Oor die jare het Manie al geleer dat daar altyd diegene sal wees wat dink die nasionale oesskatting is te hoog of te laag op ’n gegewe tyd.

Dan word dit gewoonlik afgemaak as iemand wat die pryse probeer op- of afpraat. Nogtans voel dit of vanjaar se verskil in menings, veral ten opsigte van die mielie-oes, selfs groter as ander jare is.

Terwyl die Oesskattingskomitee die afgelope vier maande die mielie-oes telkens opwaarts aangepas het en nou op ’n geraamde oes van 16,2 miljoen ton staan (6% hoër as verlede jaar se 15,4 miljoen ton) is daar optimiste wat glo dit behoort selfs hoër te wees.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom by die landbousakekamer Agbiz, se eie raming vir mielies is 16,7 miljoen ton.

Die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) raam dit selfs op 17 miljoen ton. Daarenteen is daar baie boere op voetsoolvlak wat meen die amptelike skatting is te hoog.

Kyk byvoorbeeld die gespreksgroep Basis-Diff se peiling waarin 47% van boere wat geantwoord het, sê hulle is slegter daaraan toe, teenoor 42% wat gedink het dit het beter gegaan as verlede jaar (sien berig op bl. 14).

Selfs so vroeg as Februarie het ’n vlugopname oor ’n deel van Noordwes en die Noordwes-Vrystaat getoon dat 60% van die aangeplante mielies benadeel is deur versuipskade en dat boere se opbrengspotensiaal met minstens 40-50% af was.

Dit was weliswaar baie vroeg in die seisoen en net ’n oorsigtelike verslag, maar nogtans het dit op ernstiger skade gedui as wat algemeen gedink is. Daar was toe gemeen dat meer as 50% van die Noordwes-Vrystaat se mielieoppervlakte deur ’n oormaat reën benadeel is.

Boere wat tussen hul gewasse in die lande beweeg, het ook gesê die skade was erger as wat hulle gedink het. Die mielies het nie goed bestuif nie en al lyk die plante op die oog af goed, is die koppe nie vol nie, het Jurg Becker, boer van Reitz, gesê.

Alles klink baie oortuigend, maar dan moet Manie in dieselfde asem noem dat daar oor jare nog baie min rede was om die komitee se skattings in twyfel te trek.

Die komitee word só saamgestel dat niemand wat ’n belang in die koop of verkoop van graan by die komitee betrokke is nie. Selfs internasionaal word Suid-Afrika se statistieke oor gewasproduksie as van hoogstaande gehalte beskou.

Dr. Justin Choe, graanontleder van die Amerikaanse departement van landbou, het vroeër vanjaar gesê die Suid-Afrikaanse oesskattings is gegrond op lugopnames en meer gevorderde tegnologie as wat in die meeste lande gebruik word.

Daarby word die finale oesskattings in Suid-Afrika vergelyk met werklike graanlewerings by silo’s wat die finale skattings baie betroubaar maak.

Om sy siening te steun, kan ’n mens maar net kyk na die komitee se rekord oor 22 jaar. Sedert 2012 was daar nog nooit meer as ’n afwyking van 5% tussen die finale skatting en die finale lewering van die oes nie. Trouens, sedert 1998 was daar skaars vyf keer ’n groter afwyking as 5% weerskante toe.

In die gevalle oor die 22 jaar wat die oes oor- of onderskat was, was die finale skatting net in 26% van gevalle hoër as die finale oes en in 74% van die gevalle was die skatting laer as die finale oes.

Hierdie statistieke kan mens met nuwe oë na die onmin oor die skatting laat kyk. Maar, op die ou einde sal net die tyd seker leer!

Geen gehoor, geen veganisme?

Die hoogste bome vang die meeste wind, en ongelukkig maak die kleinste splintergroepe die meeste geraas. Maar laat Manie nie verstrengel raak in die woud van idiome nie.

Deur die riemtelegram hoor hy die wind is effens uit veganiste se seile gehaal. Ja, hulle wat die hardste lawaai maak oor vleisboere se bydrae tot klimaatsverandering en om die groot kosgroepe te beïnvloed om anders te dink oor aankope.

Onder jonger mense het veganisme ’n soort kenteken geword. Dit word glo in dieselfde asem genoem as “gym bros” of “craft beer nerds”. (Ai, net nog ’n kompartement waarin mense tog so lief is om hulself tuis te maak.)

Navorsers onder die jeug het dit reeds in 2017 geïdentifiseer as een van die top-neigings om dop te hou. Deur te beweer hulle is veganisties, meen hulle hulle wys die wêreld hulle is eties, gesond en omgewingsbewus.

In dié strewe, wend hulle hulself ook na Instagram en volg hulle veganistiese bekendes en bloggers, soos Deliciously Ella.

Manie ken haar nie, maar te oordeel na die naam moet hy dalk gaan loer of like. Daar is ’n groot verband tussen die groei van Instagram en die opkoms van veganisme.

Grafieke van die toename in gewildheid van albei lyk soos ’n spieëlbeeld van mekaar, en dit lyk of die platform baie doeltreffend gebruik is as ’n manier om resepte en ideologie te versprei. En toe breek Covid-19 aan.

Met die aanvanklike koopstormloop in die streng inperkingstyd het twee dinge opgeval: Geen toiletpapier nie en dolleë kosrakke, met die uitsondering van die rak met veganistiese kos!

Later het syfers van die Britse landbou-en-tuinbou-ontwikkelingsraad dit bevestig dat die verkoop van veganistiese produkte in Brittanje drasties gedaal het tydens die hoogtepunt van die inperking.

Rooivleisverkope het net mooi die teenoorgestelde neiging gevolg. Hulle skryf dit daaraan toe dat jong mense toe nie in groepe in kafeterias of restaurante kon eet nie.

Terwyl niemand oor hul skouer kon loer om te kyk wat hulle bestel het nie, het hulle maar weer lekker ingeklim onder die rooivleis. Voor jy dus kon sê: “Cheese!” en vir die voëltjie glimlag, kom die ware kleure uit.

Boere (en aankopers van supermarkte) moet dus twee keer dink voor hulle die vleis braai voor die bok geskiet is. Een veganistiese swaeltjie kwes nie die rooivleisbedryf nie.

Wie is Bettie Louw?

Oupa en Ouma sit op die stoep.

Oupa se selfoon maak biep-biep.

Oupa haal die selfoon uit sy sak om te kyk wie hom SMS.

Ouma vra: “Wie is dit?”

Oupa antwoord: “Bettie Louw.”

Ouma: “Ons ken nie ’n Bettie Louw nie!”

Oupa sit die foon terug in sy sak.

Weer biep-biep sy foon en Oupa sê: “Ai, hierdie Bettie Louw is lastig.”

Ouma sê: “Gee hier jou foon laat ek sien!” en Oupa oorhandig sy foon.

Ouma kyk na die foon en sê: “Dit is nie Bettie Louw nie, dit sê: Battery Low!”