Prof. Serge Wich, leier van die Liverpool James Moores-universiteit se meestersprogram in wildbewaring en hommeltuig-tegnologie, meen die mate waartoe hommeltuie naatloos met ander faktore geïntegreer kan word, gaan die sleutel tot sukses wees.

“Die doeltreffendheid van bewaringsbestuur hang van drie faktore af, naamlik die monitering van diere se verspreiding en digtheid in ’n area, die kartering van grondbedekking en die verandering daarvan met verloop van tyd en laastens die mate waartoe teenstroping toegepas kan word.”

Hy was ’n spreker op die hommeltuigkonferensie wat by Elsenburg deur die Wes-Kaapse departement van landbou met die samewerking van die trust vir bedreigde natuurlewe (EWT) aangebied is.

“Om hierdie drie faktore doeltreffend toe te pas, kan daar verskeie sensors en kameras op hommeltuie aangebring word. Gewone kameras en videokameras, infrarooikameras en multi-spektrumkameras is net ’n paar van hierdie sensors.

“Hierdie gereedskap het die bewaringslandskap totaal verander. So byvoorbeeld kan onbestuurde brande baie beter bekamp en geblus word met die gebruik van infrarooi-beeldmateriaal van hommeltuie wat intyds aan personeel op die grond inligting verskaf van die ligging van smeulende materiaal. Daar kan dus onmiddellik opgetree word en hoërisikogebiede wat nie met die blote oog identifiseer sou word nie, kan nou geblus word,” meen Wich.

Sewe kwessies

Hommeltuie is dus instrumenteel tot ’n suksesvolle uitkoms in baie opsigte, maar dit is nie die altyd die volledige antwoord nie. Daar is sewe belangrike kwessies wat volgens Wich aangepak moet word om die proses te verbeter:

1. Daar is heelwat regulatoriese bepalings wat die die afstande wat met hommeltuie gewerk kan word, beperk. 

2. Verskillende lande se regulasies verskil terwyl ’n enkele bewaring-area oor al hierdie lande kan strek. Die gebrek aan eenvormigheid maak dit moeilik om sake te doen in sulke gebiede.

3. Die kwalifikasie-vereistes wêreldwyd vir ’n hommeltuigvlieënier is nog nie geharmoniseer nie en dit belemmer vertroue in die bedryf.

4. Vlugtye is steeds beperk, maar op hierdie stadium is die werkvloei dalk belangriker as om heeltyd in die lug te wees.

5. Data-analises moet meer geoutomatiseer wees om intyds inligting te verskaf op die grond.

6. Die vervoer van batterye is ’n kwessie, veral internasionaal.

7. Gebruikers moet realisties wees oor wat hommeltuie kan en nie kan vermag nie vergeleke met ander metodes van data-insameling.

“As hommeltuie met ander sensors en infrastruktuur geïntegreer word, bereik dit werklik goeie produktiwiteit. Dan is dit ’n waardevolle stuk gereedskap wat deel uitmaak van ’n bewaringstrategie.

“Ons moet ’n stelsel ontwerp waar die hommeltuie met die statiese sensors op die grond, die halsbande van gemerkte diere, die bewaarders in die veld en met ’n sentrale beheerkamer in kontak is om werklik die waarde uit die hommeltuie se beweeglikheid te put. Hommeltuie moet dus as deel van die wenformule gesien word en nie as die antwoord nie,” sê Wich.

Besoek www.conservationdrones.org of stuur e-pos aan Serge Wich by S.A.Wich@ljmu.ac.uk vir nog inligting.