Die konsentrasie van markmag in die vier supermarkgroepe word gereeld bespreek. Daar is vrae oor die manier waarop hulle in die mark optree en of hul markgedrag (en konsentrasie) moontlik boere se pryse en winsmarges knou.

Daar word verwys na die dalende aandeel van die plaashekprys in die winkelrakprys van voedsel. Die dalende aandeel word dikwels toegeskryf aan die mag van supermarkgroepe.

Relatief min navorsing is hieroor in Suid-Afrika gedoen. Die Mededingingskommissie het in 2015 met ’n ondersoek begin en einde 2019 ’n verslag uitgereik. Ongelukkig was die bepalings van die opdrag baie beperk. Die navorsers het derhalwe nie juis die supermarkgroepe se markmag en optrede beoordeel in die wyer konteks van die voedselmark nie.

In ’n onlangse internasionale studie deur die sekretariaat van die organisasie vir eko- nomiese samewerking en ontwikkeling (OESO) is na die markoptrede en markmag van supermarkte in ’n hele aantal lande gekyk. Dit gee uit ’n ander hoek ’n beter perspektief op die moontlike impak van die supermarkte op die voedselmark en dus ook die mark vir landbouprodukte.

Die ander feit is dat duisende boere (met min gekoördineerde markmag) pryse moet beding met ’n redelik klein aantal oorheersende verwerkers in Suid-Afrika, soos Pepsico (Pioneer Foods), Tiger Brands en Premier Foods. In die teorie word ’n mark wat goed werk, beskryf as ’n mark waar die markmag aan die aanbodkant en die vraagkant gebalanseer is.

Daar is baie argumente dat die markmag in Suid-Afrika beslis nie meer by produsente is sedert die opskorting van beheerde bemarking nie, ook omdat die meeste van die destydse koöperasies nie meer net boere as aandeelhouers het nie. Daarteenoor staan die vier groot supermarkgroepe wat ’n baie oorheersende markposisie beklee. Na raming vloei 60-70% van voedselverkope deur hulle.

Supermarkgroepe IN Suid-Afrika

Die voedselmark in Suid-Afrika is ’n groeiende mark. Grafiek 1 toon die groei in die besteding van huishoudings oor die afgelope paar jaar. Syfers van die Reserwebank toon die besteding aan voedsel, drank en tabak het in 2020 sowat R803 miljard beloop.

Grafiek 1: Verbruikersbesteding AAN voedsel, drank en tabak

Die bruto waarde van landbouproduksie in 2020 is geraam op R327 miljard. Die syfers is nie direk vergelykbaar nie, maar gee tog ’n aanduiding van die relatiewe omvang. Ons moet ook in ag neem dat sowat 40% van die produksiewaarde van die landbou uitgevoer word.

Hou daarby in gedagte nadat die landbouproduk die plaashek verlaat het, word dit vervoer, verwerk, verpak en dan deur die supermark versprei en verkoop, waar huur en arbeid ook bykom.

In Amerika daal die plaasaandeel in die prys van voedselprodukte stelselmatig. Dit is tans nader aan 40% namate die waardetoevoeging buite die plaashek toeneem, onder meer met die verkope van gaar voedsel. Die ander faktor in Amerika is dat slegs sowat 50% van voedsel by die huis geëet word, terwyl die res deur restaurante en as wegneemetes verkoop word. Dit bring natuurlik ’n verdere daling in die plaasaandeel mee.

In Suid-Afrika maak die winkelrakprys van die meeste produkte sowat 40-50% van die plaaswaarde uit. Met groente en vrugte is dit nader aan 30% en met brood sowat 17%. Die res is nie handelswins nie, maar hoofsaaklik koste wat buite die plaashek toegevoeg word en bly styg namate verbruikers al hoe meer klaarbereide geriefskos wil koop.

Grafiek 2 toon die relatiewe markaandeel van die vier oorheersende supermarkgroepe in die Suid-Afrikaanse voedselbedryf. Dit is ook interessant dat die vier groepe gereken word as van die wêreld se 250 grootste supermarkgroepe. Dit bevestig dat daar nie baie markruimte vir klein verspreiders en verwerkers is nie.

Grafiek 2: Supermarkgroepe MET JAAR-omset VAN R451 miljard

Daar is natuurlik redes waarom die groepe se markkonsentrasie bly toeneem. Dit het onder meer te doen met skaalekonomie, groot verspreidingsentrums wat produkte van sentrale punte oor die hele Suid-Afrika versprei, en regulasies wat koste opjaag.

Die feit dat die groepe eksklusiewe huurkontrakte in winkelsentrums het, vererger die probleem. Onafhanklike klein handelaars word sodoende subtiel weggehou. Let gerus op, daar is deesdae net kettingwinkelgroepe in die groot sentrums. Hulle brei ook uit na die townships, wat erge teenstand van spazawinkels ontlok. Die informele handelaars is tans die grootste groep kopers op varsprodukmarkte.

Die groepe is ook oorheersend op die Suider-Afrikaanse voedselmark met hul verkope buite Suid-Afrika in Suider-Afrika en die res van Afrika. Shoprite is die grootste met ’n omset van R156 miljard die afgelope jaar, ’n markkapitalisasie op die aandelebeurs van R86 miljard en ’n bedryfswins van R7,7 miljard. Sy markkapitalisasie was in Mei bykans R200 miljard.

Food Lover’s Market word gesien as die vyfde lid van die oorheersende groep, maar hy is nie genoteer nie. Daar was ’n poging om die groep met Pick n Pay te laat saamsmelt, maar die Mededingingskommissie het ’n stokkie daarvoor gesteek omdat dit tot nóg groter markkonsentrasie sou lei. Food Lover’s Market se skaalekonomie en sakemodel is van só ’n aard dat sy pryse goedkoper is as die meeste ander supermarkgroepe.

Grafiek 3 toon die vier supermarkgroepe se omset, asook die bruto wins as persentasie van hul omset. Die Woolworths-groep se marge van sowat 32% is die hoogste, maar ’n mens moet in ag neem dat ’n redelike deel van sy omset in klere is. Pick n Pay het die laagste persentasie bruto wins.

Grafiek 3: Supermarkgroepe SE omset (R miljard) en bruto wins as % omset

kommissie se BEVINDINGE

Die Mededingingskommissie het sy ondersoek in 2015 begin en eers einde 2019 sy verslag bekend gemaak. Die skrapse doelwitte van die ondersoek het nie veel waarde vir landbouprodusente nie.

Die eerste doelwit was om die impak van die supermarkgroepe op klein en onafhanklike voedselverkopers te ontleed. Daar is op spazawinkels gekonsentreer. Tweedens is die impak van eksklusiewe langtermynhuurkontrakte in winkelsentrums ondersoek, derdens die invloed van supermarkgroepe op kleiner streekgroepe wat die Suid-Afrikaanse mark wil betree, en laastens die invloed van reëls en regulasies op spazawinkels en winkels in die townships. Die ander aspekte het ook hoofsaaklik gehandel oor die invloed van supermarkgroepe op spazawinkels en kleiner groepe in die townships.

Die aanbevelings het meestal op hierdie aspekte gekonsentreer. Daar is nie veel ondersoek gedoen na die konsentrasie van markmag nie, veral hoe supermarkte optree met die bedinging van aankoopkontrakte en pryse vanaf verskaffers nie, dus boere en voedselverwerkers.

ondersoek VAN OESO

Teenoor die ondersoek van die Mededingingskommissie staan die ondersoek van die OESO-sekretariaat in ’n aantal lande waar die doel was om onder meer te bepaal of die konsentrasie in die supermarkgroepe daartoe lei dat hulle hul mag misbruik wat produsente van landbouprodukte betref. Daar is veral geprobeer om vas te stel of die markkonsentrasie tot laer plaashekpryse vir produsente lei, en of supermarkgroepe onregverdige mededingingspraktyke gebruik.

Een van die interessante aspekte wat na vore getree het, is dat die aanbodkettings van verskillende supermarkgroepe redelik verskil. Daar is ’n groot mate van produkdifferensiasie tussen die verskillende aanbodkettings, en daar is eerder redelike mededinging tussen die verskillende aanbodkettings as dat hulle produsentepryse laer druk.

Die werklikheid wat met die navorsing bevestig is, ook in Suid-Afrika, is dat allerlei struikelblokke dit vir nuwe, kleiner, onafhanklike groepe baie moeilik maak om tot die mark toe te tree. Daar is ook gevind dat supermarkpryse vir onder meer vleis die neiging van produsentepryse met ’n sloereffek van 3-6 maande volg.

Ek kon nie navorsing vind wat bewys supermarkgroepe gee daartoe aanleiding dat produsente se pryse laer gedruk word as wat in ’n mededingender omgewing die geval sou wees nie. Wat wel waar is, is dat dit baie moeilik vir produsente en klein verwerkers is om hul produk op supermarkgroepe se rakke te kry. Dit is ook waar dat die markkrag van duisende boere teenoor enkele groot verwerkers en supermarkgroepe nie in balans is nie.