Trots Suid-Afrikaans: Hierdie rygewasskoffel, die KAT Maxicult 16/90 van KAT Implemente van Bloemfontein, bewerk 16 rye op ’n keer of 15,3 m wyd en is vir die groot saaiboer bedoel. Die werktuig vou op tot 6,5 m breed wanneer dit vervoer moet word. Prys: R402 500. Navrae: Mnr. Frikkie van der Merwe, sel 079 694 7721.
KAT Implemente se Maxiroll 16R 0,9 m-roleg is ontwerp om ’n grondkors stukkend te breek nadat die saad geplant is. Dit bewerk 16 rye op ’n keer. Wanneer dit vervoer word, kan dit tot ’n breedte van 6,5 m opvou. Prys: R345 000. Navrae: Mnr. Frikkie van der Merwe, sel 079 694 7721.
’n Werktuig vir vertikale grondbewerking, die Amerikaanse Great Plains Turbo-Max wat deur Agri Africa bemark word, woel die grond los met skottels wat vertikaal geposisioneer is en nie skuins, soos meeste skottelwerktuie, nie. Dit beperk grondverdigting en sny deur die oesreste wat dan bo-op die grond behoue bly. Die werktuig het twee stelle skottels voor, gevolg deur ’n tandroller en ’n gewone roller. Dit het turbosaadkaste wat ook vir die afwisselende toediening van kunsmis gebruik kan word. Prys: R2,07 miljoen. Navrae: Agri Africa, tel. 086 111 3692.
Kelly Tillage System SA het hierdie diamantvormige Australiese grondbewerker, die Kelly Diamond Harrow, vertoon wat by ’n bewaringsboerderystelsel inpas. Voor is twee stelle skottels waarmee onkruide gesny word, gevolg deur skywe met penne aan die agterkant om die grond los te maak. Die diamantvorm van die werktuig het aanleiding tot sy naam gegee. Die werktuig benodig ’n trekker van sowat 110 kW en gebruik net sowat 1,5 liter diesel per hektaar. Dit kan hidroulies opvou om vervoer te vergemaklik (REGS). Prys: R684 250 vir die model op die foto (R103 500 per meter). Navrae: Mnr. Ashley Whitfield, sel 082 567 8245.
Agrisem se kombinasieploeg word as ’n gronddeurlugter beskryf wat nie die bogrond versteur nie. Dit is veral geskik vir minimumbewerking en om ’n land met weiding te deurlug. Die verskillende modelle het balke van 4-8 meter. Dit het nie ’n vaste prys nie, want dit word deur die boer se keuses – soos tandlengte – bepaal. Navrae: Mnr. Christo Bamberger, sel 083 627 0228.
Ilgi Africa van Bloemfontein se CP-beitelploeg, ’n veerbelaaide tandwerktuig, is ontwerp vir primêre of sekondêre bewerking. Dit maak die grond sowat 400 mm diep los met nege tande. Dit het bykomende vlerkskare om die grond te deurlug. Agteraan is ’n roller om die saadbedding voor te berei. Prys: R100 050. Navrae: Mnr. Dawie Bennett, sel 083 383 0154.
Bestbier van Bloemfontein het dié beitelploeg vertoon. Dit is 18 m breed en landerye word daarmee geskoffel. Die V-skoffelskare is op vier balke aangebring en is só geposisioneer dat dit die hele werksoppervlak dek. Wanneer die werktuig vervoer word, vou dit hidroulies op. Dit benodig ’n trekker van 300-400 kW en die werkspoed is sowat 12 km/h. Prys: R1,668 miljoen. Navrae: Mnr. Gouws Prinsloo, sel 072 511 5449.
Só lyk EmCASA van Ottosdal se nuwe konsepkombinasiewerktuig waarmee die boer onkruiddoder tussen rye gewasse kan toedien sonder dat dit op die gewas beland, terwyl dit ook ’n dekgewas, soos akkerbone, tussen die gewasrye kan plant. Die werktuig gebruik tot 30% minder onkruiddoder en kan ook blaarvoeding toedien. Vooraan is skare wat die grond oopmaak sodat die saad geplant kan word. Agter is ’n drukwiel wat die grond weer vasdruk en ook dieptebeheer toepas. Prys: R207 000 (vir ’n sesrymodel). Navrae: Mnr. Louwrens Rudolph, sel 083 388 5291.
Northmec Implemente se Machio Gaspardo Draqula-kombinasiewerktuig uit Italië doen ’n deeglike skottelbewerking deur die oesreste op die grond te sny en die grond om te keer. Die skottels werk teen verskillende hoeke ter wille van groter doeltreffendheid. In die middel van die werktuig is tande wat die grond breek en agter is ’n roller wat die saadbedding gelyk maak. Dit werk 4,3 meter wyd en benodig ’n trekker van sowat 260 kW. Prys: R1,495 miljoen. Navrae: Mnr. Shaun van Jaarsveld, sel 084 588 0308.
’n Verskeidenheid toerusting uit die Tjeggiese Republiek vir bewaringsboerdery vir saaiboere is deur Bednar Farm Machinery vertoon, ’n onderneming van Frankfort in die Vrystaat wat in werktuie vir grondvoorbereiding spesialiseer. Op die foto is die Bednar Swifter-skottelwerktuig wat 8 m wyd werk en twee rye skottels het. Agter is rollers vir dieptebeheer. Die werktuig word deur ’n trekker van sowat 250 kW getrek. Prys: R1 184 500. Navrae: Mnr. Frikkie Hefer, sel 060 976 2200.
Rula-Agri se KRC 9000 is moontlik die eerste gepatenteerde werktuig wat kalk diep in die ondergrond toedien. Grondsuurheid in die dieper grondlae is wêreldwyd ’n probleem en kan met die toediening van kalk reggestel word. Die werktuig plaas die kalk met behulp van tande tot 800 mm diep of vlakker, na gelang van waar die probleme volgens ontledings lê. Die hoeveelheid benodigde kalk word ook deur die grondontleding bepaal. Prys: Moet nog bepaal word. Navrae: Mnr. Tiaan van Loggerenberg, sel 082 882 1272.
Mnr. Charl Fouché (op die foto) van AgriCAD wys hoe groot dié pasmaak-skeurtandwerktuig is wat gemik is op sandgrondgebiede in die Vrystaat en Noordwes. Die tandsamestelling met sy werkdiepte van tot 800 mm bring mee dat boere tot sowat 50% bespaar wanneer die tande vervang moet word. Dit het twee rye van vier tande en die kragbehoefte is 50 kW per tand. Prys: R1,3 miljoen (aflewering uit Pretoria is uitgesluit) Navrae: Mnr. Charl Fouché, sel 078 095 7974.
Yellow Line van Bloemfontein met sy hidrouliese wisselgang-skotteleg met 20 skottels en ’n werkswydte van 2,3 m. Die skottels het ’n deur- snee van 660 mm en het ghriesbare laers. Die werktuig benodig ’n trekker van ten minste 60 kW en is gemik op saadbeddingvoorbereiding. Prys: R121 900 Navrae: Mnr. Herman Greyling, sel 082 789 2879.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.