Dié gesofistikeerde flitsligte en koplampe is ideaal vir gebruik op die plaas of in die werkswinkel. Vir kampeerders of fietsryers is dit ook die ideale beligting om soggens vroeg of saans die pad veilig te vind.

Dit is Ledlenser se eerste koplamp met pasgemaakte verstellingsopsies.

Danksy die toepassing kan ’n mens uit verskeie opsies kies en die koplamp daarvolgens instel. Die koplamp het onder meer ’n noodseinfunksie (SOS-ligsein), tydskakelaar en beligtingsopsies volgens intervalle. Op sy skerpste ligverstelling in die boost-modus, skyn die koplamp teen 1 000 lumen. In die power-modus is die lig 750 lumen sterk. Die koplamp kan ook ’n rooi, groen of blou lig uitstraal.

Met voorafingestelde ligverstellings kan die koplamp se lig vinnig via jou slimfoon ingestel word sonder om die koplamp af te haal. Tot soveel as ses profiele kan vir elke koplamp ingestel word. Dit is nuttig wanneer die koplamp deur verskillende mense of in verskillende toestande gebruik word.

Die tydskakelaar-funksie kan ingespan word om die lamp op spesifieke tye aan en af te skakel. Die slow-dim-opsie maak dit byvoorbeeld die ideale klanklose wekker as die lamp aanskakel en al hoe helderder skyn as dit tyd is om op te staan. Dieselfde funksie kan ook omgekeerd ingespan word om die lamp ná ’n spesifieke tydperk af te skakel.

Die lens kan op verskillende afstande ingestel word. Danksy Optisense-tegnologie pas die lamp by die beskikbare lig aan en verstel outomaties die lamp se skerpheid indien dié opsie gekies word. Die lamp kan ook as ’n handflits gebruik word.

Op ’n verstelling van 750 lumen kan die lamp 300 m ver skyn, met ’n batterygebruiksduur van sowat vier uur. Teen ’n ligintensiteit van 300 lumen skyn die lamp 200 m ver en kan die battery agt uur hou. In die laagste ligverstelling kan die batterygebruiksduur tot 100 uur verleng word. Op die hoogste ligintensiteitsverstelling lewer die lamp 1 000 lumen.

PRYS: R2 445

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.