Dit het ’n meer realistiese begrip van ekonomiese werklikhede getoon ná jare se skadelike sosialistiese beleid en die ontplooiing van onbevoegde kaders. Sosialisme kom tot ’n einde wanneer ’n staat se geld opraak, wat ’n noodwendige gevolg is.

Jy verval in armoede of jy kom tot jou sinne en besef dat die staat nie ekonomiese groei en werk skep nie, maar slegs die ondersteunende beleidsraamwerk daar kan stel vir die private sektor, wat ekonomiese groei en welvaart skep.

Die regering het jare lank daarteen vasgeskop om Eskom se monopolie op kragvoorsiening te dereguleer. Veral mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het verbete geveg om Eskom as die alleenverskaffer van krag te behou, ten spyte van toenemende probleme.

Kundiges is dit eens dat die gebrek aan volhoubare elektrisiteit een van die groot knelpunte is om ekonomiese groei en werkskepping te bevorder.

Die aankondiging die betrokke week deur pres. Cyril Ramaphosa dat private kragopwekking dereguleer word van 10 MW tot 100 MW was ’n groot beleidskuif.

Terloops, dit is opmerklik dat daar geen openbare teenkanting van vakbonde was nie. Die tweede was dat die president standpunt ingeneem het teen die ANC-standpunt in die komitee wat na grondwetveranderinge kyk, wat soos die EFF meen dat die staat die voogdyskap van grond en eiendom moet verkry.

Dit is ’n bedekte vorm van onteiening sonder vergoeding. Ramaphosa het dit duidelik gestel dat hy ten gunste is van titelaktes vir eienaars van grond en vir swart mense wat toegang tot grond kry.

Die laaste interessante beleidsverandering is dat die ANC-regering ingestem het om ’n minderheidsbelang in die Suid-Afrikaanse Lugdiens te aanvaar en 51% aan ’n buitebelegger te verkoop.

Politieke ontleders neem dat nóg belangrike beleidsveranderinge in die afsienbare toekoms verwag kan word. Daar is heelwat bankrot staatsondernemings wat baat kan vind by die bestuursvaardigheid van ’n meerderheid aandeelhouers in die private sektor. Dink aan Denel, die Land Bank, die hawens en spoorinfrastruktuur, om enkeles te noem.

Daar is ook nie goeie redes waarom munisipale dienslewering nie geprivatiseer kan word nie. Met die huidige korrupsie en wanbestuur bloei plattelandse dorpe dood en vlug al hoe meer arm werkloses na plakkerskampe in die stede om van misdaad en maatskaplike toelaes te leef.

’n Nuwe beleidsbenadering word al lank gepredik, want om ekonomiese groei en werkskepping te kry, moet die private sektor toegelaat word om binne ’n pro-kapitalistiese markomgewing welvaart te skep.

Die groot vraag is of daar ’n kantelpunt in beleid in die betrokke week in Junie was. Die hoop mag nie beskaam nie.

Ekonomiese werklikhede

Die organisasie vir ekonomiese samewerking en ontwikkeling (OESO) het vroeg in Junie sy verslag bekend gestel oor die ekonomiese vooruitsigte vir die wêreld en die ekonomiese herstelproses wat aan die gang is.

Grafiek 1 gee ’n opsomming van die verwagte ekonomiese groei en herstel in belangrike ekonomieë en handelsvennote van Suid-Afrika. Die opstellers van die verslag verwag dat die wêreld se ekonomiese groeikoers vanjaar vinnig sal herstel.

Grafiek 1: Ekonomiese groei en vooruitsigte (% BBP)

Die groeikoers kan bykans 6% wees ná die inkrimping van 3,5% in 2020. Die terugbons in ekonomiese groei word toegeskryf aan vinnige beleidsreaksies om ekonomieë te stimuleer met monetêre en fiskale beleid.

Rentekoerse is skerp verlaag tot na aan nul, reserwebanke het heelwat geld beskikbaar gestel, en daar was grootskaalse besteding deur regerings.

Hierby word gevoeg die vinnige inentingsveldtogte teen die koronavirus wat in baie lande op dreef is, en die terugkeer na normale ekonomiese aktiwiteite.

Die G20-ekonomieë (die twintig grootste ekonomieë ter wêreld) sal na verwagting vanjaar ’n groeikoers van 6,3% behaal en in 2022 sowat 5%. Die skerp groei in China is duidelik.

Die groeikoers van sowat 8,5% laat die vraag na kommoditeite en minerale styg. Die verwagte sterk ekonomiese herstel in die plaaslike landbou se belangrikste handelsvennote sal die Suid-Afrikaanse kommersiële landbousektor ondersteun met ’n sterk groei in vraag na uitvoerprodukte.

Sowat 50% van die landbou se inkomste word met uitvoer verdien word. Daarteenoor staan die binnelandse ekonomie. Die verslagskrywers verwag dat die plaaslike ekonomie eintlik swak gaan herstel vergeleke met Suid-Afrika se belangrike handelsvennote.

Lang herstelpad

Grafiek 2: bbp-produksiewaarde teen konstante pryse (r miljard)

Grafiek 2 gee ’n ander perspektief op die ekonomiese groei in Suid-Afrika en die toename in produksie. Daar is groot gewag gemaak van die feit dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in die eerste kwartaal van 2021 op ’n jaargrondslag met 4,6% gegroei het.

Die metodiek wat gebruik word, is om die kwartaalsyfer om te skakel en te projekteer asof die ekonomie in die res van die jaar teen daardie koers gaan groei.

Sommige ekonome meen dit is ’n misleidende syfer en moet met omsigtigheid geïnterpreteer word.

Die grafiek toon die kwartaallikse produksiewaarde in die ekonomie, wat vir die berekening van bruto binnelandse produk gebruik word, maar in randwaarde teen konstante pryse. Inflasie word dus nie in berekening gebring nie.

Nadat die ekonomie in 2020 met 7% ingekrimp het, neem die herstel in die eerste kwartaal die ekonomie nie eens terug na die produksiewaarde in die eerste kwartaal van 2018 nie.

Ten spyte van die optimisme oor die groei van 4,6% produseer die ekonomie dus nog minder as in die eerste kwartaal van 2018. Suid-Afrika is terug op die vlakke van 2016.

Die land het agteruit geboer en verarm. Die verwagting is dat Suid-Afrika eers oor drie tot vier jaar die verlore welvaart gaan inhaal, mits die beleid ondersteunend vir ekonomiese groei is. Teen hierdie agtergrond moet die prestasie van die kommersiële landbou beoordeel word.

Sowat 50% van die inkomste verlede jaar is met uitvoer verdien. As die kommersiële landbou net van die binnelandse ekonomie afhanklik was, sou die bedryf vandag baie armer gewees het.

Die risiko-scenario’S

Dit is die agtergrond waarteen die beleidsveranderinge en die uitsprake van Ramaphosa beoordeel moet word. Die Suid-Afrikaanse ekonomie presteer baie swak.

Die werkloosheidskoers is op nuwe rekordvlakke en van die hoogste ter wêreld. Ekonome van Investec het ’n ontleding gedoen oor die moontlike impak van sekere beleidscenario’s op die rentekoers en die wisselkoers, wat albei van groot belang vir die landbou is.

Daar word met vier scenario’s gewerk, maar in grafiek 3 word die moontlike verloop van twee getoon. Dit is naamlik die scenario wat ’n 50%-kans het, teenoor die scenario wat ’n 42%-kans het.

Grafiek 3: rente- en wisselkoers-scenario (mei 2021)

Dit is dus heel waarskynlik. Die 50%-scenario leun sterk daarop dat die ekonomie vinnig gaan herstel met die regte ondersteunende beleidsaanpassings.

Daar word veral klem gelê daarop dat die beleidsproses van onteiening sonder vergoeding realisties en opbouend sal verloop en dat die kredietgradering stabiel bly.

Die wisselkoers van die rand kan effe verswak tot rondom R15,50/dollar en die prima rentekoers kan tot 7,5% styg.

Daarteenoor staan die 42%-scenario, waar die onteieningsproses sleg behartig word en beleggersvertroue verder ondermyn, die regering kry nie staatskuld onder beheer nie en beurtkrag duur op ’n erge vlak voort. (Die scenario is opgestel voor die aankondiging dat die private sektor 100 MW mag opwek.)

Die model dui daarop dat die rand kan verswak tot bokant die vlak van R17/dollar, wat die plaaslike landbou-uitvoer sal bevoordeel, maar rentekoerse styg dan vinniger tot bykans 8%.

Dit is beslis nie ’n goeie situasie nie. Daar moet voortdurend druk op die regering toegepas word sodat voortgegaan word met die deregulering en privatiseringsbeleid van die week van 7 Junie.

Vir groei in die landbou is dit noodsaaklik dat die proses van onteiening reg behartig word. Tegelykertyd moet die infrastruktuur en dienslewering in Suid-Afrika gedereguleer en geprivatiseer word. Dit kan die grondslag van ekonomiese groei en welvaart skep, ook vir die hele landbousektor.