Dit beteken boere moet weer mooi gaan kyk na die tipe spuitpunte op hul spuite en nuwe tegnologie ondersoek om bespuitingsdoeltreffendheid te verhoog. 

Dít was die raad van mnr. Marius Ras, bemarkingshoof van die landbouwerktuigmaatskappy Rovic & Leers, tydens ’n proefplaasgeleentheid op Winterton. “Indien die verkeerde spuitpunte gebruik word, gaan daar probleme met die verspreiding van die produk en die druppelgrootte wees, en meer van die middel gaan nodig wees. Daarom moet boere heel voor begin by die korrekte seleksie van druppelgrootte.”

Die keuse van watter spuitstuk om te gebruik, sal afhang van die tipe toepassing van die middel wat gespuit word, het Ras gesê. Spuitpunte wat ’n platwaaier-spuitpatroon lewer, word steeds gebruik. Daar is egter ook ander spuitpunte met ingeboude tegnologie, soos dubbeluitlaat-platwaaierspuitpunte wat in twee rigtings spuit en luginduksie- of venturiespuitpunte waar lug in die spuitpunt ingetrek word en met die spuitmengsel meng om groter druppels te lewer.

“Die gewone platwaaierspuitpunte lewer druppelgroottes van 250 mikron tot 350 mikron, terwyl laewegdrywing-platwaaierspuitpunte druppels van 350 mikron tot 450 mikron lewer. Die induksie-platwaaierspuitpunte se druppelgrootte sal uit die aard van hul werking nóg groter wees teen sowat 600 mikron tot 800 mikron en wegdrywing verder beperk.

“Hierdie spuitpunte kan egter nie vir alle bespuitingsbehoeftes gebruik word nie. Boere moet seker maak dat hulle die regte spuitpunt vir die regte toepassing gebruik,” het Ras gesê. In die geval waar swam-, insek of onkruiddoder teen ’n hoë druk gespuit word, kan gewone platwaaierspuitpunte gebruik word, asook in gevalle waar ’n sistemiese middel teen ’n laer druk toegedien moet word.

“Laewegdrywing-platwaaierspuitpunte word weer gebruik waar na-opkoms-breë-spektrum-onkruiddoder en blaarvoeding toegedien word. Induksie-platwaaierspuitpunte word hoofsaaklik gebruik vir vooropkomsonkruiddoder of sistemiese middels waar wegdrywing beperk moet word.” Die belangrikste faktore om in ag te neem om bespuiting so doeltreffend moontlik te maak, sluit die druk, die grondspoed van die spuit, die waterinhoud en die kragaftakkerspoed in.

“Die mees bepalende aspek is egter die hoogte van die spuitbalk in konvensionele bespuitingstoestande. ’n Verskil van 500 mm tot 900 mm in spuitbalkhoogte kan tot ’n 40%-verlies in toediening lei, wat doeltreffendheid ’n ernstige knou sal gee. Onthou egter ook dat die hoogte grootliks afhang van die spuithoek van die spuitpunte. Dit geld ook hoogloopspuite, waar ’n té hoë spuitbalk tot die verkeerde oorvleueling sal lei. Om die beste bedekking te verkry, moet die spuitpunte se spuitpatrone met 40% tot 50% oorvleuel,” het Ras gesê.

Die gebruik van adjuvante om onder meer druppelgrootte te verbeter en wegdrywing te voorkom, moet ook in gedagte gehou word, het hy gesê. “Om verliese te voorkom, is beter toediening en minder wegdrywing die wagwoorde. Daarom is nuwe tegnologie ook daarop gemik om toedieningsdoeltreffendheid te verbter. Adjuvante wat fyner druppels byvoorbeeld groter maak, is só ontwerp dat hulle nie groot druppels sal groter maak en dus doeltreffendheid prysgee nie. Deur die regte adjuvant by jou spuitmengsel te voeg, kan die druppel se lewensduur voor dit verdamp, ook verleng word.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.