Dié aankondiging is gemaak by die bekendstelling van die maatskappy se nuwe hoofkantoor in die Waterkant in Kaapstad se sentrale sakedeel. 

Die finansiële hupstoot is danksy ’n beleggingsooreenkoms met Paper Plane Ventures. Dit skuif Aerobotics se finansiering op van $2 miljoen tot $4,6 miljoen.

Aerobotics lewer aan boere stelsels om plae en siektes in vrugteboorde te bestuur deur gebruik te maak van kunsmatige intelligensie, asook hommeltuig- en satellietdata.

Mnr. James Paterson, uitvoerende hoof van Aerobotics, sê hulle is dankbaar vir die kapitaal wat Paper Plane Ventures in die maatskappy belê het en dat dié belegging gebruik sal word om die besigheid nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal te laat groei. 

Daar is ook aangekondig dat Aerobotics ’n nuwe hulpmiddel vir opbrengsbestuur ontwikkel. Hierdie hulpmiddel sal boere help om ingeligte besluit te neem oor hoe vrugte uitgedun moet word om die optimale opbrengs te verseker wanneer oestyd aanbreek. Dit sal aan die begin van vanjaar se groeiseisoen aan boere in Amerika beskikbaar gestel word. 

“Boere sukkel gewoonlik met die insameling van data voor opbrengsmonsters ontleed moet word,” sê me. Nasreen Patel, produksiehoof by Aerobotics. “Ons glo hierdie nuwe hulpmiddel sal boere help om akkurater inligting in te samel en sodoende beter ingeligte besluite te neem.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.