Dié skou sal die leemte te vul wat deur die Pretoriaskou en Randse Paasskou gelaat is.

Dié reuse-veeskou gaan in die binnenshuise skousentrum, die Dome, gehou word waar bouwerk aan bykomende stalle reeds begin het om al vanjaar 1 200 stalle gereed te hê. Dit kan na behoefte verder uitgebrei word.

Die Pretoriaskou is ’n paar jaar gelede gestaak, terwyl die Randse Paaskou reeds lankal sy vee-afdeling toegemaak het. Dit het ’n groot leemte gelaat vir ’n skou waaraan ’n groot aantal rasse kan deelneem, soos die Bloemskou in die Vrystaat en Royalskou in KwaZulu-Natal.

Die voortou vir die nuwe skou is geneem deur vyf Brahmantelers, mnre. Andries Marx, Jan Serfontein, Stephan Coetzee en Eugene Marais en adv. De Waal Nigrini. Hulle het aan Landbouweekblad gesê die eerste skou vind reeds van 2 tot 7 September 2019 plaas; naastenby die tydgleuf van die ou Pretoriaskou.

Samesprekings word met beestelersgenootskappe gevoer en minstens 12 het reeds hul steun beloof, waaronder die Brahmangenootskap nadat 72% van sy lede ja gesê het dat die nasionale kampioenskap en veiling in die toekoms slegs op Parys gehou moet word. Dié genootskap skou sedert 2014 daar toe die Brahman-wêreldskou in die Dome aangebied is. Sedertdien hou die genootskap jaarliks ’n groot saamtrek in dié uitstalsentrum wat aan mnr. Dries Venter behoort. Hierdie saamtrek sal voortaan deel van die nuwe skou uitmaak.

Benewens elke ras se eie skou sal ’n interraskompetisie ook plaasvind. Net vleis- en dubbeldoelbeesrasse gaan vanjaar deelneem, maar vanaf volgende jaar sal dit ook kleinvee en melkrasse insluit.

’n Skoukomitee gaan binnekort gestig word waarop deelnemende rasse verteenwoordig sal word.

Marais onderhandel namens die koördineringskomitee met maatskappye vir borgskappe en die name van verskeie nasionale maatskappye gaan binnekort as borge bekend gemaak word. Belangstellendes kan hom by 082 672 0605 bel.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.