Dit maak nie saak of jy skepties is oor die pandemie of dat jy nou al soveel ivermektien gedrink het dat jou vrou van jou borshare wolkouse kan brei nie: Ons weet nie hoeveel dae ons op aarde het nie.

Om daardie rede moet ’n mens seker maak jou boedelbeplanning is in orde, want as dit nié is nie, laat dit diegene wat agterbly met ’n reusegemors. Begin deur te verseker dat jy ’n testament het, én dat dit bygewerk is.

Dit is amper gevaarliker om ’n verouderde testament te hê as glad nie. Dalk het jy al lankal die erf op die dorp wat jy aan jou dogter bemaak het, verkoop.

Moet die eksekuteur daardie bemaking ignoreer of moet hy nou die erf gaan koop en vir jou dogter gee, of die waarde van die erf vir haar gee? Dit is logies dat ’n testament altyd sal sê wat gebeur as jy sterf.

Dit klink eenvoudig, maar jou bedoelings kan verskillend wees na gelang van of jy eerste sterf of die langslewende is. Mans is veral geneig om hul testament te skryf asof hulle voor hul gade sal sterf.

Ek het onlangs weer ’n testament gesien waar die plaas by die dood van die eerstesterwende reeds na die seun moes gaan. Skielik was pa sonder sy vrou én sonder sy plaas.

Neem ook die impak van jul huweliksgoederebedeling in ag. Twee jaar gelede het ’n vrou in haar testament alles aan haar suster nagelaat, maar vergeet dat die helfte van die onderneming ook aan haar behoort omdat sy binne gemeenskap van goedere getroud was.

As jul kinders nog in die huis saam met julle is, moet daar voorsiening gemaak word vir gesinsuitwissing.

Wat gebeur met die boedel as almal saam in ’n motorongeluk sterf? Die testament moet ook vir ’n paar ander aspekte voorsiening maak.

Die belangrikste daarvan is wie voogde van minderjarige kinders sal wees, en wie as trustees aangestel moet word as die trustakte daarvoor voorsiening maak.

Sommige mense bepaal ook in hul testament of hulle begrawe of veras wil word. Dit help egter niks as mense dit lees weke nadat jy reeds begrawe is. Dit bring my by nog ’n belangrike punt. Keer op keer sien jy hoe verrassings in testamente tot groot familieskeurings lei.

Bespreek die testament vooraf met almal. Maak seker dat die een wat die plaas erf, wel wil boer, en nie net alles te gelde gaan maak nie.

IS DIT UITVOERBAAR?

Dit gaan ook nie net oor wat in die testament staan nie. Die uitvoerbaarheid van die testament is noodsaaklik. Hoewel die woorde wat in testamente gebruik word, groot probleme kan skep vir die uitvoerbaarheid daarvan, is die grootste probleem gewoonlik geld.

Ek verwys nie hier na bankrot boedels nie, maar na die verskil tussen solvabiliteit en likiditeit – iemand wat bates het, en iemand wat geld het.

Op lang termyn behoort baie bates jou meer te help as baie geld, maar op kort termyn kan dit jou baie duur te staan kom. In boedels is dit ongelukkig onmoontlik om die probleem maklik reg te stel sonder om die bates in kontant om te skep.

Almal weet boedelveilings is waar die winskopies is. Dit gebeur selde dat die boedel die werklike waarde van die bates kan ontsluit.

Moenie dink die bietjie geld in die bankrekening is genoeg nie. Boedels benodig baie geld. Na gelang van hoe goed jy beplan, kan dit tot 30% van die waarde in kontant benodig.

Jy kan hiervoor voorsiening maak met geld in die bank of met ’n lewenspolis. Kry dus ’n ordentlike boedelbeplanner om te verseker dat jou wense reg uitgevoer word, dat koste tot die minimum beperk word en dat daar genoeg kontant in jou boedel is.

As die beplanner die CFP- of FPSA-sertifikasie agter sy naam het, behoort jy gerus te wees.

Jy gaan dalk nie deel van die Covid-19-statistieke word of deur ’n leeu opgevreet word nie, maar wat soos ’n paal bo water staan, is dat swak beplanning jou boedel en jou nalatenskap sal vernietig. Adv. Ronald King is hoof van openbare beleid en regulatoriese aangeleenthede by PSG.

NAVRAE: E-pos: Ronald.King@psg.co.za