Dié eer het die telers, mnre. Ben  en Colin Raath, op die beoordeling van 17 van Suid-Afrika se beste bulle op die Bloemskou te beurt geval. Die Tuli-stoetery Donkerhoek behoort aan die Donkerhoek-boerderytrust van die broers Raath. Ben boer op die plaas Donkerhoek, Britstown, waar hy ’n gemengde boerdery met Tuli’s en Merino’s het.

Sy broer, Colin, boer met Tuli’s op die plaas Loskop, Tarkastad.DKH150263 Bush Wacker het die beste in hul ekstensiewe plaasgroeitoets gevaar. Hy het besonderse lengte, breedte en diepte met goeie bespiering, dra baie vleis en voldoen aan hul teelbeleid om enige kudde ’n hupstoot te gee, naamlik om funksioneel doeltreffende diere te teel wat vrugbaar, gehard en by uiterste toestande aangepas is.

Voor die aanwysing van die topbul was die beoordelaars se keuse van die ander topvyfdiere die Rooi Angus JK150018 van dr. Johan Kahts van die stoetery Wenspan, Scotts Valley, Viljoenskroon; die  South Devon BL150081 van mnr. John Miller, Cathcart; die Santa Gertrudis KVS150325 van mnr. Herman Kleynhans van Kroonstad; en die Drakensberger  GR150261 van mnr. Gawie Roux en sy seun, Frik, van Ventersburg.