finaliste. In die 2020-eindronde, wat weens die Covid-19-pandemie eers op 1 Mei vanjaar kon plaasvind, was daar 17 deelnemers. Die eindronde is by die Ferreira-museum in Bloemfontein aangebied.

Om die verskillende vaardigheidsvlakke van die deelnemers in ag te neem, word die Engen-kompetisie in vier klasse ingedeel. Die intreevlak is vir deelnemers jonger as 18 jaar met kompakte enjins, soos die Villiers en Briggs & Stratton. Dan volg die standaardklasse vir die juniors en seniors (onderskeidelik jonger as 18 jaar en tot 30 jaar), en vierdens ’n meestersklas.

Mnr. Christo Pieterse (links), voorsitter van Savtek, saam met mnre. Jannie Ferreira (middel, gasheer) en Paul Delport (Engen).

Die drie afdelings van die kompetisie is die restourasie van die enjin, ’n werkboek waarin die proses beskryf is, asook ’n aanbieding voor die beoordelaars, wat eintlik ’n gesprek tussen die restoureerder en belangstellendes op ’n skou naboots.

Die totale prysgeld vir die eerste drie deelnemers in elke klas was vanjaar R160 000. Engen ondersteun al jare lank die bewaring van veteraan-landboumasjinerie.

Mnr. Franco Coetzee, wenner van die standaardklas vir seniors, met sy Wolseley WD Vetsak (2,24 kW) wat op ’n plaas by Wesselsbron gebruik is om ’n National D8-pomp aan te dryf, maar later langer as ’n dekade in ’n skuur vergete gebly het.
Die span van die Morgenzon-landbou-akademie, van links, Christo du Preez, Dwayne Weitz en mnr. Wybrand Wondergem, by hul Lister CS12-2 van 1956. Dit is geskenk deur ’n boer van die dorp wat dit saam met ’n kragopwekker vir sy melkery gebruik het.

MENTORSKAP WERP VRUGTE AF

Een van die legendes in Savtek-kringe, wyle mnr. Jurie Swart van Kroonstad wat onder meer die riglyne vir die beoordeling van veteraanenjins opgestel het, se kleinseun was ook ’n wenner. Die 18-jarige Pieter Smit van Rustenburg het in 2018 met sy oupa as mentor die standaardafdeling vir juniors gewen. Sy oupa het ’n versameling van 32 trekkers gehad en het Pieter van kleins af opgelei.

Die tweelingbroers mnre. Jurg en Sias Calitz van Bloemfontein is van die jong geesdriftiges wat nou sorg dat die enjingogga nuwelinge begeester. Van hul eerste deelname met ’n Caterpillar-enjin op ’n veteraneskou in 2015 het hulle in 2019 gevorder tot die inskryf van ’n reusagtige, vierwielaangedrewe 1982 Massey Ferguson 4880.

Mnr. Francois van Rooyen van Brackenfell, naaswenner in die meestersklas, met sy McCormick- Deering M (1925) van 4,47 kW. Dié enkelsilinderenjin is op plase gebruik om water te pomp, as kragbon vir die voerkerwer of in die melkstal. Sy pa, Danie, is sy mentor. Francois en sy broer, Pierre, het in hul pa se werkwinkel grootgeword. Die enjin se restourasie het Francois sowat R25 000 gekos. Hy was vanjaar ook mentor van Bernhard Badenhorst, naaswenner in die junior klas vir kompakte enjins, met ’n enjin wat hy aan hom geskenk het.
Mnr. Gustav van der Westhuizen (regs) en sy pa, Wessie, van Pretoria. Gustav het van kleins af “olie saam met moedersmelk” in sy pa se werkwinkel ingekry. Sy gunsteling-enjin, ’n dieselaangedrewe Crossley E01 van 1932, was die beste projek in die meestersklas. Die enjin het ’n waterpomp by Bronkhorstspruit aangedryf.

Die broers, albei werktuigkundiges by Hino-vragmotors in Bloemfontein, het ’n program by die werk begin om hul vakleerlinge betrokke te kry. In Jurg se Blackstone-span het mnre. Julius Faba en Dirkie Venter hul Blackstone MP van 1,3 ton in hul vrye tyd herstel. Die Blackstone het voorheen een van die kragopwekkers van Smithfield aangedryf en is waarskynlik die enigste model in Suid-Afrika met ’n oorspronklike oliedrukmeter.

Hulle het die MP-enjin en twee OP-modelle teen skrootwaarde vir R8 500 gekoop en die MP teen ’n koste van R34 000 gerestoureer. Faba en Venter beoog om met hul eie enjins in die volgende ronde van die kompetisie van die nuwe vakleerlinge onder hul vlerk te neem.

Een van die mentors wat vanjaar deur Savtek vereer is, is mnr. Joe Moffett, ’n tegnologie-onderwyser aan die Pietermaritzburg Girls’ High School. Volgens Pieterse het Moffett nie net sy drie deelnemers van die werking van ’n binnebrandenjin geleer nie, maar hulle ook met eksperimente en chemiese toetse die basiese werking van onder meer ’n vergasser laat ontdek. ’n Familielid van Moffett behoort aan die KwaZulu-Natalse trekkerklub en het hulle aangespoor om deel te neem deur ’n enjin aan hulle te skenk.

Pieter Smit van Rustenburg, wenner van die standaardklas vir juniors, met sy Duitse Sendling DM10N. Dié enjin is ’n erfstuk van sy oupagrootjie, wyle mnr. Koos Swart van die plaas Nooitgedacht by Kroonstad, en is vir die besproeiing van grondboontjies gebruik.
Mnr. AJ Reade van Bloemfontein met sy diesel­- aangedrewe Southern Cross BD-C (7,46 kW) wat in ’n melkery buite die stad gebruik is.

Pieterse sê ’n goeie uitvloeisel van die projek is dat ou enjins nie nou bloot op skrootwerwe beland nie. “Dié enjins word vir die nageslag bewaar, maar belangriker nog, die liefde vir veterane word na ’n nuwe geslag oorgedra.”

Van die klassieke veteraanenjins wat beoordeel is, was ’n McCormick Deering M van mnr. Francois van Rooyen van die Wes-Kaap-tak en ’n Crossley van mnr. Gustav van der Westhuizen van die Hoëveld-tak.

“Die 28-jarige Gustav kan nou al as ’n meester-restoureerder gereken word. Hy kan die hardebaarde ore aansit,” sê Pieterse.

Van der Westhuizen is tans betrokke by ’n projek om ’n stoomskip by Simonstad van alle bewarenswaardige artikels te stroop vir opname in ’n museum.

KOMPETISIE-UITSLAE

Mnr. Wybrand Wondergem, onderwyser in tegniese vakke by die Morgenzon-landbou-akademie, sê hy benut die kompetisie as ’n skoolprojek om sy leerlinge in motorwerktuigkunde touwys te maak en ’n basiese kennis van meganika te laat opdoen.