Stilweg is die staat besig om al hoe meer in te meng in markte en handel, ook in die landbou. Die afgelope paar jaar is die nuwe gonswoord die sogenoemde meesterplanne vir sektore, wat veral aangedryf word deur die departement van handel, nywerheid en mededinging.

Die meesterplan vir die hoendervleis- en die suikerbedryf is reeds bekend gestel en ’n paar ander is in wording. Daar is ook ’n landboumeesterplan wat sukkel om afgehandel te word.

Natuurlik is dit ’n goeie beleidsbenadering om ’n gekoördineerde roetekaart vir die ontwikkeling van ’n bedryf of sektor daar te stel. Dit verbeter koördinasie en stel duidelike teikens vir veral groei en werkskepping.

Die kern van sommige planne is groter staatsbetrokkenheid (almal weet die staat is nie goed met die deurvoer van planne nie) en die teikens wat dit stel om werkskepping en groei te bewerkstellig.

Stilweg sluip daar groter staatsinmenging in markte in, soos die verhoging van invoerbeskerming om die betrokke sektor of bedryf teen internasionale mededinging te beskerm ten einde binnelandse produksie te stimuleer. Ongelukkig het so ’n benadering newe-effekte.

Een daarvan is die neiging om die reëls van die Wêreldhandelorganisasie (WHO) te begin uitdaag. Dit lei ook tot groter ondoeltreffendheid deurdat bedrywe teen mededinging deur invoer beskerm word.

Dit neig om mededingendheid in die plaaslike bedryf te verswak en uiteindelik lei dit tot verhoogde koste om binnelands te produseer, wat weer welvaartskepping knel.

Die keersy van hoër invoertariewe om bedrywe binnelands teen mededinging deur invoer te beskerm, is dat dit moeiliker raak vir ’n ander land om na jou toe uit te voer. Dit kan ’n teenreaksie ontlok, wat uiteindelik uitvoer uit Suid-Afrika kan belemmer.

Belangegroepe vra tans ál meer vir prysbeheer omdat byvoorbeeld voedselprodukte te duur raak. Dit behandel egter die simptoom en ignoreer die redes vir die stygende geadministreerde koste in die ekonomie en staatsinmenging wat werkskepping en groei belemmer.

Natuurlik is dit ’n komplekse debat. Almal wat by produksie betrokke is, wil beskerm word teen internasionale mededinging en veral relatief goedkoop invoermededinging, wat baie keer ondersteun word deur uitvoerlande se regerings.

Daarteenoor is die Suid-Afrikaanse regering besig om met toenemende staatsbeheer binne- landse koste te verhoog deur onder meer stygende minimum lone en inmenging in die arbeidsmark.

Dit geld kragvoorsiening, infrastruktuur en vele ander fasette waar die mark nie toegelaat word om sy werk te doen nie.

WHO en lanbouhandel

Die WHO het in 1995 in sy huidige formaat tot stand gekom ná die sogenoemde Uruguay-rondte van onderhandelinge in die 1980’s om wêreldhandel te bevry en volgens ooreengekome reëls te bedryf – en veral om invoerbeskerming en subsidies wat handel ontwrig, uit te faseer.

Beperkings op handel is omgeskakel na invoertariewe en daar is ooreengekom om dit met verloop van tyd te verlaag. Daar is meer as genoeg bewyse dat vryer handel groter welvaart skep deurdat mededinging toeneem, veral omdat lande konsentreer op dit wat hulle mededingend kan produseer.

Ongelukkig is dit ’n tweesnydende swaard wat met omsigtigheid bestuur moet word. In Suid-Afrika is heelwat produkte aan invoertariewe onderworpe, soos bees-, skaap-, vark- en hoendervleis, asook koring en suiwelprodukte.

Invoertariewe versteur markte deurdat dit die ewewig versteur tussen prys en hoeveelheid wat normaalweg in ’n vrye mark (wat natuurlik ook ’n uitsondering is) sou geld.

Tariewe verhoog die prys van ingevoerde produkte, wat dan neig om die binnelandse prys vir plaaslike produkte te verhoog en só binnelandse produksie te stimuleer en uiteindelik groei en werkskepping aan te wakker.

Dit lei egter tot verhoogde binnelandse pryse wat verbruikers dan meer uit die sak jaag. Die onlangse verhoging in invoertariewe op staal het byvoorbeeld regstreeks tot hoër pryse in die landbou gelei.

Die landbou in Suid-Afrika, en selfs voedselvoorsiening deur invoer, word bedryf in ’n redelik vrye markomgewing wat ná 1995 in werking getree het met die WHO-ooreenkoms en die afskaffing van landboubeheerrade.

Die relatiewe belangrikheid van handel in landbouprodukte, gesien teenoor binnelandse produksie, word in grafiek 1 getoon. Die uitvoer van landbouprodukte is gelyk aan sowat 40-50% van die landbouproduksie. (Die departement van landbou gee verskillende syfers.)

Die plaaslike landbou se welvaart is derhalwe nou gekoppel aan uitvoer en makliker toegang tot internasionale markte wat welvaart skep. Die sterk groei in landbou-uitvoer is ’n bewys hiervan (sien grafiek 2).

Die risiko is dat as Suid-Afrika toenemend sekere bedrywe teen invoer beskerm, kan dit in ooreenstemming met die WHO-reëls ’n teenreaksie van die land se handelsvennote ontlok.

Invoertariewe op landbouprodukte word beskou as een van die grootste kosteverhogende effekte wat deur lande se landboubeleid versteur word.

Daar is internasionaal hernude ywer binne die WHO om te probeer om landbouhandel verder te bevry deur staatsondersteuning te verminder. Suid-Afrika moet versigtig wees dat hy nie teen die internasionale neigings begin inbeur nie.

Die plaaslike ekonomie en landbou is ’n baie oop stelsel en dwing Suid-Afrikaners om innoverend en mededingend te produseer.

Ondersteuning deur die staat

Daar is verskeie beleidsinstrumente wat lande gebruik om hul landbou te ondersteun, soos regstreekse subsidies, uitvoersubsidies en dan natuurlik beskerming teen invoer.

Navorsing deur die Amerikaanse departement van landbou het getoon dat invoertariewe redelik verskil tussen lande en bedrywe na gelang van hul beleid.

Sekere lande gebruik invoertariewe om binnelandse produksie aan te moedig en te beskerm teen mededinging, wat pryse van plaaslik geproduseerde produkte gewoonlik duurder maak as internasionale pryse.

Daar is ook ’n minderheid van lande, soos Argentinië, wat uitvoerbelastings gebruik om te probeer om boere te ontmoedig om produkte uit te voer en dit eerder binnelands te bemark, wat dan veronderstel is om pryse laer te hou en voorraad binnelandse te verhoog (en in die proses boerdery benadeel).

Stapelvoedselprodukte is dikwels aan tariewe onderworpe. Mielies is met sowat 30% die produk met die hoogste invoertarief ter wêreld. Tariewe van sowat 15% geld vir hoender-, vark- en skaapvleis. Oliesade, rys, beesvleis, koring, suiker en suiwelprodukte is ook dikwels aan tariewe onderworpe.

Die Amerikaanse departement van landbou het bevind as tariewe afgeskaf kan word, sal dit uitvoer- én invoerlande bevoordeel en die netto welvaart sal styg.

Die sekretariaat van die organisasie vir ekonomiese samewerking en ontwikkeling (OESO) publiseer elke jaar ’n evalueringstudie van landboubeleid vir lidlande en ander lande, waarin staatsondersteuning gemonitor word.

Die breedste maatstaf is die sogenoemde totale ondersteuningsmaatstaf, wat steun aan produsente en verbruikers insluit. Die meer algemeen gebruikte een is die sogenoemde produsentesubsidie-ekwivalent (PSE), wat staatsondersteuning aan produsente oor ’n breë front (soos subsidies en invoerbeskerming) uitdruk as ’n persentasie van bruto produksiewaarde.

Die neiging met verloop van tyd vir die OESO- asook ontwikkelende lande word in grafiek 3 getoon. Suid-Afrika se PSE is van die laagste ter wêreld en is tans sowat 2,8%, wat laer is as die vlakke in die OESO- en ontwikkelende lande.

’n Mens moet ook byvoeg dat staatsondersteuning in Suid-Afrika hoofsaaklik toegespits is op die ondersteuning van nuwe swart boere. Nogtans bly die Suid-Afrikaanse kommersiële landbousektor een van die mededingendste ter wêreld.

Uitvoer bly groei ten spyte van die lae vlakke van staatsondersteuning. Dit beteken nie ’n sogenoemde meesterplan vir die landbou of bedrywe is oorbodig nie, maar dit moet ’n mens wel bekommer dat Suid-Afrika na meer staatsinmenging en groter beskerming deur die staat neig terwyl die staat toenemend disfunksioneel raak.

Dit kan die landbou met verloop van tyd benadeel as dit afhanklik raak van staatsbeskerming om winsgewend te boer.