Hou die volgende paar uitgawes van Landbouweekblad dop vir nóg werktuie en toerusting op Nampo Kaap.

Piket Implemente van Piketberg het sy nuwe, klein negetand-graanplanter vertoon. Sy voordeel is dat tot 350 mm diep op ongelyke grond geplant kan word sonder dat die plantdiepte, wat vooraf gestel word, wissel. Dit is ongeag of die plantwerk op en tussen kontoere op die land gedoen word. Die werkwydte is 2,7 m. ’n Trekker van net 65 kW is nodig. Prys: R258 750. Navrae: Mnr. Carel van Niekerk, sel 082 809 4245.
Waarskynlik die grootste werktuig op skou was die Claas Lexion 760 Montana-stroper wat deur Overberg Agri vertoon is. Dit word aangedryf deur ’n sessilinder-Perkins T4-enjin wat 370 kW lewer en skoon uitlaatgasse vrylaat. Die graantenk is 9 000 liter, en die totale sifoppervlakte 5,1 m2. Danksy die Cemos-rekenaarstelsel werk die stroper ten volle outomaties. Dié reus werk met gemak teen hellings van 17°. Die Montanastelsel — die eerste in sy soort in die land — sorg dat die snytafel en graanopteller die helling volg van die graanland waarop dit werk, terwyl die stroper horisontaal bly teen hellings. Hy het ook ’n D3- en D4- outomatiese skoonmaakstelsel. Prys: R6,785 miljoen. Navrae: Mnr. Ray Rademan, sel 076 842 6586.
Bon Avontuur van Albertinia het sy reuse-, plaaslik vervaardigde 80 ton-landgraansilo (links) — waarskynlik die grootste in Suid-Afrika — asook sy 22 ton-graantapkar vertoon. Die uittaptempo uit die agtwielsilo met sy ses landingsbene is 4 ton tot 4,5 ton per minuut. ’n Unieke voordeel is dat die silo verskuifbaar is met nog 25 ton graan daarin. Die tapkar is uit Domex 550-staal gemaak. Dit is ideaal om op ongelyke terrein te werk. Die pomptempo is 7 ton graan per minuut na die landsilo. Dit het bodemstortingsklappe vir leegmaak oor ’n graanpit. Dit is toegerus met dubbele asse met ’n tandem-aksie vir rygemak. Albei voertuie het hidrouliese remstelsels wat rem teen afdraandes vergemaklik. Die silo benodig ’n trekker wat 108 kW lewer wanneer hy leeg is, en die trapkar 150 kW. Prys: Die silo kos R822 250 en die tapkar R506 000. Navrae: Mnr. Marais Pienaar, sel 082 490 5483.
Japs Engineering van Be- noni het sy mobiele Goliat 5-graanskoonmaker vertoon, wat elektronies of vanaf sy hidrouliese stelsel werk. Die masjien kan 60 ton tot 80 ton saad per dag skoonmaak, en is enig in sy soort in die land. Hy het dubbele asse en kan agter ’n bakkie gesleep word. Prys: R368 000. Navrae: Mnr. Jaap-Jan Sterkenberg, sel 082 890 9476.
Die nuwe McDon FD1 Flexdraper-strooptafel pas op enige fabrikaat stroper. Dit is in drie seksies verdeel wat individueel die kontoere van die land volg. Die invoermeganisme verseker ’n egalige vloei van graan, terwyl die tafel die landkontoere volg vir maksimum werkverrigting. Die werkbreedte is 10,6 m. ’n Model van 10 m en van 15 m is ook beskikbaar. Prys: Die 10,6 m-model kos R1 712 350. Navrae: Mnr. Louis van der Merwe, sel 072 626 8409.
Orbach Agri van Vereeniging het sy Orbach 2,6-sestol-lusernsnyer, waarvan die lemme 360 grade kan draai, vertoon. Dit waarborg deeglike snywerk. Dit het ’n veiligheidmeganisme — ’n breekbout — wat keer dat klippe, pale en ander voorwerpe in die land die werktuig beskadig as dit getref word. Dit is robuus, van harde staal gebou, en werk vanaf die trekker (minstens 60kW) se hidrouliese stelsel. Prys: R147 200. Navrae: Mnr. Lesley Wentzel, sel 083 580 2118.
JD Implemente van Swellendam het sy nuwe John Deere L341-LSB-grootbaler vertoon, wat toegerus is met ’n baalhulpstelsel wat verstoppings kan opklaar en verstellings maak. Die verpakkingskamer kan heelwat swaarder bale as normaalweg maak, na gelang van die soort plantmateriaal. Dit het ’n outomatiese meetstelsel wat baallengtes meet — van 600 mm tot 3 m. Prys: R2,587 miljoen (sonder ekstra bybehore). Navrae: Mnr. Nelius Oosthuysen, sel 082 809 4008.
Die Rumax 7-volvoermenger is ’n swaardiensmasjien wat met industriële kettings aangedryf word. Sy vermoë is 7 m3. Dit het dubbele awegare wat die voer beweeg. Die gemengde voer word aan die kant regstreeks in veevoerbakke uitgepomp, maar ’n agteruitlaaipunt is ook opsioneel beskikbaar. Die menger werk vanaf die trekker se hidrouliese stelsel. ’n Skaal en hidrouliese inlaaibak is opsioneel beskikbaar. Prys: R207 000. Navrae: Mnr. Jaco Pieters, BJP Suppliers, sel 082 335 3970.
Kokama van Koster se kleinskaalse versakkingsaanleg bestaan uit ’n menger, voerband en opvangsilo vir die meng, versakking en opberging van dierevoer. Die onverwerkte materiaal word in die menger saamgevoeg, waarna dit met die voerband na die silo geneem word. Die silo het ’n klein voerband onder wat die gemengde voer na die sak bring. Tot 3 ton voer kan per uur gemeng en versak word. Prys: R126 500. (Dit kan ook volgens behoefte groter of kleiner gebou word.) Navrae: Mnr. Kobus Botha, sel 083 654 7465.
Die nuwe Baaljagter BH10 van Agri Shalom van Bloemfontein kan tot 10 groot, ronde bale maklik uit ’n land vervoer vir opberging. ’n Trekker sleep dit tot by elke baal op ’n land, waarna die jagter se “vlerke” aan weerskante oopmaak, oor die baal vou en dit optel. Vyf bale word só aan weerskante opgetel. Wanneer tien bale aan weerskante opgetel is, ry die trekker na die opbergplek, die vlerke vou oop, die trekker beweeg vorentoe en die bale bly op die grond lê. Prys: R161 000. Navrae: Mnr. Jan-Abraham Strauss, sel 082 636 1785.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.

© MessengerPeople