Die gebruik van biologiese produkte neem drasties toe, maar daar bestaan steeds baie ongegronde mistastings oor ’n vertakking met talle voordele.

Vra tien boere of konsultante om bewaringsboerdery, herlewingslandbou, natuurvriendelike boerdery of organiese boerdery te definieer, en jy sal byna tien verskillende antwoorde kry.

Vra hulle of daar waarde in biologiese middels kan wees, en die meeste van hulle sal saamstem. Byna almal sal ongelukkig ook ’n storie kan vertel van iemand wat al die een of ander wondermiddel aan hulle probeer smous het.

Die mark vir biologiese produkte is groot, en dit groei vinnig. Tans beloop die wêreldwye mark vir plantbeskermingsprodukte sowat R900 miljard ($64 miljard). Dit bestaan uit onkruiddoders (40%), insekdoders (30%), swamdoders (25%) en ander produkte (5%).

Daarvan word 70% op rygewasse, 20% op vrugte en groente en die ander 10% op sier- en ander plante toegedien. Tans beslaan biologiese produkte maar net 5% van die totale plantbeskermingsproduktemark.

Anders as die konvensionele mark wat teen 6% per jaar groei, groei die biologieseproduktemark teen meer as 17% per jaar. Teen hierdie tempo verdubbel die mark vir biologiese produkte elke 4,2 jaar.

Dit is te verstane gegewe die toenemende verbruikersweerstand teen chemiese produkte weens gesondheids- en omgewingsoorwegings, strenger residuvoorwaardes en weerstandbiedendheid teen konvensionele produkte.

Dit is ook die rede waarom 80% van hierdie produkte in vrugte- en groenteverbouing gebruik word.

Wat is hierdie middels?

Biologiese plaagdoders is bloot ’n subkomponent van biologiese bekampingsprodukte. Laasgenoemde vorm om die beurt deel van biologiese produkte, wat ook biokunsmis en biostimulante insluit.

Interessant genoeg, biokunsmis is al etlike jare in gebruik. Die beste voorbeeld hiervan is die inokulering van peulgewasse met rhizobium-bakterieë wat in simbiose op die wortels van hierdie gewasse leef – die bakterieë bind stikstof uit die atmosfeer in ruil vir suiker vanaf die plant.

Hoewel hierdie stikstofbindende bakterieë verreweg die grootste groepering is, is dit beslis nie die enigste een nie omdat daar ook mikro-organismes is wat voedingstowwe soos fosfaat, kalium, sink en swael mobiliseer.

Biostimulante is reeds etlike jare lank op die mark, met seewier-ekstrakte wat die grootste deel daarvan uitmaak. Ander produkte binne dié groepering sluit in amino- en organiese sure wat onder meer gevorm word met die afbreek van plantmateriaal deur mikrobes.

’n Goeie voorbeeld hiervan is kompostee wat as bron van biologiese kunsmis en biostimulante dien.

Plaagdoders en makro-organismes

Insekte maak die grootste deel van makro-organismes uit, maar dit sluit ook myte en nematodes in. Hierdie groepering is uniek omdat dit uit lewende organismes bestaan wat in die vorm van eiers, larwes, papies of volwasse organismes vrygelaat word.

Wat insekte betref, is daar twee strategieë. Die eerste is om steriele insekte te gebruik om die lewensiklus van ’n plaag te ontwrig.

’n Goeie voorbeeld hiervan is die vrylaat van bestraalde manlike vrugtevlieë wat veroorsaak dat die wyfies nielewensvatbare eiers lê, met die gevolg dat die bevolking drasties afneem mits genoeg bestraalde mannetjies vrygelaat is.

Die tweede strategie is die vrylaat van insekte wat plae vreet of hul eiers binne dit lê as deel van hul lewensiklus. Predatoriese myte word met sukses gebruik om byvoorbeeld rooispinnekop te bekamp.

Ongelukkig het nematodes (aalwurms) ’n baie ongunstige reputasie by boere, maar daar is ook voordelige familielede wat ruspes en ander insekte aanval – hulle is as ’t ware “insekparasiete”.

Die grootste kwessie met makro-organismes is die feit dat lewende organismes geteel, versprei en vrygelaat moet word. Biologiese plaagdoders is afgeleides van natuurlike produkte soos plantekstrakte, bakterieë en sekere minerale.

Die grootste voordeel van dié produkte is dat hulle spesifieke plae aanval, anders as chemiese middels wat alle insekte doodmaak en in effek ’n ekologiese woestyn skep. Hulle is ook minder toksies as sintetiese produkte en breek vinniger af.

Voorbeelde van biochemikalieë wat plae doodmaak of afskrik, sluit in knoffel-, krisantblom-, sitrusskil- en ander ekstrakte in.

Biominerale is effe meer omstrede omdat nie almal sal saamstem dat hulle binne ’n organiese produksiestelsel gebruik mag word nie. Voorbeelde sluit kopersulfaat of swael in.

Ingespan as plaagdoders

Laastens is daar mikro-organismes soos bakterieë, swamme, protosoë, virusse en gisselle wat as plaagdoders gebruik kan word. Uiteraard is dit ’n groot groepering met baie interessante toepassings wat meer aandag verg, maar vir nou sal ek met een voorbeeld volstaan.

Japannese wetenskaplikes het aan die begin van die 20ste eeu ontdek dat die Bacillus thuringiensis- (Bt) bakterium die oorsaak vir hul dooie sywurms is.

Hulle het die probleem in ’n geleentheid omskep deurdat hulle die bakterium suksesvol kon kweek vir die bestryding van ruspes by hul voedselgewasse.

Hierdie bakterium word vandag nog met sukses gebruik, en ’n gedeelte van sy genetiese materiaal word ook binne Bt- gemodifiseerde mielies geïnkorporeer.

Biologiese middels is besig om die sprong te maak van ’n systroom- tot hoofstroomtegnologie vanweë hul waarde. Hul markaandeel is egter nog klein, daar is groot wanpersepsies en daar is nog knelpunte met vervaardiging, verspreiding en toediening van hierdie produkte.

Verder is daar die probleem dat individue ongetoetste produkte versprei of bloot valse aansprake maak. In volgende rubrieke sal ek in meer diepte na van die subkategorieë kyk.

Dr. Jan C. Greyling is ’n beleggingsontleder by AgVentures. Sy kontakbesonderhede is by www.agventures.africa beskikbaar.