Die NDBV se onverbiddelike benadering jeens die uitvoer van lewende hawe raak ál duideliker. Hy sal met niks minder as ’n algehele verbod op uitvoer tevrede wees nie. Dit is ’n betreurenswaardige houding omdat almal wat by die uitvoer van lewende hawe betrokke is, dierewelstand inderdaad as ’n voorrangsaak beskou. Almal is dit eens: As diere swak behandel word, sit die uitvoer stop. Die NDBV is ook al genooi om ’n oorsigtelike rol te speel, maar ongelukkig word sy vermoë tot onpartydigheid nou erg bevraagteken.

’n Mens kan eers oor al die ekonomiese voordele van uitvoer begin praat wanneer daar na die diere omgesien is. Ongelukkig het die NDBV se verskeie regsgedinge al daartoe gelei dat twee vragte skape nie uitgevoer kon word nie. Dit het volgens uitvoerders bygedra tot ’n verlies van sowat R300 miljoen vir die Oos-Kaapse ekonomie. Die pyn word natuurlik die kwaaiste gevoel deur die kleiner, swart skaapboere wat diere in goeder trou aan die uitvoerder gelewer het.

Die NDBV se strydlustige en soms erg polariserende benadering tot dierewelstand is onlangs aan ’n Oos-Kaapse kommersiële veeboer geopenbaar. Twee inspekteurs van die NDBV het een middag onaangekondig by sy plaas opgedaag. Erge bewerings van dieremishandeling is blykbaar teen die boer gemaak.

Nadat die boer vir hulle gesê het hulle benodig ’n hofbevel om sy plaas te betree, het hulle die volgende dag teruggekeer — dié keer met ’n hofbevel en vyf swaargewapende polisiemanne. Nadat die boer se hospitaalkampie langs die huis besoek is, was dit nie lank nie of hy word aangesê om twee skape van kant te maak. Die boer het geweier en gevra of hulle veeartse is wat sulke gevolgtrekkings kan maak. Hulle was nie. Die gesprek het toe ontaard in ’n ongemaklike woordewisseling oor die fynere punte van dierewelstand.

Dit is baie duidelik dat die boer uit die staanspoor as skuldig beskou en ook so behandel is. Nugter alleen weet wat die NDBV met hierdie aggresiewe houding probeer bereik het.

Daar is ook wyer oorwegings. Die enorme probleme wat Suid-Afrika te bowe moet kom, kan net met ekonomiese groei opgelos word. Landbou-uitvoer is een van ooglopendste geleenthede, veral omdat Suid-Afrika die afgelope 26 jaar van demokrasie soveel slegter gevaar het as vergelykbare ekonomieë om uitvoermarkte te ontwikkel.

Nou moet Suid-Afrika skarrel om die agterstand in te haal, want plaaslike boere bly van die produktiefste ter wêreld. Net vir sitrus is die projeksies dat produksie teen 2030 met 76% sal toeneem. Wat die veemark betref, is dit welbekend dat plaaslike boere maklik tot die helfte minder vir hul beeste kry as boere in Australië omdat Suid-Afrika nie hul landbou-uitvoermarkte in Suidoos-Asië het nie.

Die NDBV se aanhoudende verset teen die uitvoer van lewende hawe is teenproduktief, nie net vir Suid-Afrika nie, maar ironies genoeg ook vir die diere wat hy probeer beskerm. Want wat op dees aarde help dit tog om nie met die mense te praat wat die diere besit nie?