Die “wetenskaplike metode” is die filosofie, beginsels en prosesse wat aangewend word om feite en kennis te bekom. Dit is ’n empiriese metodologie wat die ontwikkeling van die wetenskap oor die afgelope 250 jaar gekenmerk het.

Die wetenskaplike metode is dus ’n proses wat met verloop van jare verfyn is, maar dit is belangrik om te weet dat dit op filosofiese en logiese beginsels gegrond is. Dié denkpatrone is deur van die grootste denkers van die tye bevraagteken en getoets.

Dit is nie onmoontlik dat die filosofie verder verfyn kan word as nuwe logikastelsels ontwikkel word nie. Een van die hoekstene van die wetenskaplike metodologie is die beginsel van “vervalsbaarheid” (falsifiability), wat deur die wetenskaplike filosoof Karl Popper (1902-1994) voorgestel is.

Hy het geglo dat ’n teorie of hipotese nooit waar bewys kan word, maar dat dit net onwaar bewys kan word. Byvoorbeeld, die stelling dat alle swane wit is, kan nie bewys word nie, omdat dit onmoontlik is om elke lewende swaan in die wêreld te ondersoek. Andersom, as daar bewys kan word dat net een swaan nie wit is nie, of wel swart is, is die stelling dat alle swane wit is, onwaar.

Proses nie uit die lug gegryp

Die wetenskaplike metode is gemik om sulke stellings of hipoteses onwaar te bewys deur talle eksperimente te doen. As die eksperimente afgehandel is, en die stelling kan nie onwaar bewys word nie, dan is daar ’n uitstekende waarskynlikheid dat die stelling wel waar is.

Op hierdie punt kan die wetenskaplike sy bevindinge in ’n wetenskaplike artikel beskryf, wat aan ’n wetenskaplike vaktydskrif vir publikasie voorgelê word. Die redaksie van die joernaal stuur die manuskrip anoniem aan drie tot vier spesialiste in die spesifieke kennisveld vir redigering en beoordeling. Net as hulle saamstem dat die werk reg gedoen is en die gevolgtrekkings reg gemaak is, word die artikel gepubliseer. Dit stel dan die bevindinge oop vir enige ander wetenskaplike in daardie kennisveld om die werk en eksperimente te herhaal en verder te toets.

As daar na al hierdie heen en weer met die stelling/hipotese nie fout gevind kan word nie, begin die wetenskaplike wêreld van ’n “teorie” of “wetenskaplike feit/e” of “wetenskaplike kennis” te praat en te aanvaar. Soos wat nuwe ontdekkings gemaak word, word ouer teorieë weer getoets in die lig van die nuwe kennis.

Stellings en teorieë wat ondanks die nuwe ontdekkings as die waarheid bly staan, word dan deel van die “liggaam” van “wetenskaplike kennis” en kan as die waarheid beskou word. Só het Isaac Newton (1642-1726) geskryf: “As ek verder gesien het, was dit omdat ek op die skouers van reuse gestaan het.”

Hy word steeds vandag beskou as die invloedrykste wetenskaplike nóg, hoewel Einstein, Darwin en Hawking ook sterk aanspraak maak op dié prestasie.

Afleidings, gevolgtrekkings en die waarheid

Die waarnemings wat tydens eksperimente gemaak word, is baie belangrik om die eksperimentele doelstelling te bewys (of nie te bewys nie!). Versigtige waarneming van die natuur en die toepassing van baie twyfelsug oor wat eintlik gewaar word, gegewe die partydigheid van die waarnemer (die waarnemer of wetenskaplike gaan van die staanspoor uit dat hy/sy gaan partydig wees in dit wat hy/sy sien), om ’n hipotese daar te stel wat die waarnemings verduidelik, is aan die orde van die dag. Sodra die hipotese geformuleer word, word daar dan eksperimente gedoen, eintlik om die hipotese onwaar te bewys, soos Popper voorgestel het.

Hier kom die twee konsepte van “afleibare” (inductive) en “deduktiewe” (deductive) beredenering ter sprake. Met “afleibare” beredenering verskaf die waarnemings ’n mate van bewys van die gevolgtrekking. Die waarheid van ’n gevolgtrekking van ’n “afleibare redenasie” is ’n moontlikheid. Daarteenoor, die waarheid van ’n gevolgtrekking van ’n deduktiewe redenasie is ’n feit en verseker.

Om terug na die voorbeeld oor swane te gaan: Om 1 000 wit swane waar te neem en geen swart swane nie, dui op die “afleibare” gevolgtreking dat alle swane wit is. Daar is ’n waarskynlikheid daaraan gekoppel. Om een swart swaan te sien en af te neem met ’n kamera, lei tot ’n “deduktiewe” gevolgtrekking dat nie alle swane wit is nie. Dit is die waarheid, omdat dit werklik so is.

Albei gevolgtrekkings (“afleibaar” en “deduktief”) is deel van die wetenskap, en dit lewer ’n bydrae daartoe om wetenskaplike kennis te bekom. Wetenskaplikes probeer om hul stellings verkeerd te bewys. Eers as hulle dit nie kan doen nie, dink hulle dat hulle dalk iets wat die waarheid is, raakgeloop het.

Sosiale media en die bedreiging vir die wetenskap

Die samelewing het nog altyd waarde geheg aan die wetenskap. Dink net aan al die ensiklopedieë wat ons ouers aangeskaf het vanaf “reisende verkoopsmense”. Die ongelooflike tegnologiese vordering wat vanaf die begin van die 19de eeu gemaak is, is verstommend. Dink maar net aan die binnebrandenjin, vliegtuie, die beskikbaarheid van elektrisiteit, radio en televisie, mense wat op die maan geloop het, en die algemeenheid van rekenaars om die waarde van wetenskap te waardeer.

Die versnelling van ontwikkeling is grootliks te danke aan groot beleggings wat deur regerings gemaak is in openbare instellings om die wetenskap te bevorder. Met die ontwikkeling van die kuberruimte is dit nou moontlik om inligting en kennis baie maklik te versprei en dit word ook deesdae vanselfsprekend aanvaar.

Die ontwikkeling van sosiale media en die wonderlike tegnologie van vinnige en wye kommunikasie het ongelukkig ’n bedreiging geword vir die vertroue wat die samelewing in die wetenskap het. Enigiemand kan stellings gebaseer op selektiewe waarnemings maak en dit op ’n wye reeks sosialemediaplatforms bekend stel. Dit gebeur sonder dat ’n streng, goed deurdagte proses van die wetenskaplike metode gevolg word.

’n Deel van die “elegansie” van die wetenskaplike metode is die proses en die vorm van ’n gepubliseerde wetenskaplike artikel. Daarin word die eksperimente deeglik beskryf wat dit moontlik maak om dit in gekontroleerde toestande te herhaal. Die “feite” op sosiale media word bitter selde saam met die metodes beskryf, maar dit word as die “waarheid” beskou.

Dit verwater die waarde van werklike wetenskaplike feite omdat die “ongetoetste” menings dieselfde waarde gegee word as wetenskaplik getoetste feite. Ongetoetste menings word in die meeste gevalle gebruik om ’n noue siening of voorkeur te bevorder, gewoonlik vir geldelike of geestelike belang.

Daarteenoor is ’n wetenskaplik nagevorste feit in die meeste gevalle baie betroubaar. Dink aan twee van die grootste teorieë vandag, wat nou as omtrent heeltemal feitlik beskou word: Die teorie van evolusie, soos deur Darwin voorgestel in 1858, en Einstein se algemene teorie van relatiwiteit wat in 1916 gepubliseer is. Albei word omtrent daagliks met meer en meer gesofistikeerde toerusting getoets.

Elke nou en dan is daar ’n roering in die wetenskaplike wêreld as iemand dink hulle het iets verkeerd bewys, maar kort daarna word daar weer bevestig dat die oorspronklike bevindinge reg is. Op 10 April 2019 is die eerste foto van ’n “swart kolk” bekend gestel, iets wat Einstein se teorie jare gelede voorspel het. Einstein se gevolgtrekking (eintlik voorspelling) was grootliks “afleibaar”, die onlangse foto is duidelik deduktief! Albei ondersteun mekaar en word vandag as die waarheid beskou.

Die “liggaam” van wetenskaplike kennis is die waardevolste juweel in die kroon van die mensdom. Dít, en die metodes van hoe dit bekom is, moet bewaar en waardeer word, sodat die mensdom verder kan vorder om die kwessies van die moderne tyd te oorkom. Die erodering van die waarde van wetenskaplike kennis, veral deur belangegroepe wat hulle eie enge belange volg, is nie goed vir die samelewing nie. Alleenlik die “wetenskaplike metode” bestaan uit goedgegronde beginsels wat ons in die toekoms kan lei. 

Mnr. Andrew Bennett is ’n entomoloog en het die afgelope 20 jaar omvangryke werk op GM-gewasse gedoen. Hy het ’n besondere belangstelling in biotegnologie en ander nuwe tegnologieë wat produktiwiteit en volhoubaarheid ondersteun. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid en die menings in hierdie artikel is sy eie. Raadpleeg ’n gekwalifiseerde landboukundige vir u persoonlike behoeftes.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.