Goeie veldbestuur moet van ’n kant af aangepak word. Begin eers by die basisblokke — die verskil tussen veelading en veedigtheid, en vermoë en drakrag — en beweeg dan na die soort vee en produksiestelsel. Die regte weidingsbenadering is immers die een groot skans teen klimaatsverandering.

Die herlewing van natuurlike weiveld gaan die redding van die Suid-Afrikaanse boer wees (sien ook “Herlewingslandbou en die veeboer”, LBW, 27 Mei 2021).

Daarsonder gaan ons nie die klimaat se wispelturigheid ordentlik kan bestuur nie en gaan die bevolking oor 30 jaar nie voldoende hoeveelhede bekostigbare voedsel op die tafel hê nie. Dit kan tot anargie aanleiding gee.

Die meeste veeboere is grootliks of ten volle van die veld en hul vee afhanklik vir hul dag-tot-dag bestaan. Die hoofklem van herlewingslandbou in die ekstensiewe veebedryf is om die veld so gesond moontlik te kry, want gesonde veld weerstaan die omgewing se risiko’s die beste.

Gesonde veld is veld wat goed bestuur word. Pas jy goeie veldbestuur toe? Die antwoord is waarskynlik nee as jy op die meeste van die volgende stellings ja antwoord: Die lammers groei goed en vertoon goed totdat hulle twee maande oud is.

Dan gaan hul kondisie agteruit en groei hulle nie meer so goed nie. In die lente sal die ramme eers begin werk en die ooie eers ram vat ná die eerste goeie reën.

Die besetting van die ooie wat in die herfs gepaar word, is goed, maar hul lammers wat in die lente gebore word, presteer nie goed nie. Meer as 2% van my wolskeersel is tenger en die breek in die wol val saam met die tyd wat die ooie lam.

Die ooie verloor baie lammers vanaf die dragtigheidsondersoek tot lamtyd. Die lammers en kalwers is klein en ondergewig by geboorte, veral die meerlinge.

Die ooie en koeie se uiers is klein en hulle het min melk. Minder as 90% van die volwasse ooie en koeie raak dragtig. Minder as 70% van die vervangingsooie en verse raak dragtig. Die veld is onegalig benut.

Sekere dele van die veld is kort afgewei en die diere konsentreer daarop, terwyl ander dele onderbenut en uitgegroei is. Die veld reageer stadiger ná goeie reën as wat verwag is.

Daar is altyd vee in meer as die helfte van die veldkampe op die plaas. Die ooie/koeie lam/kalf elke jaar in dieselfde kampe. Ek sukkel om my vee te laat oorwinter.

STAP 1

Daar is twee weidingkundige terme wat dikwels ’n Babelse verwarring by boere veroorsaak. Dit is veelading en veedigtheid. Veelading verwys na die getal diere wat die boer op sy plaas aanhou.

As die boer byvoorbeeld 100 diere op sy plaas van 1 000 ha aanhou, dan pas hy ’n veelading van 10 ha/dier op sy plaas toe. Veedigtheid verwys na die getal diere wat die boer op ’n gegewe stadium saam in ’n trop laat loop op ’n gegewe plek van die plaas.

As die boer in die bogenoemde voorbeeld sy 100 stuks vee in ’n kamp van 100 ha laat loop, pas hy ’n veedigtheid van 1 dier/ha toe. Die veelading op die plaas is egter steeds 10 ha/dier.

Hierdie twee terme word dikwels as sino- nieme gebruik, wat verkeerd is. Daar is ’n verdere twee terme wat belangrik is om te verstaan. Dit is weidingsvermoë en drakrag.

Weidingsvermoë verwys na die vermoë van ’n relatief homogene eenheid van plantegroei op die plaas om ’n bepaalde getal diere vir 365 dae van voer te voorsien.

Byvoorbeeld, 1 ha veld op die plaas produseer 3 650 kg vreetbare voer per jaar. ’n Dier, soos ’n bees, benodig argumentsonthalwe 10 kg voer per dag of 3 650 kg voer per jaar. Dan is die veld se weivermoë 1 ha/dier. Drakrag verwys na die vermoë van al die voerbronne op ’n spesifieke plaas om diere te kan voed.

’n Plaas kan byvoorbeeld uit veld (wat vlei-, rant- en bergveld insluit) en aangeplante weiding bestaan. Die hoeveelheid vee wat die plaas kan dra, is dus afhanklik van elke voerbron se weidingsvermoë en die grootte daarvan.

Om die plaas teen agteruitgang van die weidingshulpbron te beskerm, moet die langtermyn-veelading wat daarop toegepas word, nie die langtermyn-drakrag daarvan oorskry nie.

Die veedigtheid wat die boer toepas, kan maar die drakrag van die plaas oorskry, solank die veelading dit nie oorskry nie. Die eerste stap in die ontwikkeling van ’n weidingstelsel op ’n plaas is dus om die plaas se langtermyn-drakrag te bepaal, en om op ’n veelading te besluit wat in harmonie daarmee is.

As ’n plaas van 1 000 ha ’n drakrag van 2 ha/GVE het, is die ideale veelading vir die plaas 500 GVE (1 000 ha ÷ 2 ha/GVE = 500 GVE). Beladings wat aansienlik hoër as die plaas se drakrag is, sal noodwendig aanleiding gee dat diere chronies ondervoed is, met gepaardgaande swak diereprestasie.

Hou ook in gedagte dat die plaas se drakrag van jaar tot jaar wissel soos wat die reënval wissel.

STAP 2

Die tweede stap is om te bepaal met watter vee om te boer. Dit word deur die spesifieke voerhulpbronne en die ekonomie bepaal.

As ’n plaas se voerhulpbronne nie vir beeste geskik is nie, sal daar nie met beeste geboer word nie. As die plaas geskik is vir 50% skaap en 50% bees, sal die ideale verhouding 50% skaap:50% bees wees.

Daar kan effens hiervan afgewyk word as die ekonomie dit dikteer, byvoorbeeld 60% skaap en 40% bees.

STAP 3

Bepaal watter produksiestelsel die beste by die plaas se spesifieke hulpbronsamestelling aangepas is. As die plaas vir skaapboerdery geskik is, maar uit 50% bergveld bestaan, sal dit onwys wees om net met ooie te probeer boer.

Daar gaan te min van daardie veld beskikbaar wees wat benodig word tydens die ooie se belangrikste reproduksietydperke, soos laat dragtigheid en tydens laktasie.

Dan sal daar noodwendig ’n hamelkomponent ingeskakel moet word. As die plaas se weiding nie topgehalte is nie, sal dit wys wees om ’n tollie- of osstelsel te volg pleks van ’n speenkalfstelsel.

As ’n plaas se droogterisiko hoog is, sal die inskakeling van byvoorbeeld hamels of tollies die boer in staat stel om vinnig vee te kan verminder met die aanvang van ’n droogte.

STAP 4

Besluit op die beste stelsel om die voerbronne te bewei (’n weidingstelsel), wat goed is vir die diere se prestasie (en winsgewendheid) en vir die langtermyngesondheid van die voerhulpbron.

Dit is hier waar iets soos veedigtheid ter sprake kom en nie vroeër nie. Geen weidingstelsel sal ooit slaag as dit net goed vir die hulpbron is, maar sulke swak diereprestasie lewer dat die wins laag is of geen wins gegenereer word nie.

’n Goeie beweidingstelsel sal daarna streef om die beste moontlike voer te voorsien wanneer die veekudde dit die nodigste het. Daar is vyf stadiums in ’n ooi se produksiejaar wanneer goeie voeding noodsaaklik is, naamlik: Net voor en tydens paring. Laat dragtigheid (4 tot 6 weke voor lam).

In dié tydperk groei die fetus en ontwikkel follikels by die fetus. Indien die ooi gebrekkige voeding kry, kan uierontwikkeling en melkontwikkeling nie geskied nie. Laktasie. Weens swak voeding het die ooi nie melk vir die lam nie, en ’n swak lam word gebore met min groeivermoë.

Weens die lae follikel-ontwikkeling by lammers sal die lam nie in staat wees om wolproduksie te lewer nie, wat beteken die lam se genetiese potensiaal kom nie tot uiting nie. Afname in melkproduksie van die ooi. Die melkproduksie van die ooi neem nagenoeg ses weke ná lam af.

Nou moet die lam van goeiegehalte-voer voorsien word sodat dit gewig kan aansit. Omdat die lammers saam met die ooie wei, ding hulle met die ooie mee om kos. Speen. In dié tydperk is die speenlam op homself aangewese.

Speenlammers moet dus nou genoegsame ruvoer van hoë gehalte inneem. Net so is daar vier stadiums in ’n vleisbeeskoei se produksiejaar wanneer dit noodsaaklik is dat sy goeie weiding kry: Die laaste gedeelte van dragtigheid – hoe beter ’n koei se kondisie tydens geboorte, hoe beter is haar herbesetting en hoe beter sal haar uier ontwikkel.

Tydens vroeë laktasie – veral die eerste twee maande van laktasie net voordat die bulle weer bykom. Koeie wat in hierdie tydperk swaarkry, verloor vinnig kondisie, wat aanleiding gee tot verlaagde en vertraagde herbesetting.

Die kalf begin sterk vreet – vanaf drie maande neem die melkproduksie van die koei vinnig af en moet die kalf sterk begin vreet. Sy grootste mededinging om weiding is vanaf die koeie in die trop. Speen.

Nou is die speenkalf op homself aangewese en is goeie weiding noodsaaklik, veral vir die vervangingsverse wat moet uitgroei. Die beweidingstelsel wat toegepas word, moet verseker dat die ooi- en koeikudde tydens elk van hierdie stadiums genoeg “vars” voer ontvang.

Die veedigtheid wat toegepas word, moet ook by die produksiestadiums inpas. Só moet daar nie van hoë veedigthede gebruik gemaak word wanneer kleinvee lam nie (en tydens laat dragtigheid van veral ooie met meerlingfetusse), want dit kan uiters nadelig vir diereprestasie wees.

Daar is deur die jare verskillende beweidingstelsels vir spesifieke gebiede en omstandighede ontwikkel. Dit is kortliks: Aanhoudende beweiding – wat goeie individuele diereprestasie lewer, maar swak produksie per hektaar en wat op lang termyn nie volhoubaar is nie.

Eenvoudige, stadige wisselbeweidingstelsels met maksimum vier kampe per trop. Eenvoudige meerkamp-wisselbeweidingstelsels met vyf tot agt kampe per trop. Vinnige multikamp-wisselbeweidingstelsels.

STAP 5

Besluit op ’n russtelsel om die veld se langtermynvolhoubaarheid tot die maksimum te benut. Wanneer veld bewei word, moet die beweiding daarvan die diere se produksie bevoordeel.

Wanneer die diere onttrek word, moet die moontlike “skade” wat tydens beweiding veroorsaak is, ten volle herstel word voor die volgende beweiding.

Een van die beste praktyke is om veld van tyd tot tyd kans te gee om vir minstens ’n volle groeiseisoen te rus om die groeikrag daarvan ten volle te herstel.

Louis du Pisani

Dr. Louis du Pisani is ’n onafhanklike landboukonsultant wat konsultasiedienste en opleiding aanbied in vee-, veld- en geldbestuur. E-pos: Ldupisani@gmail.com