Die opperste kampioen-Angusbul en -Anguskoei in die land is onlangs in die Angustelersgenootskap se nasionale kampioenskappe op die Swartlandskou op Moorreesburg aangewys. Albei is in Moorreesburg geteel en hulle is ook as die opperste kampioen- manlike en vroulike dier op die skou aangewys.

Mnre. Jannie Kotzé van die Angusstoetery De Panne het die opperste kampioen-Angusbul, De Panne Locomotive, ingeskryf, terwyl mnr. Jaco Smit van die Angusstoetery Black Mamba die opperste kampioen-Anguskoei, Black Mamba Nelene, geteel het.

Mnr. Lee Wilson, ’n interras-beoordelaar wat saam met sy vrou deur Taurus Evolution van Kanada vir die nasionale Angus-kampioenskappe na Suid-Afrika gebring is, meen dit is een van die bes georganiseerde skoue wat hulle nog bygewoon het. “Ons het al skoue reg oor die wêreld op vyf vastelande bygewoon en julle het hier ’n wêreldklas-geleentheid aanmekaargeslaan.”

Wilson se vrou, Dawn, ook ’n interras-beoordelaar, meen die beeste wat op die skou te siene was, hoef geensins terug te staan vir enige ander diere ter wêreld nie. “Die genetiese eienskappe wat ons in die Angusbeeste gesien het, was fenomenaal. Locomotive sal in enige ring ter wêreld ’n baie moeilike bul wees om te klop.”

Mnr. PJ Butler, die Suid-Afrikaanse interras-beoordelaar wat al bykans ’n dekade in die Amerikaanse beesbedryf sy tande slyp, is deur die Swartlandskou na Suid-Afrika gebring om die ander beesrasse te beoordeel. “Ek het na die Angusse gekyk en dit is werklik die mooiste Angusse ter wêreld wat in hierdie ring geloop het.”

Tydens die interras-beoordeling het Dawn in haar afsluitingskommentaar al die telers gelukgewens met uitstekende genetiese gehalte wat hulle ten toon gestel het. “Ek weet dit gaan moeilik hier by julle en op sommige plekke is dit bitter droog. Die diere wat ek egter hier voor my sien, is ’n getuigskrif van ’n baie gesonde bedryf. Hierdie beeste is so goed soos wat beeste kan wees.”

Hou die Landbouweekblad dop vir Wayne Southwood se skoufoto’s van al die beesrasse wat op die Swartlandskou beoordeel is, asook Johan Coetsee se foto’s van die skaapkompetisie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.