Volgens Agri Oos-Kaap sal hommeltuie in die toekoms sonder twyfel ’n meer integrale deel van boerderybedrywighede wees.

“Al hoe meer boere gebruik hommeltuie om ’n vinnige oog oor hul boerderybedrywighede te gooi sonder om tyd te mors deur voet te slaan na afgeleë dele van die plaas,” sê die organisasie. Dit sluit besoeke aan grensdrade, vee, waterpunte en ander belangrike bedryfspunte in.

Mnr. Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê boere sal al hoe meer op tegnologie staatmaak weens stygende koste. “Arbeid in die landbou raak al hoe duurder en hommeltuie sal tot ’n groot mate boere in dié opsig bystaan, veral oor naweke en op openbare vakansiedae wanneer arbeidskoste vir oortyd nog hoër is, of wanneer arbeid nie beskikbaar is vir die boer nie.”

Mnr. Joe Ott, ’n bewaringsbestuurder op die private reservaat Riverdale naby Graaff-Reinet, gebruik al ’n jaar lank ’n hommeltuig en tot dusver was dit nog net voordelig vir hom. Sy navorsing het gou getoon dat die hommeltuig ’n groot verskil maak omdat belangrike inligting vinniger en teen ’n laer koste ingesamel word. Voorheen is baie tyd bestee om te voet na dele van die reservaat te loop vir inspeksies en monitering.

“Die gebruik van die hommeltuig het die werk met 50% verminder, wat my in staat stel om meer te doen in dieselfde tyd.”

Hy kan nou na spesifieke diere in ’n trop soek, of diere op onbegaanbare dele van die plaas opspoor. “Danksy die hommeltuig kan ons diere opspoor, erosie-areas uitken en die impak van beweiding baie doeltreffender identifiseer.” 

hommeltuie Oos-Kaap,
Mnr. Joe Ott van die plaas Riverdale naby Graaff-Reinet benut hommeltuig-tegnologie vir groter doeltreffendheid op die plaas. Foto: Verskaf

Rondloperhonde

Nog ’n boer, mnr. Chris Lee, gebruik sy hommeltuig op sy plaas Claremont naby Jansenville waar hy met Angora’s boer. Hy gebruik die hommeltuig hoofsaaklik om arbeidskoste op sy plaas van 6 800 ha te beperk.

“Baie maal wanneer ons al die vee bymekaar gejaag het, vind ons dat daar steeds diere vermis word. Pleks daarvan om waardevolle tyd te bestee deur terug te gaan om die diere in die veld te gaan soek, is dit nou makliker om die hommeltuig uit te stuur,” sê Lee.

Sy werkers kan dus voortgaan met hul werk, terwyl hy die diere gaan haal wanneer hulle opgespoor is. “Die eenvoudige vraag is: Wat is my tyd vir my werd?”

Hy gebruik ook die hommeltuig om rondloperhonde op sy plaas te bekamp aangesien hy naby die dorp woon. Hy kan nou die hommeltuig inspan om te sien of daar honde op sy plaas is. As daar is, kan hy hulle opspoor en só onnodige veeverliese voorkom.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.