Mnr. Edrean Ernst van die Allesbeste-boerdery het op die onlangse Maluma-simposium op Tzaneen vertel hoe hy die ideale oplossing vir hul boerdery se data-insameling en -verwerking gekry het, terwyl hy eintlik beoog het om juis só ’n program te laat skryf.

Hy het gesê data-insameling en -verwerking is ’n daaglikse kwessie vir alle boere – van oesinsameling tot die bestuur van spuitprogramme. “Dit maak nie saak wat ons doen nie, ons is voortdurend besig om data bymekaar te maak. Meestal word die inligting op allerlei maniere vasgevang, op ’n stuk papier of agterop ’n sigaretboksie geskryf. As jy gelukkig is, word dit later iewers in ’n stelsel opgeneem. As jy iemand het wat weet wat hy doen, kan dit uiteindelik in ’n grafiek vasgevang word.”

Dis gewoonlik die laaste sien van sulke data . . . “Ons moes ’n manier kry om dinge beter te doen.” Die oogmerk was om die potensiaal vir menslike foute so ver as moontlik uit te skakel deur ’n stelsel te skep waar die persoon wat die data aanvanklik opneem, die laaste menslike skakel in die ketting is. Verwerkte data moes ook vinniger beskikbaar wees, en nie eers ’n dag of twee later, nadat iemand dit met die hand in ’n rekenaarstelsel ingesleutel het nie.

Allesbeste wou sy eie programmeerder inspan om só ’n stelsel te ontwikkel, maar dit sou te veel tyd in beslag neem. ’n Soektog op die web het Edrean gelei na ’n toepassing, Fulcrum, wat ’n mens toelaat om vorms op jou slimfoon of tablet op te stel vir die data wat jy wil insleutel. Verskeie ander gebruikers kan dan tot jou databasis bydra deur bloot op hul slimtoestelle aan te meld en die vorms wat jy geskep het, in te vul. “Dis baie maklik om die vorm op te stel. Jy kan sê wat jy waar wil hê en hoe die data ingesleutel word, hetsy dit ’n keuseknoppie is, of ’n teksgedeelte wat ingevul moet word. Jy kan selfs vir die toepassing aandui om ’n GPS-merk te bêre van die plek waar die data ingesleutel is.”

Die data is onmiddellik beskikbaar en bestuursbesluite is dadelik moontlik, sonder om te wag dat iemand dit op ’n sigblad insleutel. Allesbeste benut dit met groot vrug in sy daaglikse boerderybestuur. Een vorm word byvoorbeeld gebruik om te kyk hoe vinnig sy planttoerusting in die veld werk en hoeveel brandstof dit verbruik om ’n sekere hoeveelheid werk te verrig.

Elke werker of toesighouer wat data moet opneem, kry sy eie rekening op die toepassing, wat aan die hoofrekening gekoppel is. Hy of sy meld dus voor ’n taak op die stelsel aan en sleutel al die data op daardie taak se vorm in. As daar nie ’n dataverbinding in die veld beskikbaar is nie, sal dit op die toestel gebêre word en dadelik na die sentrale databasis oplaai sodra ’n verbinding beskikbaar is. “Jy kan dit dan op ’n Excel-sigblad of ’n verskeidenheid bestuursprogramme intrek.”

“Dit kos my skaars ’n halfuur om ’n vorm vir ’n spesifieke taak op te stel en vir my werkers in die veld om data te begin insleutel,” sê Edrean se broer, Zander, wat aan die hoof van die boerdery staan. “Ek is nie ’n tegniese persoon nie, en ek kry dit maklik reg.”

Ná tien jaar op die plaas sê Zander hy is beïndruk met hoe gemaklik sy werkers deesdae met tegnologie soos slimfone is om data op te neem. “Selfs vyf jaar gelede was dit nog ’n stryd om mense so ver te kry om met slimtoestelle te werk. Deesdae is selfs die skoolverlaters wat tydelik in oestyd kom werk, rekenaargeletterd.”

Fulcrum,
Bron: https://fulcrumapp.Com/tour/

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.