Naweke sal jy mnr. Gerrit van Zyl op sy vierwielmotorfiets tussen sy Bonsmaras kry. Sy groot liefdes is sy rooi beeste, sy plaas en die natuur. Dié Bloemfonteinse sakeman is egter veel meer as ’n naweekboer.

Vanweë die omvang van sy boerdery op die plaas Struisfontein en die wetenskaplike manier waarop hy sy Hanzyl Bonsmara-stoetery bedryf, deug die beskrywing naweekboer glad nie.

Sy rubrieke in Landbouweekblad het ’n groot aanhang. Daarin skryf hy al jare lank onderhoudend en eerlik oor ’n mengsel van praktiese bestuursriglyne en wetenskaplike boerderybeginsels wat daarop gemik is om volhoubaar te boer.

Normaalweg verdien ’n boer nie veel meer as 4% rente op sy kapitaaluitleg nie, heelwat minder as die sowat 6% wat hy met ’n belegging by ’n handelsbank kan kry.

Van Zyl was in dieselfde bootjie, totdat hy hoëdrukbeweiding begin toepas en sy veldbelading en getal beeste verdubbel het. Sodoende verdien hy nou in goeie jare tot 12% rente.

“Ek werk elke jaar my wins per kilogram en hektaar en my opbrengs op kapitaal uit. Ek verdien tans gemiddeld 10-12% rente, wat jy nie met hoër produksie per dier kan behaal nie, maar met hoër veldbelading mits die veld verbeter is.”

Water is lewe. Hier is een van die sinkdamme waaruit die waterkrippe op die plaas vol gehou word in ’n hoëdruk­beweiding-stelsel waar groter troppe beeste meer water op meer plekke nodig het.
’n Koei lek haar maat op Van Zyl se plaas. Omdat sy beeste só gereeld in sy hoëdrukbeweidingstelsel geskuif word, is hulle baie mak.

Kop werk anders

Hy erken sy kop werk anders as menige ander beesboer. “Daar is twee redes. Ek het 20 jaar lank by ’n etiese maatskappy in die korporatiewe wêreld gewerk wat heeltyd aan die voorpunt van navorsing was.

Die korporatiewe wêreld is ook op wins ingestel. Só ’n maatskappy belê baie geld in sy werknemers sodat hulle kan groei, anders en optimisties dink en die vermoë aanleer om probleme in oplossings te omskep en te verbeter.

“Daarom is ek vandag nog op groei ingestel en wil ek suksesvol wees en die aarde in ’n beter toestand los as wat ek dit gekry het.” Hy beskryf homself ook as ’n “verskriklik nuuskierige mens” wat lief is om te leer.

Verder het hy nie die groot vrees vir verandering wat menige boer het nie. Van Zyl het in die Kalahari tussen Hotazel en Van Zylsrus grootgeword waar sy pa, Hans, met vleisbeeste, skape en bokke geboer het.

En, nee, die dorp is nie na hulle genoem nie, sê hy laggend. Sy skooldae was aan die Laerskool Seodin op Kuruman en Greykollege in Bloemfontein. Daarna is hy soos alle matriekseuns Weermag toe.

In 1984 het hy as tegniese beampte by die Afrikaner-beestelersgenootskap in Bloemfontein begin werk. “Ek wou van kleins af boer. As plaasseun het ek op die sandduine kraaltjies gebou en met verskillende kleure klippe, my ‘beeste’, gespeel.

Toe ek vier jaar oud was, het ek ál ons melkkoeie by die naam geken en geweet hoe lyk elkeen se kalf. As ’n koei by die stal inkom, het ek haar kalf gaan haal.”

Ná vier jaar by die genootskap het Van Zyl hom in die korporatiewe wêreld bevind waar hy as verteenwoordiger by ’n farmaseutiese maatskappy, Astra Zeneca, begin werk het.

Daar was hy vir 20 jaar en het tot nasionale verkoopsbestuurder gevorder. Intussen het Van Zyl deeltyds begin boer op Struisfontein, wat toe aan sy skoonpa, mnr. Nic Lessing, behoort het.

Later het Van Zyl die boerdery oorgeneem en nóg plase gekoop. In 2007 het hy sy eie besigheid, Mabitzo Glas en Aluminium, in Bloemfontein begin.

Dit is genoem na sy Tswana-naam Mabitso, wat “name” beteken. Hy is op weekdae by die besigheid en naweke op die plaas. “Só gaan dit al vir 20 jaar aan.

Deesdae bestuur mnr. Ferdie van Zyl die boerdery wanneer ek nie daar is nie. En, weer eens, nee, ons is nie familie nie!” Baie mense wonder hoe betalend boerdery is.

Van Zyl sê daar is ’n gejaag na produksie per dier, maar al is ’n beesboer op die toppunt van reproduksie, kry hy minder rente op kapitaal as by ’n bank.

“Ek kan nie verstaan dat iemand tevrede is dat sy harde werk minder as bankrente werd is nie. Die meeste boere verdien 4% rente op hul boerderykapitaal, 2% minder as met ’n bankbelegging.

Hy betaal dus inderwaarheid 2% in. Dit is onaanvaarbaar.” Drukbeweiding is die antwoord, sê Van Zyl. In 2009 en 2011 het hy die Absa-LNR-eerbewys vir die prestasietoetskudde van die jaar ontvang en in 2011 is hy as Voermol se beesboer van die jaar aangewys.

“Toe bel die veekundige Peter Milton om my geluk te wens en vra hoe ek op dié reproduksie-prestasies gaan verbeter. In my kudde was die verse se ouderdom met eerste kalf gemiddeld 26 maande, die tussenkalfperiode (TKP) 367 dae, koei-tot-kalf-speenverhouding 51% en dragtigheid 92%.

Dit was inderdaad nie maklik om daarop te verbeter nie.

“Oor tien jaar sal ons nie langer kommersieel volhoubaar met die huidige stelsel van drakragnorme kan boer nie, want jy kan nie dragtigheid van 92% en speengewig van 260 kg verdubbel en TKP na veel minder as 365 dae verlaag nie.

Mnr. Gerrit van Zyl op sy gelukkigste – met sy vierwiel-veldmotorfiets tussen sy rooi beeste.
Jong bulle word op 14-16 maande in ’n meerbul-paringstelsel gebruik. Die bulle wat die meeste kalwers verwek, word deur DNS-­vaderskaptoetse geïdentifiseer en verder in die teel­program gebruik.
Vroegryp verse word geïdentifiseer deur hulle op 14-16 maande te paar. Dié wat dragtig raak en kalf, moet binne 400 dae met haar tweede kalf dragtig raak.

Drukbeweiding

“Die enigste is met herlewingslandbou om die grasproduksie en getal weidae drasties te verbeter. Dit word volhoubaar met hoëdrukbeweiding gedoen waarvolgens die beeste nie-selektief wei, meer grasspesies vreet en ’n hoër volume grasinname handhaaf.

Sodoende kan ek méér beeste op dieselfde oppervlakte aanhou. In effek verruil ek dus een swaar speenkalf vir twee ligter kalwers.”

In sy ondersoek na hoëdrukbeweiding het hy baie daaroor gelees en mnr. De Wet Coetzee van Lindley besoek wat drukbeweiding toegepas het volgens ’n metode wat as aangepaste beweiding in veelvoudige weikampe beskryf kan word.

Die Amerikaners noem dit multiple-paddock adaptive grazing.

Sag op die oor

“Die gedagte van herlewingslandbou het sag op my oor geval en die vlam vir my oplossing aangesteek: Skakel van bewaring oor na herlewing. Dit is maklik om te bewaar en ek kan dit selfs sonder beeste doen.

Die vraag is egter hoe maak ek geld terwyl ek die aardbodem verbeter. Dít is waaraan ek toe begin werk het.” Herlewingslandbou staan op vyf bene: Grondbedekking. Lewende wortels vir so lank as moontlik.

Geen chemiese of fisiese versteuring van die grond nie ’n Verskeidenheid plantspesies. Vee in ’n weistelsel om die gras deeglik te benut. Dus probeer Van Zyl om die natuur na te boots.

In die Masai Mara-natuurreservaat in Kenia bewei miljoene wildebeeste die savanna intensief en mis op die grond, leeus jaag hulle verder, hulle wei en mis weer. Uiteindelik keer hulle terug na die beginpunt.

“Met hoëdrukbeweiding aap ons dus die Masai Mara na.” Daar is net soveel of méér lewe in die grond as bo-op die grond. Die oogmerk is dus om die grond gesond te maak. Daardeur neem die koolstof, wat water vashou, toe.

“ ’n Toename van slegs 1% koolstof verbeter die waterhouvermoë met derduisende liter per hektaar danksy reënwater wat nie langer wegvloei nie.”

Namate die grond se gesondheid en vrugbaarheid verbeter, neem die grondbewonertjies wat die organiese materiaal verwerk, ook toe. Die indringingstempo versnel verder omdat daar meer plante bogronds is.

Koolstof in die lug keer deur fotosintese na die grond terug. Omdat daar nou méér gras is, kan die boer méér beeste aanhou.

Hy kan die veldbelading selfs verder verhoog met hoëdrukbeweiding deur kampe vir korter tye nie-selektief te bewei en vir langer tye te laat rus sodat die plantegroei ten volle kan herstel.

Die uitwerking van droogtes is kleiner danksy die goeie grondbedekking, indringingstempo en waterhouvermoë. “Die hoeveelheid beskikbare weiding moet egter amper daagliks goed dopgehou word sodat aanpassings vinnig gemaak kan word.”

Kies die regte beeste

Van Zyl sê by ’n kongres is daar menige keer ’n buffet. Die eerste mense skep die lekkerste kos en die laatkommers moet met die res tevrede wees.

Dieselfde gebeur in ’n beesboerdery. Diere met ’n hoë onderhoudsbehoefte trek aan die kortste ent omdat die lekkerbekke die lekkerste gras vreet. Energie wat deur beweiding beskikbaar raak, word eerstens deur die liggaam vir onderhoud en melkproduksie aangewend.

As daar iets oor is, gaan dit vir reproduksie. “Ons grootste kwessie is om die regte tipe beeste vir ’n nie-selektiewe hoëdrukweistelsel te teel, want nie alle beeste is daarvoor geskik nie.

Dit is nie ’n kleiner bees nie, maar ’n dier wat maklik vet word danksy ’n laer onderhoudsbehoefte; dus easy fleshing low input. Die volwasse koei weeg nog steeds 450-480 kg, maar die vleis aan die karkas word net anders verpak.

Dit is wat die beesboer wil hê. Vet verskaf energie wat in die winter gebruik kan word as dit moeilik gaan.” Dus het Van Zyl die klem van beeste met ’n hoër onderhoudsbehoefte na ’n laer onderhoudsbehoefte verskuif, met die oogmerk om dit volhoubaar te doen.

Hy het begin deur die verse op 14-16 maande te paar om só die vroegryp diere te identifiseer.

Die vers wat dragtig raak en kalf, moet binne 400 dae met haar tweede kalf dragtig raak; vandaar die term “twee-plus-drie” (kalf op twee jaar en weer op drie jaar).

Die diere wat dit regkry en daarna aanhou om gereeld te kalf, is die poel waaruit Van Zyl sy bulle selekteer. Dié jong bulle word op 14-16 maande in ’n meerbul-paringstelsel gebruik.

Dié wat die meeste kalwers verwek, word met DNS-vaderskaptoetse geïdentifiseer en verder in die teelprogram gebruik. Sodoende het Van Zyl die vrugbaarste jong bulle en vroulike diere geïdentifiseer.

Langs hierdie rotsformasie wat bo die grond uitsteek, het Van Zyl sterk water raak geboor. Die aanwys van die ondergrondse water was danksy ou geologiese kaarte.
Drukbeweiding word deur middel van skokdrade toegepas. Sonpanele verskaf die krag daarvoor.

Goeie wisselweiding

Van Zyl het sy weistelsel verander deur alle kampe met permanente, enkele, elektriese skokdrade in kleiner kampies van 6-8 ha te verdeel. Die krag word deur sonpanele voorsien.

Elke kampie se weidae is individueel uitgewerk teen dubbel die normale drakragnorm. ’n Kampie van 5 ha het byvoorbeeld 120 weidae per hektaar per jaar; dus altesaam 600 weidae.

Dan kan hy tegnies 200 grootvee-eenhede (GVE) vir drie dae in die kampie hou. Waarneming bly egter uiters belangrik. Verskillende faktore is in ag geneem tydens die berekening van die weidae.

’n Kampie met ’n spruit kan byvoorbeeld swaarder belaai word en ’n kampie met ’n rantjie of ou lande word ligter belaai. ’n Derde van die grond word jaarliks laat rus om reserwes op te bou.

Klein weidag-aanpassings per individuele kamp word deurgaans gemaak deur ’n Excel-spreiblad met tersaaklike faktore as gids te gebruik.

Van Zyl het ’n kaart vir elke kamp, elke kamp het ’n senior werker in beheer van die stelsel en elke werker het die kaart op sy selfoon waarop die kampe aangedui word.

Elke kamp het ’n naam en kleur volgens veldtipe, en dit toon watter kampe wanneer bewei of gerus word. Gras word oorbewei wanneer dit weer bewei word voordat dit ten volle herstel het.

Van Zyl verkies dat die gras weer in die vyfblaarstadium (wanneer grassade vorm) is, waarna die plant 50% van sy voedingswaarde verloor. As dit goed reën, duur dit 45 dae vandat ’n kampie bewei is totdat die beeste weer kan terugkeer.

In ander distrikte of as dit minder reën, kan dit langer wees. Die belangrikste is genoegsame rus. Omdat die beeste elke tweede of derde dag van kamp verwissel, kry hulle gereeld vars kos.

Met deeglike bestuur is daar nie oorbeweiding nie. Volgens Van Zyl is oorbeweiding ’n kwessie van tyd, nie veegetalle nie.Met ander woorde, een bees op 10 ha kan dit oorbewei as hy té lank daar bly, maar tien beeste op 1 ha kan nie die veld oorbewei as hulle nét lank genoeg daar gehou word nie.

“Sodoende het ek my veld se drakrag verdubbel en my doelwit bereik om méér rente op my kapitaal te verdien deur twee keer méér beeste aan te hou.”

Beperkings en moontlikhede

Ingevolge die ou, geykte stelsel van veldbelading is ’n hele distrik oor dieselfde kam geskeer. Dewetsdorp se drakrag is byvoorbeeld 1 GVE op 6 ha.

“Dit het bepaal hoeveel vee ’n plaas kan dra en daarvolgens het ’n boer om ’n banklening aansoek gedoen. As hy meer vee wou aanhou, is gesê hy gaan sy veld oorbewei.

“Dit was lank ons beperking. Jare lank het almal geglo dit is nie moontlik om die 100 m vinniger as 10 sekondes te hardloop nie, totdat die eerste mens dit reggekry het.

Dit is dieselfde met drakrag. Boere wat hoëdrukbeweiding doen, wys nou wat moontlik is.” Nog ’n natuurlike uitvloeisel was om ná 18 jaar wat hy saam met Mid-Vrystaat Bonsmaras veiling gehou het, dit vanjaar alleen op sy plaas te hou.

Daarvoor benut Van Zyl ’n bestaande skuur op die plaas waarin hy ’n veilingsring en podium ingerig het vir sy eerste produksieveiling vandeesmaand.

Hy gooi sy boeke oop. In die somer van 2019-’20 het hy 68 kg vleis/ha geproduseer. In 2020-’21 was dit 65 kg/ha, bykans twee keer meer as die 38 kg/ha wat die maksimum teen die ou drakrag van 6 ha/GVE is.

Hy neem ook die grootte van ’n speenkalf in sy boerderystelsel in aanmerking. Vir ’n speenkalf van 260 kg kry hy R40/kg (volgens pryse ten tyde van die onderhoud); dus R10 400.

’n Speenkalf van 220 kg is egter méér gesog en hy kry R44/kg by voerkrale. Omdat Van Zyl twee keer meer beeste aanhou, speen hy dus twee speenkalwers teenoor die een in die ou stelsel, wat hom R19 360 in die sak bring (2 x 220 kg = 440 kg x R44/kg = R19 360).

“Ek is gekant teen die gejaag na speenkalfgewig. Deur twee effens ligter speenkalwers te produseer, verdien ek meer geld. Hoekom wil jy dan ’n speenkalf van 280 kg produseer?”

LBW vra . . . Mnr. Gerrit van Zyl

Watter tegnologie is onmisbaar in jou boerdery? Genepro, ’n Excel-spreiblad en natuurlik die internet.

Wat is die beste raad wat jy al gekry het?

My vorige baas, mnr. Guni Goolab, het altyd gesê: “Let’s get the difficult things right.”

Wat is die grootste fout wat jy al gemaak het?

Om nie grond te koop toe dit beskikbaar was nie. Wie was jou mentor? My pa is ongelukkig oorlede toe ek begin boer het, maar ek leer baie by mnre. Arthur de Villiers van Vrede en Pikkie Uys van Wakkerstroom.

Wat is jou grootste kwessies? Om ons winters doeltreffend te bestuur en om in die toekoms goeie arbeid te bekom.

‘Ek is vandag nog op groei ingestel en ek wil suksesvol wees en die aarde in ’n beter toestand los as wat ek dit gekry het.’