Die Suid-Afrikaanse landbou se produktiwiteit sal ál meer moet verbeter weens die wêreldwye wedywering om landbouprodukte kostedoeltreffender te produseer. Mnr. Carl-Albrecht Bartmer, voorsitter van die Duitse Landbougenootskap, wat onlangs die reuselandbouskou Agritechnica in Hannover, Duitsland, aangebied het, sê dit is ’n voorvereiste dat ekonomiese sukses in harmonie met skaars hulpbronne en die omgewing moet plaasvind.

Die toekomstige winsgewendheid van produksie gaan toenemend ’n faktor van doeltreffende kostebesparings en verhoogde produktiwiteit wees. Moenie op langer termyn op hoër pryse en ’n swak rand alleen reken om mededingend te bly nie. Die eerbewyse wat by die skou toegeken is (sien die Kassie ), sê iets van die rigting waarin landboutegnologie ontwikkel. Kyk daarna en besluit of jou toegang tot tegnologie en die gesofistikeerdheid van jou verskaffers in Suid-Afrika voldoende is sodat jy jou markte kan behou. Indien nie, moet jy daarop aandring dat verskaffers die jongste bewese tegnologie beskikbaar stel.

Die Duitse landbou-organisasie DLG-Agrifuture Insights het vroeër vanjaar inligting gepubliseer oor watter tegnologiese hulpmiddels boere in Europese lande gebruik om hul boerderye te digitaliseer, asook wat hul benadering tot digitalisering is (sien die Grafieke ). 

DLG-Agrifuture Insights het dié inligting vroeër vanjaar gepubliseer. Die organisasie het 900 telefoniese onderhoude gevoer (150 per land) met akkerbou-, melk- en varkprodusente. Dié grafiek wys byvoorbeeld dat 31% van die produsente met wie onderhoude gevoer is, wolktegnologie sien as ’n manier waarop hulle hul plase kan digitaliseer.
DLG-Agrifuture Insights het dié inligting vroeër vanjaar gepubliseer. Die organisasie het 900 telefoniese onderhoude gevoer (150 per land) met akkerbou-, melk- en varkprodusente. Dié grafiek wys byvoorbeeld dat 55% van dié produsente slimfone in hul boerderye gebruik.


Suid-Afrikaanse boere kan dié inligting as ’n riglyn gebruik om te bepaal in watter mate hulle reeds digitale tegnologie in hul boerderye gebruik om die produktiwiteit van hulpbronne en insette te optimaliseer en hoe hulle dit kan uitbrei. Suid-Afrikaanse boere voer in van en uit na die lande wat in die grafieke ter sprake is. Plaaslike produsente moet kennis neem van ontwikkelings daar omdat dit die toon gaan aangee vir winsgewendheid in die toekoms en plaaslike boere se mededingendheid.Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior landbou-ekonoom by Absa-Agribesigheid in Johannesburg.

Wenners

Hier volg ’n paar vernuwende produkte en dienste wat eerbewyse op die Agritechnica-landbouskou ingepalm het.

- ’n Stroperstelsel wat die instel van die dromspoed, konkaafgaping, dorsaktiwiteit en graangehalte optimaliseer.

- Toerusting wat stronke tydens die oes van kuilvoermielies vernietig om die oorwintering van stronkboorderpapies te voorkom.

- ’n Stelsel wat onervare operateurs bystaan om die werkstempo en brandstofdoeltreffendheid van trekkers en werktuie te verhoog.

- Kostebesparende, onbemande, wielaangedrewe planterbakrobotte (40 kg elk) wat saam groter, kragtiger trekkers en planters vervang.

- ’n Nuwe kamerastelsel wat outomaties die trekkergrondspoed en kragaftakkerspoed ooreenkomstig die grondsoort beheer om ’n egalige saadbed voor te berei.

- Monitors wat die toedieningstempo van elke spuitstuk ooreenkomstig die grondspoed onder die spuitstuk beheer. Só word die chemiese middels akkurater toegedien.

- Verhoogde stereoskopiese meganiese onkruidbestrydingstempo in rygewasse danksy ’n driedimensionele kamera op ’n beweegbare, hidroulies beheerde balk.

- ’n Kamerabeheerstelsel op skoffels en trekkers wat die skoffelskare se afstand vanaf die ry via die trekker se driepunt beheer en die werkspoed verhoog sonder om rye uit te skoffel.

- Met intydse ondersteuning deur middel van multimedia kan die fabriek tegnici bystaan om ingewikkelde masjinerie, soos ’n trekker, op die plaas te hersien of reg te maak en gevolglik hersteltyd verminder.

- Nuwe sagteware vir hommeltuie bepaal die oesskade wat deur haelstorms, oormatige reën, ryp en oorstromings veroorsaak word, akkurater as konvensionele metodes.

- Danksy ’n nuwe platform kan produsente data uitruil tussen masjinerie en sagteware van verskillende vervaardigers