Die afgelope twee seisoene was daar verskeie vrae oor die werking en geloofwaardigheid van die witmieliemark, veral of die prys ooreenstem met die voorraadsyfers. Dié kwessie het ook op die onlangse Graan SA-kongres in die kollig gekom. Die beste is om na diedata te kyk en te evalueer of dit sin maak.

Volgens ontleders van die Amerikaanse departement van landbou se komitee wat vraag en aanbod in die internasionale mieliemark dophou, het Suid-Afrika van die beste inligting ter wêreld en gebruik ons tegnologie om die inligting in te samel – iets wat nie baie lande doen nie.

Daar is nogtans baie vrae rakende die voorraad- en verbruiksyfers, veral voor die vroeë lewerings aan die einde van die bemarkingseisoen inkom. Die neiging bestaan om na ’n bemarkingseisoen in geheel te kyk, maar omdat ons met landbouprodukte werk, weet almal daar is ook siklusse binne die seisoen, met die tydperk net voor vroeë lewering gewoonlik onder die vergrootglas.

Dus het ek gaan kyk hoe lyk die maandelikse vraag- en aanbodsyfers, spesifiek in 2020, en hoe dit met vorige jare vergelyk.

AANBOD

As die maandelikse aanbodsyfers geëvalueer word (grafiek 1), kan gesien word dat aanbod in die 2019- en 2021-seisoen tot in Februarie bo die tienjaargemiddelde was. Dit was egter nie die geval in die 2020-seisoen nie. Die aanbodsyfers was onder die tienjaargemiddelde, veral van Maart tot Junie 2020.

GRAFIEK 1: MAANDELIKSE WITMIELIE-AANBOD

VERWERKING EN UITVOER

Wat totale verwerking betref (grafiek 2), kan gesien word dat die verwerkingsyfers in 2020 hoër was as die tienjaargemiddelde. Veral vanaf Februarie 2020 was dit aansienlik hoër as die tienjaargemiddelde, asook as die 2019-syfer. Die syfer vir Februarie 2021 is ook hoër as dié van 2019 en 2020. Dit wil sê daar was op daardie tydstip genoeg voorraad in die stelsel vir verwerkers.

GRAFIEK 2: MAANDELIKSE VERWERKINGSYFERS

Wat verwerking vir menslike verbruik betref, soos deur die Suid-Afrikaanse graaninligtingsdiens (Sagis) aangemeld, het daar aansienlike groei plaasgevind (grafiek 3). Dit is grootliks vanweë die Covid-19-pandemie en die daling in besteebare inkomste, met sekere inkomstegroepe wat mieliemeel weer as ’n belangrike voedselbron beskou. Van Februarie tot Maart 2020 het verwerking skerp toegeneem (met 18%).

Volgens Sagis het die 15 grootste meulens in Suid-Afrika se syfers van Februarie tot Maart 2020 met 15% gegroei, vergeleke met Februarie tot Maart 2019. Dit was moontlik dat individuele meulens gestaan het, maar dit was nie die markneiging nie.

GRAFIEK 3: MAANDELIKSE WITMIELIEVERWERKING VIR MENSLIKE GEBRUIK

Grafiek 4 toon Suid-Afrika se witmielie-uitvoersyfers. Daarvolgens was 2019 se syfers (tot Februarie) naby aan die tienjaargemiddelde, maar 2020 en 2021 se syfers vir dié tydperk was heelwat hoër. Dit was in 2020 veral van Januarie tot Maart aansienlik hoër. Die uitvoerstygings was hoofsaaklik weens uitvoer na ander Afrikalande.

GRAFIEK 4: MAANDELIKSE WITMIELIE-UITVOER

Wat uitvoer betref, was daar ook baie aannames en gerugte dat pryse op uitvoerpariteit verkeer, maar dat uitvoer nie noodwendig plaasvind nie. Dit was wel die geval as ’n mens diepsee-uitvoer evalueer, maar die Afrika- en totale syfers toon dat bogemiddelde maandelikse uitvoer plaasgevind het.

EINDVOORRAAD

Die hoër verwerkingsyfers en goeie uitvoersyfer het die voorraad in sommige maande onder druk geplaas. Dit kon op die mark gesien word, veral as daar na uitlaaisyfers en spesifiek die uitlaaitydperke gekyk word. Omdat meer verwerking en uitvoer plaasgevind het, was daar ’n groot geskarrel om die maand se fisieke voorraad in die hande te kry om volumes te kon handhaaf. Dit het die Suid-Afrikaanse mark en logistieke stelsels se vermoë getoets.

As 2020 geëvalueer word (grafiek 5), was die eindvoorraad in Januarie en Februarie baie naby aan die tienjaargemiddelde, maar van Maart tot Junie was dit onder die gemiddelde. Namate die oes gelewer is, het die voorraad ’n groot verbetering getoon en bo die gemiddelde en 2019 se vlak beweeg.

GRAFIEK 5: MAANDELIKSE EINDVOORRAAD

Om die effek van voorraad en verbruik te evalueer, is dit die beste om die persentasie verbruik met die eindvoorraad te vergelyk. Let daarop dat dit nie die voorraad-tot-verbruik-verhouding is wat normaalweg aan die einde van die bemarkingsjaar gebruik word nie. Hierdie verhouding dui aan hoeveel die verbruik van die maandelikse voorraad uitmaak, met ander woorde hoe hoër dié persentasie is, hoe minder voorraad is beskikbaar.

As ’n mens na grafiek 6 kyk, kan gesien word dat die styging in verwerking en uitvoer in 2020 ’n verhoging van hierdie syfer toon, veral van Februarie tot Junie.

GRAFIEK 6: VERHOUDING TUSSEN VERBRUIK EN EINDVOORRAAD

PRYSVERGELYKING

Die heel belangrikste op enige mark en vir produsente is of die prysbeweging fundamentele inligting volg. Daar was in die 2020-seisoen baie vrae oor die JSE-termynmarkpryse teenoor uitvoerpariteit.

Dit is belangrik dat as vergelykings getref word, die regte inligting vergelyk word. Dit is dus belangrik om Randfontein-uitvoerpariteit met die Randfontein-JSE-prys te vergelyk.

Die styging in die persentasie verbruik teenoor eindvoorraad weerspieël dieselfde neiging as die JSE-prysbeweging, wat ’n aanduiding is dat pryse wel fundamentele inligting gevolg het (grafiek 7).

GRAFIEK 7: UITVOERPARITEIT VAN WITMIELIES (RANDFONTEIN) IN DIE KALENDERJAAR 2020

Die vraag is altyd of die prys in dieselfde verhouding beweeg het as die persentasie verbruik van die eindvoorraad. Die prystransmissie beweeg gewoonlik nie in dieselfde ordegrootte nie en kan deur baie faktore beïnvloed word, veral voor vroeë lewerings.

Die beste manier om markfaktore te vergelyk, is deur middel van prysindekse. As die JSE-prysindeks vergelyk word met die verhouding van persentasie verbruik teenoor eindvoorraad, wil dit voorkom dat pryse wel dieselfde neiging gevolg het, hoewel daar nie ’n perfekte korrelasie was nie (grafiek 8).

GRAFIEK 8: PRYSINDEKSVERGELYKING

GEVOLGTREKKING

As 2020 met historiese en fundamentele inligting vergelyk word, wil dit voorkom dat die prys die fundamentele inligting gevolg het. Dit is belangrik om deurlopend die mark te evalueer en seker te maak die prys volg die markneigings. Die markinligting wat deur Sagis gepubliseer en hier gebruik is, is deur Sagis geverifieer ingevolge wetgewing. In 2020 het Sagis 475 inspeksies ter plaatse gedoen.

Een van die grootste kwessies met graanbemarking is om die inligting intyds te interpreteer. Dit is altyd makliker om histories te evalueer. Die interpretasie van inligting verskil ook van persoon tot persoon, maar die belangrikste bly dat vraag en aanbod die prys moet bepaal en dat die prys en markinligting histories moet sin maak. 

Dr. Dirk Strydom is bestuurder van graan- ekonomie en bemarking by Graan SA.