Boordvestiging in Limpopo en Mpumalanga se Laeveld, waar hoë-waardegewasse soos avokado’s en makadamias verbou word, is nie meer raaiwerk nie. Danksy hommeltuie en GPS- tegnologie is dit nou ’n presisieboerderypraktyk wat boere selfs in staat stel om berghange in vrugteboorde te omskep en op dié manier ál meer nuwe gebiede in produksie te bring.

Mnr. Lourens Jooste van Tzaneen boer saam met sy skoonpa, dr. Gidion Coertzen, en werk saam met sy swaer, die ekoloog mnr. Llewellyn Coertzen, in hul konsultasiebesigheid Node Ecology. Hulle het dit ten doel om boere te help om hul grond op ’n verantwoordelike manier voor te berei sodat hulle erosie voorkom en terselfdertyd die meeste van die natuurlike afvloei tydens reënbuie en storms opvang en opberg, veral waar daar teen hellings geboer word.

In hul eie boerdery is hulle besig om ’n nuwe boord van omtrent 10 ha teen só ’n helling te ontwikkel. Jooste sê dat hulle ’n hommeltuig inspan om lugfoto’s te neem wat dan gebruik word om ’n terreinmodel te skep. Hy het hierdie tegniek verfyn toe hy vroeër by die Allesbeste Boerdery, ook by Tzaneen, gewerk het.

Mnr. Edrean Ernst van Allesbeste sê die ontwikkeling van driedimensionele modelle vir boordvestiging verg nie buitensporige tegnologie en duur toerusting nie. By Allesbeste doen hulle dit sommer self. Hulle skroom egter nie om Llewellyn en Jooste se hulp in te roep waar die topografie en ekologie ’n bietjie ingewikkelder raak nie.

Ou vs. nuwe manier

“In die ou dae sou mens ’n stuk grond wat op die oog af nie té skuins is nie, kies om ’n avokadoboord te vestig. Jou rye is gemerk om min of meer van noord na suid te loop. Jou besproeiingsontwerper sou dan penne inslaan en vir jou verwysingspunte merk waarvolgens jy lyne getrek het.”

Ernst sê as dit darem ’n gemiddelde ontwerper was, het hy waarskynlik Google Earth gebruik om te sien hoe jou topografie lyk, en as hy bogemiddeld was, sou hy self kom meet en jou besproeiingstelsel ontwerp dat jou boord se hidrologie reg werk. “Ons wou ’n vinniger en beter manier kry om ons nuwe boorde te ontwikkel en was oortuig ons sou ’n beter boord kon ontwikkel as ons net ’n bietjie moeite doen.”

Hulle het ’n paar basiese dinge geïdentifiseer wat hulle nodig sou hê om boorde vinniger en beter uit te lê. Die eerste daarvan was ’n goeie lugfoto van die gebied waar die boord moet kom. Tweedens is akkurate topografiese data nodig. Met dié twee elemente kan mens ’n driedimensionele prentjie vorm van die gebied wat jy wil ontwikkel. “As jy ’n 3D-drukker het, kan jy dan selfs ’n skaalmodel van die gebied uitdruk, as jy wil.”

Hommeltuie
Die posisie van ’n vaste GPS-baken word met behulp van bestaande trigonometriese bakens, waarvan die presiese koördinate bekend is, bepaal. Dit help dat die swerwende ontvangstoestel tot op die sentimeter akkuraat kan wys waar bome, kontoerterrasse en ander verstellings aangebring moet word.
Hommeltuie
Verstellings aan die helling, asook terrasse en bankies, word met grondverskuiwings- toerusting gemaak. Boerderye soos Allesbeste Boerdery in Tzaneen het dit die moeite werd gevind om hul eie Bobcat-werktuig vir dié doel aan te koop. Node Ecology het ’n vennootskap met ’n grondverskuiwingskontrakteur waardeur hulle vir boere die verskuiwings kan doen.
Hommeltuie
Mnr. Emile Visser bring ’n nommer op een van die paaltjies aan wat die posisie van ’n nuwe avokadoboom verteenwoordig. Daardie nommer verteenwoordig ’n ruitverwysing wat die boom se posisie tot op die sentimeter akkuraat aandui.

Terreinmodel

Die lugfoto wat vir die ontwikkeling van die terreinmodel gebruik word, word met ’n hommeltuig geneem. Dit hoef nie die soort te wees waarmee wêreldmoondhede op mekaar spioeneer nie. Ernst sê die een wat hulle gebruik, het op ’n Vadersdagpromosie skaars meer as R6 000 gekos.

Hulle het die monteerstuk wat gemaak is om ’n GoPro-aksiekamera vas te hou verwyder en ’n gewone digitale mik-en-drukkamera op rubbermonteerstukkies vasgemaak. Aksiekameras se lense is te wyd en vervorm die foto’s te veel. “Ons hoef nie die hommeltuig self te stuur nie. Ons programmeer ’n roosterplan met die rekenaar wat dit sestig meter hoog teen ses meter per sekonde bestuur terwyl die kamera foto’s neem,” sê Ernst.

Basismerkers waarvan presiese koördinate bekend is, word dan geïdentifiseer. Hierdie punte se posisie is akkuraat tot op die sentimeter danksy ’n RTK- (intydse kinematika) stelsel soos wat landmeters gebruik. Die hommeltuig word dus gelanseer en keer dan terug met ’n hele klomp foto’s wat met mekaar oorvleuel.

Legkaart vir beter visie

Hierdie foto’s word dan deur die rekenaar gerangskik om een groot prent te vorm van die gebied wat mens wil ontwikkel. Ernst beveel aan dat mens ’n sagtewareprogram gebruik wat die foto’s aanmekaarplak en die beeld so verstel dat jy alles net van bo af sien, met ander woorde nie die sykante ook nie.

Hy waarsku dat hierdie groot lugfoto dan belyn moet word met die vyf of meer basismerkers waarvan die presiese koördinate vroeër geïdentifiseer is. Dit is met al hierdie data dat ’n mens ’n digitale oppervlak- of terreinmodel skep. Op die oppervlakmodel sal bome en klippe wat nog op die grond is, ook op die model verskyn. Die terreinmodel is net die grond, verduidelik Ernst.

Dis nie sommer enige rekenaar wat so ’n magdom data kan verwerk nie. Hiervoor huur Ernst virtuele verwerkingskapasiteit by Amazon. Dit is soos ’n aanlyn rekenaar waarop jou sagteware gelaai word en wat jy dan soos jou eie gebruik. “Ek het aanvanklik gedink ek sal my kantoorrekenaar gebruik, maar nadat ek al die data gelaai het, het die program gesê dit gaan sowat twee weke duur om dit te verwerk. Mens huur die Amazonrekenaar per uur en dit duur maar so 15 minute om ’n verhewe model (elevation) en ortofoto te skep. Die hele proses kos mens sowat R200. Jy moet net ’n vinnige datalyn hê.”

Hommeltuie
’n 3D-foto van ’n boord wat op skuins terrein was waar Allesbeste genoodsaak is om terrasse te bou. Die model is gebou nadat die terrasse gemaak is, sodat hulle kon kontroleer of die beplanning strook met die uitwerking op onder meer waterafvloei.
Hommeltuie
Mnr. Lourens Jooste dra sy Node Ecology-hoed en maak seker van een van die punte wat met die swerwende GPS-ontvangstoestel uitgemerk is.
Hommeltuie
Mnr. Emile Visser en sy span berei die grond voor vir ’n nuwe avokadoboord op die plaas van dr. Gidion Coertzen van Tzaneen.

Terug aarde toe

Met hierdie inligting tot jou beskikking kan mens dan sien hoe water gaan vloei en waar en of jy verstellings aan die grondoppervlak wil maak met grondverskuiwingsmasjinerie. Dit is in hierdie stadium dat ’n mens grondtipes en rylengtes in ag moet neem wanneer jy jou boord beplan. Llewellyn en Jooste konsentreer ook baie op mikroklimate, grondlewe en die impak wat dit op vrugtebome kan hê. “Ons probleem is om vas te stel hoe die aarde op daardie spesifieke gebied funksioneer, hoe die water en lug vloei. Ons moet ons boorde só ontwikkel dat ons saam met die aarde werk en nie daarteen nie,” sê Jooste.

Ernst verduidelik dat hulle al in die verlede ervaar het dat daar kolle klei en sandgrond in dieselfde boord voorkom en dat mens dan ’n situasie het waar jy die een oorbesproei of die ander onderbesproei as hulle op dieselfde waterlyn lê. Terwyl die besproeiingsontwerper ’n gepaste stelsel ontwerp, word die grond voorberei. Reënwatervloei word bestuur dat dit nie erosieslote spoel of in die boord staan nie, maar wel alles na een punt vloei waar dit opgeberg kan word.

Saam met die boordontwikkeling kom die ekologie. Op hul eie boerdery gaan Jooste en Gidion die afvloei alles na ’n natuurlike vleiland kanaliseer en water uit ’n ander opgaardam op hul grond met sonkrag na ’n reservoir hoog teen die berghang pomp, van waar al die boorde met behulp van gravistasie besproei kan word.

Deur vooraf klein termometers op strategiese plekke teen verskillende hoogtes in die nuwe boordontwikkeling te plaas, kan Llewellyn ’n aanduiding van die heersende mikroklimate kry. Deur te verstaan hoe die landskap die mikroklimate beïnvloed, kan hulle die landskap, waar nodig, verstel om ook die mikroklimate te bestuur.

Node Ecology sal boere ook raad gee oor die beste dekgewasse vir hul boorde en hoe om bye en voëllewe te bestuur; selfs waar om weerstasies te plaas vir akkurate lesings. “Ons wil boorde van die begin so ekologies vriendelik as moontlik ontwikkel sodat die boer die optimale voordeel uit sy boordontwerp kry,” verduidelik Jooste.

Elkeen op sy plek

Nadat verstellings gemaak, die terrasse en bankies gebou en paaie aangebring is, word die GPS-stelsel weer uitgeneem veld toe om elke boom se plek te merk. By Gidion en Jooste is dit mnr. Emile Visser en sy span wat ’n paaltjie inslaan op elke boom se merk. RTK-tegnologie word weer ingespan om seker te maak elke boom staan tot op die sentimeter presies waar dit hoort. Op hellings van 15 grade en minder word bome op bankies of ryriwwe geplant, maar vir steiler hellings, tot hoogstens 75 grade, word daar terrasse op die kontoerlyne gebou.

As ’n boord van die begin af reg uitgelê is om bome die beste te bied wat betref watervloei, wind en mikroklimaat, kan mens konsentreer op die dinge wat werklik saak maak, sê Jooste. “Dan kan mens die mikrolewe in jou grond bestuur, pleks dat jy die hele tyd teen die natuur baklei om jou bome staande te hou.”

Navrae: Mnr. Lourens Jooste, e-pos: lourens@nodeecology.com

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.