Mense wat nie beplan nie, beplan om te misluk. Sonder beplanning is dit onmoontlik om finansiële welvaart te bereik. Finansiële beplanning begin dus met ’n begroting. As jy nie weet wat jou inkomste en uitgawes is en dit balanseer nie, het jy geen beheer oor jou geldsake nie.

Tog is dit skrikwekkend hoe min mense werklik ’n begroting het. Elke maand word dit wat in die bank- rekening is, opgebruik, en die kredietkaart word gebruik om die tekorte aan te vul. Deur middel van ’n begroting kan ’n mens, huishouding en onderneming baie beter vir die toekoms beplan.

Dit maak dit ook makliker om te onderskei tussen wat jy graag wil hê, en wat jy werklik nodig het. ’n Begroting gee jou meer beheer oor jou geld en help jou om op jou doelwitte toegespits te wees. Hier volg ’n paar eienskappe van ’n goeie begroting.

DOELWIT

’n Begroting wat net jou geld tel, het nie veel waarde nie. Bepaal ’n doelwit en bou dan die begroting om daardie doelwit te bereik. Met spesifieke doelwitte is dit baie makliker om by die begroting te hou.

Die doelwit én die begroting kan ook soms verander word. As jy reeds baie skuld het, kan jou doelwit wees om die skuld binne die volgende twee jaar af te los, of dit kan wees om binne die volgende drie jaar ’n deposito vir ’n plaas bymekaar te maak. Enigiets is reg, solank dit jou doel is.

VOLLEDIG

Maak seker jy weet wat die omvang, bron en datum van jou inkomste is. As dit ’n wisselende inkomste, soos oeste of kommissie, is, moet die bedrae wat jy voorsien, konserwatief wees. Jou begroting moet op die konserwatiewe vlakke klop, en die res behoort ’n bonus te wees.

Maak seker jy skryf ál jou uitgawes neer. Niks verongeluk ’n begroting so vinnig as ’n uitgawe wat nagelaat is nie.

SPAAR EERS

Die reël is dat jy uitgee wat jy oor het nadat jy gespaar het, en nie dat jy spaar wat jy oor het nadat jy reeds uitgegee het nie. Begin dus met jou besparing vir ongeskiktheid, aftrede en die dood van jou gade.

As jy vroeg begin, neem dit 20% van jou inkomste in beslag, en ná 40 is dit reeds 50%. Wanneer jy ’n salarisverhoging kry of die oes groter is as verwag, spaar eers voor jy die ekstra inkomste uitgee.

BUIGSAAM

Moenie ’n begroting opstel en dit dan ignoreer nie. Besef egter ook dat die inkomste en uitgawes nie altyd beheer kan word nie. As brandstof een maand te veel kos, moet jy kan aanpas en dalk minder gaan uiteet.

DIE ONVOORSIENE

Aanvaar dinge gaan gebeur waarvoor jy nie beplan het nie. Maak dus voorsiening vir ’n noodfonds. As jy jou noodfonds opgebou het tot minstens drie maande se uitgawes, kan jy begin om dit vir ander doeleindes te gebruik.

Dit mag egter nie ’n vaste uitgawe wees nie, maar eerder vir die verhoging van ’n paaiement op skuld. Die rede is dat jy dalk oornag jou noodfonds kan opgebruik en dit dan van voor af moet aanvul.

NUTTIGE METODES

Koevertjies

As dit vir jou moeilik is om by jou begroting te bly, kan die koevertjiestelsel aanbeveel word. Elke uitgawe se geld vir die maand word in ’n koevertjie geplaas. Só sien jy presies hoeveel beskikbaar is en ook wanneer dit begin opraak. Dit sal baie sigbaar wees as jy geld uit ander koevertjies begin “steel”. Die visuele impak hiervan help om besteding ernstig in te kort.

Prioritiseer

Wanneer iets verkeerd loop met jou inkomste, veral as dit ’n wisselende inkomste is, is dit noodsaaklik om dadelik uitgawes in te kort. Baie mense maak die fout om vir té lank hul lewenstyl te probeer handhaaf voor hulle begin inkort. Hoe vinniger dit egter gedoen word, hoe minder is die skade.

Om dít te kan doen, moet jy jou uitgawes prioritiseer. Besluit op ’n jaarlikse grondslag watter uitgawes jy dadelik sal besnoei as jy dalk ’n inkomstestroom verloor. Dit is geensins maklik nie, maar baie nodig. Adv. Ronald King is hoof van strategiese navorsing by PSG.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.