Ander wil weer presies weet waar hulle is en hoe ver die eindbestemming is. Hierdie mense het amper altyd ’n GPS teen die voorruit, al ken hulle die pad goed.

Tracks4Africa se selfoontoepassing bied iets van albei wêrelde. Hoewel dit nie ’n GPS is nie, dui dit jou presiese ligging aan, al het jy nie ontvangs of sein nie. Dit gee nie afstandlesings nie, maar wys jou wel waar blyplekke, winkels, grensposte, besienswaardighede of brandstof is. Die meeste blyplekke se kontakbesonderhede is ook beskikbaar.

Tracks4Africa is bekend om sy deeglike kaarte, veral wat bruikbare agterpaaie en 4x4-roetes op afgeleë plekke betref. Met hierdie toepassing is ek al deur die modderige moerasse van die Moremi-wildreservaat en kruis en dwars deur die Savuti-park in Botswana en ek het altyd geweet presies waar ek is. Ek kon wonderlike veldpaadjies verken sonder om senuagtig te raak dat ek aan die verdwaal is.

’n Mens kan vinnig op die kaarte in- en uitzoem om groter of kleiner gedeeltes van die gebied te sien. Dit bied steeds hope avontuur en die gevoel dat jy ’n hardebaard-reisiger is, maar gee ook die gemoedsrus van ’n GPS. Al die gemerkte verblyfopsies is uiters nuttig wanneer jy in ’n onbekende omgewing rondry.

PRYS: Die toepassing kan gratis van Apple of Android se toepassingswinkels afgelaai word. Jy betaal egter om die kaarte af te laai. Kaarte van Suid-Afrika, Namibië en Botswana kos sowat R250 elk. 

NAVRAE: Web: tracks4africa.co.za, e-pos: sales@tracks4africa.co.za, 021 880 8660