Die Reserwebank se rol in die bestuur van rentekoerse waarvoor inflasie as een van die maatstawwe gebruik word, was die afgelope tyd gereeld in die kollig in debatte in die finansiële media oor die inflasieneigings.

Daar is ook debatte oor die Federale Reserwebank van Amerika wat sy grootskaalse geldskepping en die inpomp van geld in die ekonomie gaan verlangsaam en sy rentekoerse gaan verhoog, deels omdat die Amerikaanse ekonomie sterk herstel en inflasie daar begin kop uitsteek.

Dit het die wisselkoers van die rand teenoor die Amerikaanse dollar vinnig laat verswak omdat geld terugvloei na Amerika in afwagting op hoër rentekoerse.

Daar is ook die siening dat die plaaslike inflasiekoers hoog gehou word deur voedselpryse wat die afgelope jaar bly styg. Een kommentator het selfs (verkeerlik) beweer die stygende prys van ruolie het die prys van soja- en sonneblomolie laat styg.

Reserwebank se rol

Te midde van die debatte het die Reserwebank sy jaarverslag uitgereik waarin sy rol en doelwitte duidelik uiteengesit word. Dit gee ’n mens ’n goeie aanduiding waarop hy konsentreer en help ook om insig te gee oor hoe hy rentekoerse en inflasie benader.

Die SA Reserwebank is op 30 Junie 1921 gestig. Die Grondwet van 1996 gee die Reserwebank ’n duidelike mandaat: streef prysstabiliteit na in die belang van volhoubare en gebalanseerde ekonomiese groei, en dra by tot die stabiliteit van Suid-Afrika se finansiële stelsel.

Die taak van die Reserwebank is verder om die welvaart van alle Suid-Afrikaners te verbeter en daarom is dit noodsaaklik dat hy onafhanklik van die regering bly.

Die Reserwebank het vyf strategiese fokusareas om die doelwitte van prys en finansiële stabiliteit op langer termyn te bevorder: Bestuur inflasie binne die teikenband, wat tans 3-6% is en vooraf ooreengekom word met die tesourie.

Beskerm en bevorder finansiële stabiliteit, deur streng toesig te hou oor finansiële instellings. Bevorder en verbeter die veiligheid en finansiële gesondheid en integriteit van gereguleerde finansiële instellings en markstrukture, insluitend banke en versekeraars.

Bevorder Suid Afrika se weerbaarheid ten opsigte van eksterne skokke. Verseker die kostedoeltreffende beskikbaarheid van Suid-Afrika se geldeenheid en beskerm die integriteit van die geldeenheid.

Daar is dus basies twee doelwitte, wat ondersteun word deur ’n aantal funksies wat die Reserwebank verrig. Eerstens om prysstabiliteit te bevorder deur die inflasiekoers binne die 3-6%-teikenband te hou. Tweedens om finansiële stabiliteit te beskerm en te bevorder.

Lae en stabiele inflasie is nodig om die koopkrag van die rand te beskerm en sodoende lewenstandaarde te beskerm teen vinnig stygende pryse, waarteen baie groepe in die samelewing nie hulself kan verskans nie.

Die benadering help ook om onsekerheid te verminder, beleggings aan te moedig, vertroue in die geldeenheid te beskerm en om mededingendheid te bevorder.

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee vergader gereeld om die ekonomiese groei, faktore wat die inflasiekoers buite die teikenband kan laat beweeg, en faktore wat die stabiliteit van die wisselkoers kan beïnvloed, te beoordeel.

Die Reserwebank se repokoers aan banke (wat die prima rentekoers bepaal) speel dan ’n belangrike rol. Die teorie is dat as daar te veel geld in omloop is (maklike krediet), stoot dit pryse vinnig op (stygende inflasie).

Dit word teengewerk deur krediet duurder en skaarser te maak deur rentekoerse te verhoog. Die Reserwebank se verklaarde beleid is om die inflasiekoers rondom 4,5% te anker.

Grafiek 1 toon die maandelikse verloop van die inflasiekoers en voedselinflasie. Die inflasiekoers is gemaklik binne die teikenband. Daarom voer sekere ekonome aan dat die rentekoerse laer kan wees, veral as jy in ag neem dat dit die pryse van voedsel, brandstof en regeringsgeadministreerde pryse is wat die inflasiekoers opjaag.

Verhogings in rentekoerse het feitlik geen uitwerking op pryse nie. Daar is ook ’n ekonomiese teorie dat die verskil in die inflasiekoers tussen lande die ruilwaarde van hul geldeenhede teenoor mekaar bepaal.

As oor beleggings gepraat word, sal die adviseurs dikwels aanvoer dat die waarde van die rand gaan verswak vanweë die inflasiekoersdifferensiaal tussen Suid-Afrika en sy groot handelsvennote.

Grafiek 2 toon die jongste gepubliseerde inflasiekoers vir ’n paar lande waarmee Suid-Afrika handel dryf of meeding. Hieruit is dit duidelik dat die plaaslike inflasiekoers nie juis uit pas is nie, veral as jy na Amerika en Australië kyk.

As die voedsel en brandstofpryse uitgehaal word, is die kerninflasiekoers tans 3%. Dit versterk die standpunt, saam met swak ekonomiese groei en stygende werkloosheid, dat daar min motivering behoort te wees om Suid-Afrikaanse rentekoerse te verhoog.

Grafiek 1: VPI, voedselinflasie en Reserwebank se teikenband
Grafiek 2: Inflasiekoers (jongste jaarbasis)

Voedselpryse die sondaar?

As ’n mens na die twee groot faktore let, bestaan bykans 46% van die prys van brandstof by die pomp uit staatsheffings en belasting. Dit verklaar die onlangse versoeke dat die belastings verlaag moet word om die koste in die ekonomie te verlaag.

Die werklikheid is egter dat die regering staatskuld laat weghol, wat dit bykans ondenkbaar maak dat hy belastings gaan verlaag. Daar word dan weer by tye gemik na die stygings in voedselpryse, asof dit die landbousektor se skuld is dat pryse styg en dus inflasie hoog hou.

Grafiek 3 toon die jongste voedselinflasie (7%) se komponente in Suid-Afrika, asook die stygings in internasionale voedselpryse wat die Verenigde Nasies se Voedsel-en-landbou-organisasie monitor (30%).

Ondanks ’n baie oop landbouhandelstelsel in Suid-Afrika het plaaslike voedselpryse baie minder as internasionale voedselpryse gestyg. Van die redes daarvoor is dat Suid-Afrika selfvoorsienend met die meeste basiese voedselsoorte is en internasionale prysstygings getem word danksy die produktiwiteit van die plaaslike kommersiële landbousektor. Suid-Afrika voer heelwat plante-olie in.

Daarom werk stygende internasionale pryse deur na die binnelandse mark. Die hoë internasionale pryse stimuleer die binnelandse produksie van veral sojabone. Tog het Suid-Afrikaanse voedselpryse met heelwat minder as internasionale pryse gestyg.

Internasionale voedselvoorraadvlakke daal, hoofsaaklik weens swak produksietoestande in die Amerikas en Europa, asook die logistieke ontwrigtings van covid-19-grendelaksies.

Pleks dat ekonomiese kommentators die regte feite weergee, is dit gerieflik om die landbou die sondaar te maak. Die kommersiële landbou moet eerder ondersteun word.

As Suid-Afrika ’n netto invoerder van basiese voedsel was, sou die inflasiekoers drasties anders gelyk het, as ’n mens grafiek 3 in ag neem.

Die riller wat Suid-Afrika in die volgende jaar gaan ervaar, is hoe die styging van sowat 20% in die produksiekoste van somersaaigewasse en tuinbouprodukte na die winkelrakke gaan deurwerk.

Grafiek 3: prysstygings in Voedselgroepe (Julie ’21 vs. Julie ’20)