Destyds, in 1919, toe die tydskrif die eerste keer verskyn het, was dit ’n vasberade poging om Afrikanerbestaansboere, verarm deur die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog, met praktiese landbou-inligting te probeer kommersialiseer. Vandag is Suid-Afrika se wêreldklas-landbou ’n getuigskrif vir hoe suksesvol daardie poging uiteindelik was. Die land se boere word deesdae wyd as van die bestes ter wêreld beskou. 

Vandag het die osse en perde met touleiers van weleer plek gemaak vir reusewerktuie met ’n magdom slim digitale oë wat alles dophou. Hommeltuie, genomika en slim klimaatbeheer raak deesdae so deel van ’n boer se lewe soos droogtes en donderstorms. 

En namate die landbou oor die jare verander het, het Landbouweekblad ook aangepas. Waar daar voorheen net ’n tydskrif was, het Landbouweekblad oor die jare ’n gesonde oes nuwe produkte voortgebring. Daar is ons gewilde TV-reeks, Landbouweekliks, en landbouboeke, soos Hennie Snyman se weidingsgids, die Vra vir Faffa-dieregesondheidsreeks en Theo Vorster se toonaangewende familieboerderyhandleiding. 

Daar is ook ’n reeks spesiale tydskrifte wat jaarliks uitgegee word – Vee, Tegnologie en Boereplanne – en natuurlik Boerekos, vandag Suid-Afrika se topverkoper-kostydskrif. Dan is daar webinare en konferensies, waar van die wêreld se beste kundiges hul kennis aan boere oordra, en wat op ’n verskeidenheid platforms uitgesaai word. 

Nou, vir die eerste keer, gaan ons ál ons produkte vir u gerieflik in een kraal jaag. Van TV tot tydskrifte en konferensies gaan binnekort alles op een plek te vinde wees – Landbou.com. Vir net R149 per maand, soveel as wat vier uitgawes van die tydskrif u per maand sou kos, sal u nou daar toegang kry tot ál Landbouweekblad se magdom produkte. 

Daar sal u ’n Landbouweekliks-episode oor een van die land se topboere kan kyk, of een van ons verskeidenheid spesiale tydskrifte kan lees. As intekenaar sal u ook geregtig wees op ’n stewige afslag op enige nuwe webinare, of miskien wil u een van die oues gaan kyk? 

Daar sal ook ’n nuwe weerafdeling wees, met die nuuste weervoorspellings, ontleding van weerpatrone, algemene weerstories en gereelde gesprekke met streeksvoorspellers. 

Of besoek ons omvattende argief, waar u byna enigiets oor die landbou, boerdery en die platteland sal kan vind wat ons die afgelope paar gepubliseer het. 

En natuurlik is daar ook Landbouweekblad self, wat u in PDF-formaat op Landbou.com sal kan lees – nog voor dit op die koöperasierak verskyn of in die pos vertraag kan word! Om die proses in te lui, het die tydskrif wat jy nou lees, ’n vars voorkoms gekry.

Dit is alles natuurlik benewens al die ander dinge wat Landbou.com die grootste aanlyn landbouplatform in Suid-Afrika maak. Nuusberiggewing deur ’n deurwinterde span landboujoernaliste, die nuuste markpryse of die immergewilde Vra vir Faffa-afdeling, waar ’n paneel kundiges enige landbouvraag sal beantwoord. Of staan verstom deur boere se vindingrykheid wanneer u ons boereplanne-argief besoek. Mettertyd sal daar selfs meer wees om te ervaar, soos ons strewe om die landbou so deeglik moontlik te dek en ’n Afrikaanse aanlyn tuiste vir die landbou te skep. 

Met toepassings vir Android-, Apple- en Huawei-toestelle, en ’n luisterfunksie wat u sal toelaat om na Landbouweekblad-artikels in u stroper of bakkie te luister, bly dit vir ons ’n voorreg en eer om Suid-Afrika se trotse landboubedryf te bedien – in watter formaat ook al.

Ons hoop u gaan dit geniet om saam met ons op ons splinternuwe werf te boer namate ons hierdie nuwe hoofstuk in ons eeu lange reis met u as boere betree.