Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Lugvaartowerheid onderrig wat deur video-oproepe behartig word, goedgekeur het. Die finale eksamen moet egter steeds in persoon by ’n lugvaart-eksamensentrum met die nodige akkreditasie afgelê word.

Mnr. Ian Melamed, ’n geakkrediteerde eksaminator van die Suid-Afrikaanse lugvaartowerheid vir hommeltuiglisensies, sê dis uitstekende nuus. “Deur tuisonderrig kan ons verseker dat ’n volgehoue stroom kommersiële hommeltuigvlieëniers in Suid-Afrika volwaardige kwalifikasies ontvang. Daar is veral ’n groot tekort aan hommeltuigvlieëniers in die sekuriteit-, landbou- en mynbousektor.”

Melamed het meer as 50 jaar ervaring in die lugvaartsektor en was die eerste Suid-Afrikaner wat ’n hommeltuiglisensie ontvang het.

Volgens me. Riëtte van der Walt, besturende direkteur van ProWings, ’n geakkrediteerde maatskappy wat opleiding vir hommeltuiglisensies aanbied, kos die kursus R8 000. Dit sluit die teoretiese en praktiese opleiding in. “Die teorie neem ’n week en geskied van ’n Maandag tot ’n Vrydag. Ná die inperkingstydperk sal studente een-een hul prakties afhandel saam met ’n instrukteur.” Die prakties kan in slegs drie dae afgehandel word, na gelang van die vaardigheidsvlak van die studente.

Die koste sluit nie die vereiste bykomende sertifisering, soos ’n mediese sertifikaat, ’n radio-gebruikslisensie en ander sertifisering in nie.

Kontak Riëtte van der Walt by riette@prowings.co.za of 064 505 5762 vir nog inligting.